Tuesday, 29 June 2021

DIE AVONTUUR VAN 'N KONSTANTE GEBEDSLEWE IN CHRISTUS

Ware gebed begin by die spontane ekspressie van my hart voor God, maar dit is maar net soos om jou bootjie in die rivier te loods.  Die krag en vloei van die rivier is die gebedslewe van Jesus self en hierdie bonatuurlike gebedslewe is die plan van God vir alle dissipels van Jesus.

Die verstommende waarheid van Galasiërs 2 vers 20 het ook betrekking op ons gebedslewe as dissipels van Jesus.  Ons "leef" nie meer nie maar Christus "leef" in ons.  Net so kan ons sê ek "bid" nie meer vanuit myself nie, maar Christus "bid" in my.

Die oproep tot volharding en waaksaamheid in gebed in die konteks van die primêre boodskap van die Nuwe Testament is 'n oproep om ook in gebed volledige uiting te gee aan die lewe van Christus in ons. 

"Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging." Kolossense 4:2

Die gebedslewe van Jesus is as't ware geïnstalleer in ons gees soos wat 'n sagteware program op 'n rekenaar geïnstalleer word en dan reg is vir gebruik.  Gaan deur die evangelies en let op na Jesus se lewe van gebed en intersessie.  Besef jy dat dit nou jou lewe is, want jy is in Hom en Hy ís jou lewe (Kol. 3:4)!

Alles wat ons in die Bybel lees oor gebed moet in hierdie konteks gesien en verstaan word.  Prakties beteken dit dat ek na die Vader gaan en bely dat ek dikwels nie weet wat en hoe om te bid nie, maar dat ek volle vertroue het dat die Heilige Gees die gebedslewe van Jesus in en deur my sal ontsluit. 

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romeine 8:26

Géé jouself vir so 'n lewe (Rom. 12:1) en aanskou dan hoe God begin om jou te neem na avonture in gebed wat jy nie eers sou kon droom om te realiseer vanuit jouself nie. 

"En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk." Efesiërs 3:20

Wednesday, 2 June 2021

"BEKLEE JOU MET CHRISTUS", NIE "STREEF OM DIE BESTE WEERGAWE VAN JOUSELF TE WEES" NIE!

God probeer nie om Adam te verbeter nie.  Ons is nuwe mense in Christus (2 Kor. 5:17) en daarom is dit belaglik vir ons as dissipels van Jesus om ons te onderwerp aan enige lering wat Adamsverbetering promoveer. 

Die ou mens (Adam) het gesterf "saam met Christus" en die nuwe mens leef vanuit 'n totaal nuwe bron, Christus in ons.  Ons natuurlike instink is om onsself te wil verbeter en juis daarom het ons die "vernuwing van denke" wat die Nuwe Testament van praat (Rom. 12:2) so dringend en voortdurend nodig. 

Ons moderne kultuur is deurdrenk met die sielkunde van die self en dit het die kerk binnegedring.  As ons ware verandering wil sien moet ons hierdie hele wêreld van die self vaarwel toeroep en ons identiteit in Christus met volle oorgawe omhels. Die Nuwe Testament praat van geestelike groei in terme van die "vergestalting van Christus" in ons.

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19

Die enigste manier wat Christus in ons vergestalt kan word, is wanneer ons in geloof ons hemelse posisie in Hom onvoorwaardelik aanvaar.  Vanuit daardie posisie kan ons dan die werke van die vlees "doodmaak" en "aflê" en ons daarna "beklee met" die persoon en karakter van Christus, ons ware identiteit as nuwe mense. 

"Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." Romeine 13:14

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kolossense 3:12

Ons ware identiteit in Christus is lig en liefde en ons word geroep om in die praktyk te wéés wat ons reeds ís in Hom.

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig." Efesiërs 5:8

"En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is." Kolossense 3:14

Monday, 31 May 2021

"MAAK DOOD EN LÊ AF", NIE "PROBEER JOU BES EN GOD DOEN DIE RES" NIE!

Die Nuwe Testament se benadering tot heiligmaking (heiliging/lewensverandering) is  radikaal anders as die algemene idees wat oningeligte dissipels en soms hele gemeentes dikwels handhaaf.  

Ons word nie geroep om net uit dankbaarheid, omdat ons sondes vergewe is, nou ons bes te probeer om beter mense te wees nie.  En dan te vertrou dat die Here ons darem net so 'n hupstootjie sal gee om dit bietjie makliker te maak vir ons nie.

Ons word eerder opgeroep om te besef dat ons reeds in Christus gesterf het vir die sonde (Rom. 6:2, 11) en dat ons in daardie oorwinning van Christus sondedade en sondepatrone kan "doodmaak" en "aflê".  Heiliging op aarde vind dus plaas vanuit 'n hemelse posisie en 'n stryd wat reeds deur Jesus gewen is (Kolossense 3:1-4).

"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is." Kolossense 3:5

"Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond." Kolossense 3:8

Hierdie soort heiligingstaal is egter  so vreemd vir ons as ons nog nooit werklik mooi opgelet het na die werkwoorde in die Nuwe Testament nie dat dit 'n groot kopskuif verg om dit jou eie te maak en heeltemal anders te begin dink oor hoe God regtig mense se lewens verander. 

Laat vaar geheel en al jou eie idees, populêre sieninge, motiveringsfoefies en sielkundige truuks wat so baie belowe, maar nooit langtermyn verandering kan bring nie.  Omhels daarenteen met jou hele hart en siel die Bybelse benadering van "dood vir die ou skepping" en "lewend vir die nuwe skepping" IN CHRISTUS!  Dit is die enigste vaste grond; die res is dryfsand.

Wednesday, 26 May 2021

HEILIGING BEGIN NIE OP AARDE NIE, DIT BEGIN IN DIE HEMEL

  Veranderde lewens in Bybelse terme begin altyd by 'n nuwe fokus.  Dit begin in die hemele waar ons nou-al "saam met Christus sit" (Efes. 2:6).

 In Kolossense 2 vers 20 sien ons die volgende verstommende stelling van Paulus: "waarom...asof julle nog in die wêreld lewe...".  Die ESV sê: "why, as if you were still alive in the world...".  Hy sê in effek: "Waarom onderwerp julle jul aan aardse benaderings tot heiliging (vormgodsdiens) as julle in werklikheid nie meer behoort aan hierdie aardse en gevalle skepping nie"?  En dan gaan hy aan in die volgende hoofstuk om hierdie dringende appél te maak op dissipels:

 "As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." Kolossense 3:1-2

 Verder aan in die hoofstuk begin hy om te praat oor die detail van heiliging, maar hy praat nooit in sy briewe oor die detail van heiliging (heiligmaking/veranderde lewens/transformasie) voordat hy nie seker gemaak het dat ons fokus geskuif het van die aardse na die hemelse nie.  Dit gaan dus nie oor 'n vergeefde Adam wat probeer om homself te verander nie, maar oor 'n nuwe mens in Christus wat leer om in geloof te leef vanuit die nuwe lewe in Christus.

 Is jy moeg vir al die mislukte pogings om te verander via vormgodsdiens en wettisisme (self-heiliging)?  Miskien is dit tyd om jou hele fokus te verskuif en met die oë van jou hart te sien dat God geen ander plan vir veranderde lewens het as Sy ewige plan "in Christus" nie.

 Gaan lees Kolossense 2 en 3 met aandag en vra die Here om jou oë oop te maak vir Sý meesterplan in Christus om mense, verhoudings, lewens, gemeentes en hele gemeenskappe te verander.

Wednesday, 19 May 2021

GEESTELIKE ROWERS

 'n Geestelike rower is iemand wat nie die genoegsaamheid van Christus vir sy eie lewe aanvaar nie, maar dan gaan hy verder en beroof ook ander mense van hulle vreugde in die volheid van Christus (Kol. 2:9-10).

"Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word." Kolossense 2:18-19

Paulus gee vir die gelowiges in Kolosse 'n opdrag om onder geen omstandighede toe te laat dat enigiemand hulle beroof van die heerlikheid wat 'n eenvoudige geloof in Jesus alleen (Jesus plus niks) bring nie.

"Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap."  1 Petrus 1:8

Die nederigheid waarvan daar in Kolossense 2 vers 18 gepraat word is natuurlik 'n valse nederigheid. In die konteks verwys dit veral na die godsdienstige houding wat dissipels wat staan op die vrymoedigheid waarmee ons God in Christus mag nader en die volheid wat ons in Hom het, as trots en arrogant beskou. Hierdie godsdienstiges voel dat hulle baie nederig is as hulle nie op die genoegsaamheid van die evangelie staan nie, maar eerder op selfvernedering en 'n mistiese en ongedefinieërde spiritualiteit wat fokus op engele en visioene.

Natuurlik moet ons bely dat ons niks in onsself is nie, maar in Christus hét ons die volheid ontvang.  Dit is vaste grond onder ons voete en ons hoef nie verskoning te vra daarvoor nie.  Die ware arrogantes is diegene wat trots is op hulle eie nederigheid en roem in hulle eie geestelikheid in plaas van op Jesus en Sý verlossingswerk.

"Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem." 1 Korinthiërs 1:31

Daar is geweldig baie geestelike intimidasie vandag. Moenie toelaat dat enigiemand jou intimideer en "ongeestelik" laat voel omdat jy staan op die eenvoud van geloof in Jesus nie (2 Kor. 11:2-3).  Vir seker moet ons nooit ophou om 'n dieper en dieper kennis van Jesus na te jaag nie (Filippense 3:7-10), maar dit bly geloof van begin tot einde; nie self-verbetering via mistisisme, ritualisme, wettisisme, askese (asceticism) of enige kombinasie van die vier nie. 

Tuesday, 18 May 2021

LAAT STAAN DIE SKADUWEE, DIE WERKLIKHEID IS HIER!

"Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus." Kolossense 2:16-17

Vormgodsdiens het 'n eindelose fassinering met skaduwees en uiterlike dinge.  Die wortel van hierdie probleem is waarskynlik die onvermoë om weg te kyk van jouself om die volkomenheid dan in Christus te vind.  Die boodskap van geloof alleen is te eenvoudig vir jou.  "Dit kan nie so ongekompliseerd wees nie!"

Jy bly besig met self-heiligingsprogramme en projekte om jou ervaring op standaard te bring.  Nog 'n ritueel, nog 'n liturgie, nog 'n metodiek; hou net aan probeer en een of ander tyd gaan jy geestelike vervulling en satisfaksie kry wanneer God uiteindelik tevrede is met jou diens aan Hom (godsdiens!).

Daarteenoor, die evangelie.  God het alles kant en klaar afgehandel in Sy Seun.  God is tevrede met Sy Seun. Sy Seun is die vervulling van alle skaduwees en tipes in die Ou Testament.  Wat bly oor?  Geloof.  Glo jy dit of glo jy dit nie? 

As jy werklik glo dat Jesus genoeg is en dat jy verenig is met Sý volheid en volmaaktheid (Kol. 2:9-10), sal al hierdie eksterne dinge van vormgodsdiens van jou afval soos herfsblare van 'n boom.  Dan eers sal jy begin beleef wat die beteken om God in "gees en waarheid" te aanbid (Joh. 4:23) en om deel te hê aan die volmaakte verhouding tussen die Vader en die Seun (Joh. 17:24; 1 Kor. 1:9).

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

Tuesday, 11 May 2021

GLO JY WAT JY GLO?!

Ek het 'n tannie gehad wat lief was om vir mense te vra: "glo jy wat jy glo"?  Daarmee wou sy jou dieper laat dink en jou, indien nodig, skuif van bloot intellektuele en gemakstoel geloofsoortuigings na 'n vaste vertroue in die evangelie wat in staat sou wees om storms te weerstaan en oorwinnend aan die ander kant uit te kom.

"Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging.  Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie."  Kolossense 2:6-8

Die gelowiges in Kolosse het begin om diep te gaan skep by ander fonteine van sogenaamde "wysheid" om hulle geloof in Jesus as't ware aan te vul.  Paulus vermaan hulle om nie weg te beweeg van dit wat hulle aanvanklik geglo en beleef het in Christus nie. Hulle moes eerder hulle geestelike wortels dieper in Hom laat ingroei en toelaat dat die Heilige Gees hulle opbou op daardie vaste fondasie. 

Daar is so 'n groot verskeidenheid lewensfilosofieë, wêreldbeskouings en boonop vals of misplaaste teologieë wat die rondtes doen vandag dat ons meer as ooit vantevore moet glo wat ons glo en staan waar ons staan.   

Moenie dat enigiets jou skuif of beweeg nie.  Geen ander lewensfilosofie het die kruis en opstanding van Jesus (historiese feite) as fondasie nie.  Jy kan maar jou volle gewig en al jou omstandighede swaar laat leun op hierdie fondasie.  Dit sal nooit maar nooit wankel nie.  Hierdie fondasie is ook nie net 'n wêreldbeskouing nie, dis 'n Persoon!