Daar is twee radikaal verskillende
perspektiewe op die lewe van 'n dissipel van Jesus en ongelukkig besef die
meeste mense nie eers dat dit juis die verkeerde perspektief is wat maak dat
hulle nooit heeltemal sin kan maak van die Bybel of hulle lewe op aarde nie.
Die algemene en populêre siening van Christenskap
is dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons nou op grond van God se
liefde en die vergifnis van ons sondes 'n beter lewe kan hê op aarde en die hemel
wanneer ons sterf. Die volgorde vanuit
hierdie perspektief is lewe-sterf-hemel.
Ek het my lewe op aarde wat as't ware deur God geborg word, dan sterf ek
een of ander tyd en ek verloor hierdie aardse lewe, maar gelukkig gaan ek darem
hemel toe waar ek nou 'n nuwe lewe gaan ontvang.
Die Nuwe Testamentiese siening van
Christenskap is radikaal anders. Dit
begin by dood, nie by lewe nie. Ek het gesterf "saam met Christus"
(Rom. 6:1-10; Gal. 2:20; Kol. 3:3), ek is "saam met hom opgewek" (Kol.
3:1), sit nou saam met hom "in die hemele" (Efes. 2:6) en nou wil Hy
Sý lewe deur my leef. Die volgorde
vanuit hierdie perspektief is dus sterf-hemel-lewe. Ek het klaar gesterf, ek bevind myself reeds
"saam met Christus" in die hemel en my lewe is nou Christus (Kol.
3:4). Ek gaan steeds in 'n sin "hemel
toe" wanneer ek sterf, maar dit het te doen met my verheerlikte liggaam wat
my "oorklee uit die hemel" (2 Kor. 5:1-2) en nie met 'n nuwe lewe wat
ek eers by my sterwe gaan ontvang nie.
Die lewe wat ek nou leef op aarde, moet
geleef word vanuit die hemelse perspektief en geloof in die feit dat Christus
in my woon en my lewe is (Gal. 2:20). Die
geestelike werklikheid is dat ek klaar gesterf het, dat ek klaar in die hemel is
en dat ek hier-en-nou op aarde die krag van die nuwe lewe in Christus kan
beleef. Hierdie nuwe lewe het ek egter
in 'n "erdekruik" (2 Kor. 4:7) en die krag van hierdie lewe
manifesteer deur en vanuit swakheid en gebrokenheid (2 Kor. 12:9-10).
Christus is jou lewe en dit gaan vir die
Vader oor jou vereniging met die lewe van die Seun. Jy hét nie meer 'n onafhanklike lewe
nie! Hierdie waarheid verander die
meeste van ons gebede, want nou bid ons nie meer primêr vir die verbetering van
'n aardse lewe nie, maar vir die manifestasie óp aarde van 'n hemelse lewe, Sý
lewe. Dit verander natuurlik ook
jou siening van heiligmaking, gemeentelewe, bediening, evangelisasie, die
eindtye, ensovoorts, ensovoorts.
Dit is net vanuit hierdie perspektief dat
die volgende woorde van die apostel Paulus ooit vir ons sin sal maak en vir ons
persoonlike en besonderse betekenis kry:
"Ons
wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat
alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk,
maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos
nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi,
maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,
sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van
Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van
Jesus sigbaar kan word." 2 Korinthiërs 4:7-11