Thursday, 28 March 2024

DIE KENNIS VAN VIER WESENSREALITEITE WAT BALANS BRING EN HANDHAAF IN DIE LEWE VAN ‘N DISSIPEL

“Ek is nog nie wat ek wil wees nie. Ek is ook nie wat ek gaan wees nie. Maar, prys die Here, ek is nie meer wat ek eens was nie.” Gloria Gaither


Daar is vier krities belangrike innerlike realiteite van ons lewe as dissipels wat ons gedurig in die oog moet hou as ons ‘n gesonde balans wil handhaaf in ‘n gevalle wêreld. 


Die eerste realiteit is dat ons reeds nuwe skeppings is in Christus en dat hierdie nuwe mens se lewe en identiteit eksklusief opgesluit is in die Persoon van Christus en gegrond is in die historiese werklikheid van Sy opstanding uit die dode. 


“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Korinthiërs 5:17


“En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efesiërs 4:24


Saam met hierdie kosbare werklikheid moet ons vashou aan die waarheid van die toekomstige volle realisering van dit wat ons reeds is in Christus, met Sy wederkoms. Dit moet vir ons ‘n innerlike werklikheid wees wat deel uitmaak van ons identiteit in die hier-en-nou van ons lewens. 


“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Johannes 3:2


Hierdie waarheid is die vierde realiteit op die tydlyn van ons lewens en dit moet in geloof vasgehou word saam met die eerste realiteit. 


Tussen die eerste en die vierde realiteite is daar egter twee realiteite waarmee ons móét rekening hou, anders verloor ons balans. 


Die tweede realiteit is ons ononderbroke stryd met dit wat ons steeds is in onsself, dit wat die Bybel “die vlees” noem. 


“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” Galasiërs 5:17


Dissipels is soms verbaas as hulle “die vlees” sien manifesteer in hulleself of andere. Hoewel ons nie verskonings moet maak vir vleeslikheid nie, behoort ons nie verbaas te wees in die sin van “waar kom dit nou vandaan” nie. Dit was nog altyd daar en sal wees tot op die dag wat ons verheerlikte liggame kry. 


Dit bring ons by die derde realiteit, naamlik die potensiaal vir geestelike groei in hierdie lewe. 


“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Korinthiërs 3:18


“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2


Alhoewel “die vlees” ‘n innerlike werklikheid is vir die dissipel, mag hy of sy nooit vrede maak met hierdie “vlees” nie. Daar is oorwinning vir ons in Christus. Daar is iets soos geestelike groei en geestelike volwassenheid. Dit beteken dat ek in die hier-en-nou reeds ‘n transformasie van my siel kan beleef. Christus word in hierdie proses ín my gevorm (Gal. 4:19) en ek word selfs in my persoonlikheid meer soos Jesus. Dit beteken egter nooit dat “die vlees” verander het nie en daarom moet ek steeds waak en bid en op my hoede wees. 


“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Korinthiërs 10:12


Om op te som kan ons dus sê dat die eerste en vierde wesensrealiteite van ‘n dissipel sy ware identiteit is, maar dat hy gedurig ook rekening moet hou met die tweede realiteit en hom deurentyd ernstig moet beywer om deur die Gees die derde realiteit toenemend verwerklik te sien in sy lewe. Dit is dan ook die groot teiken waarna alle dissipels moet mik in hierdie lewe. 


“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” Filippense 3:12


Mag die Here ons insig gee in hierdie vier realiteite sodat ons gebalanseerd kan lewe as dissipels van Jesus en “die dinge kan onderskei wat regtig saakmaak” (Filippense 1:10).



Tuesday, 5 December 2023

DIE TRAGEDIE VAN MENSE SONDER ‘N MISSIE

 Vanaf die eerste bladsye van die Nuwe Testament regdeur tot die laaste woorde in Openbaring sien ons dat God besig is om ‘n meesterplan in Sy Seun uit te voer en dat niks en niemand dit kan stop nie. 

Vandat Jesus die eerste keer dissipels roep om Hom te volg, maak Hy dit duidelik dat Hy op ‘n missie is en dat die wat Hom volg onmiddellik ook Sy missie ontvang as ‘n lewenstaak. 


En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matthéüs 4:19


“Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Johannes 20:21


Wat gebeur egter as die kerk die hele konteks van die Nuwe Testament amper geheel en al begin mis en ignoreer a.g.v. die endemiese invloed van ‘n eksistensiële wêreldbeskouing wat al vir baie dekades soos suurdeeg die menslike bewussyn binnedring? Wat gebeur dan met die boodskap? 

Wat gebeur met die evangelie wat verkondig word? 


As ons die konteks ignoreer verloor die Bybelse stellings hulle betekenis. Dan word Bybelverse soos ‘n wasneus (wax nose) wat ons kan druk en manipuleer net soos ons wil. Dan word die voorspoed evangelie al hoe meer aantreklik en begin dit gaan oor ons tydelike omstandighede in plaas van ons missie as dissipels. 


Wat ‘n tragedie dat daar vandag duisende boodskappe uitgaan deur al die kanale van die massamedia wat die ewige koninkryksplan van God in Christus ignoreer en die evangelie reduseer tot ‘n kaartjie hemel toe en intussen ‘n gemaklike en onversteurde aardse bestaan. 


In Matthéüs 6 vers 33 gee Jesus vir ons broodnodige perspektief. God is nie onregverdig of onbewus van ons aardse worstelinge met die behoeftes van die tydelike nie, maar Hy dring daarop aan dat ons eers Sy koninkryksplan in Sy Seun omhels as ons eie missie van dag een af tot en met ons laaste dag en uur op aarde. 


“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matthéüs 6:33


Moenie dat enigiemand jou wysmaak dat God se plan verander het nie. Ons moet ons dringend bekeer van hierdie valse, missielose evangelie wat die hele koninkrykskonteks van die Nuwe Testament ignoreer. 


Tuesday, 2 May 2023

GENADE DOEN ALLES, MAAR WORD NET IN WAARHEID ONTVANG DEUR VERLORENES EN GEBROKENES

Genade is 'n allesomvattende woord in die Nuwe Testament.  Die evangelie word selfs genoem "die evangelie van die genade van God" in Handelinge 20 vers 24.  Genade skenk nie net vir ons onverdiend vergifnis nie, maar doen ook vir ons alles van die oomblik van wedergeboorte tot die einde van ons lewens. Jesus Christus ís die openbaring van God se genade vir die mensdom. 

"En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." Johannes 1:16

Ons durf nooit genade losmaak van Sy Persoon nie.  Die manier wat ons reageer op Hom is die manier wat ons reageer op genade.  Niks meer en niks minder nie.  Om my knie te buig vir Jesus is om God se genade in volheid te ontvang.  Ek kan nie aanspraak maak op genade as dít nie waar is van my lewe nie.

Ja vir seker, genade doen alles.  Maar hoekom word genade misbruik deur so baie?  Daar is seker 'n hele klompie antwoorde op daardie vraag.  Hier is 'n belangrike een.  Mense misbruik genade omdat hulle nie werklik besef hoe sondig en verlore hulle is nie.  As jy die plaag van jou eie hart ken, sal jy gryp na genade soos iemand wat besig is om te verdrink.  Hoe meer 'n mens sien hoe stukkend jy werklik binne-in jou is as gevolg van die sondeval, hoe meer sal jy genade in waarheid omhels en waardeer regdeur jou lewe en nie net eenmalig t.o.v. wedergeboorte nie.

Tim Keller het gesê, " The gospel is this: We are more sinful and flawed in ourselves than we ever dared believe, yet at the very same time we are more loved and accepted in Jesus Christ than we ever dared hope.”

Tuesday, 21 March 2023

LAAT RUIMTE VIR GOD OM JOU TE VERRAS

Regdeur die Bybel sien ons dat God op verskillende maniere werk om mense se harte voor te berei vir Sy wonderlike, verrassende dade in Christus. God is ons altyd een voor en daarom moet ons so versigtig wees om nie ons lewens te beplan soos die wêreld dit doen nie.

"Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas." Spreuke 19:21 (NAV)

"Moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen." Psalms 146:3
-4 (NAV)

God het ons gemaak en Hy is in beheer van Sy heelal. Hy het Sy eie planne vir ons lewens.

"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here... " Jeremia 29:11a (NAV)

"Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here." Jesaja 55:8 (OAV)


Al God se planne vir ons sentreer in Jesus. Net in Hom is daar volheid van seën en oorvloedige lewe.  Ons almal het egter so nodig om ons gedagtes daagliks te vernuwe deur die Woord (Rom. 12:2), sodat ons nie weer terug val na 'n ingesteldheid wat nie ruimte laat vir God om ons te verras nie.

Spreuke 3 verse 5 en 6 gee die heel beste raad in hierdie verband:

"Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak." Spreuke 3:5
-6 (OAV)

Dit is slegs wanneer ons, ons eie gewaande insig laat vaar dat die Here se paaie ons paaie word. Dit is slegs Sý paaie wat gelykgemaakte paaie is. Dit is 'n massiewe fout om self te besluit wat ons wil hê en dan die Here te vra om dít te seën.

Die probleem is altyd daai "eie insig". Dit is eers wanneer ons, ons "eie insig" begin wantrou dat ons werklik vordering maak as dissipels van Jesus.

Dit is juis om hierdie rede dat die "Onse Vader" begin met Sý naam, Sý koninkryk en Sý wil.  

 


Thursday, 16 February 2023

GENADE OF GODSDIENS

Slegs genade (die evangelie) bring onmiddellike vervulling in Jesus, vrede wat alle verstand te bowe gaan en onuitspreeklike vreugde. Genade sal jou in die Woord inneem. Genade sal jou na dieper studie van die Woord neem. Genade sal jou inbring in gebed en voorbidding. Genade sal jou voorberei vir ware geestelike oorlogvoering. Genade sal jou dring na aanbidding in musiek en sang. Genade sal jou inneem in spontane gemeenskap met ander gelowiges. Genade sal 'n evangelisasie-fontein oopmaak in jou. Genade sal 'n lewe van liefde en self-opoffering binne jou ontsluit. Genade sal die gawes van die Gees ontsluit. Genade sal maak dat jy harder sal werk as enige wettisis (legalist). Genade sal jou onderhou in tye van beproewing en lyding (2 Kor. 12). Genade sal jou voorberei vir die wederkoms van Jesus. Genade sal jou voorberei om jou lewe en reis goed te beëindig. Dit is alles genade, van begin tot einde. Glo dit!

Godsdiens, aan die ander kant, is soos om sop met 'n vurk te eet. Jy bly besig, maar bly ook honger. Bybelstudies, gebed, sang, kerkprogramme, geestelike oorlogvoering, evangelisasieprojekte en aan en aan en aan, ad infinitum, sonder einde. Ontelbare "geestelike aktiwiteite", maar baie min vervulling, vrede, vreugde, spontane oorloop en opborrel van goddelike liefde binne jou wat jou oor grense neem. Klink dit bekend? Dit is godsdiens. Dit is nie genade nie. Godsdiens werk altyd ná genade en vervulling. Die evangelie gee genade en vervulling en beveel ons dan om in die stroom en vloei van genade te bly.

"Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste."  Psalm 46:4

"En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly." Handelinge 13:43

Paulus en Barnabas het in effek vir hulle gesê “los nou julle godsdiens en volg die openbaring van God se genade in Christus”.

Thursday, 22 September 2022

HY'T SY LERING REGGEKRY, MAAR SY HART HET LEEG GEBLY

Reinheid van hart, nederigheid, liefde en 'n diensbare gees is belangriker as om altyd net presies reg te wees in ons leer. Leerstelling is baie belangrik, maar as ons die regte leer het sonder dat "Christus in ons gestalte kry" (Gal. 4:19) in reinheid, nederigheid en liefde, is ons sekerlik op 'n slegte plek.

Dit is moontlik om die letter van 'n leerstelling te hê sonder om die gees van daardie leerstelling te hê. Die "sin van Christus [mind of Christ]" (1 Kor. 2:16) is veel, veel meer as om net jou leerstelling reg te kry.

Die stryd om die waarheid van die evangelie sal altyd daar wees, want die satan is 'n bedrieër wat besigheid doen met vals leringe en daar is baie wat onbruikbaar langs die pad lê weens sy suksesvolle veldtog in hulle lewens. 

Maar 'n mens moet die vraag vra hoeveel ander lê uitgehaal langs die pad vir 'n ander, minder voor-die-handliggende rede, naamlik dat hulle gesonde lering verwar het met gesonde geestelikheid.  'n Mens kan gesonde lering hê  in jou denke en verkondiging, sonder dat daardie lering jou bring by reinheid van hart, nederigheid en liefde.

"Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor." 1 Timotheüs 4:16

Paulus vermaan Timotheüs om op homself én op die leer te let.  Waarvan moet Timotheüs dus seker maak m.b.t. sy lewe.  Sekerlik dat hy heilig en afgesonderd lewe, maar hoe gebeur dit?  Dit begin by 'n rein hart en 'n goeie gewete wat net 'n werklikheid kan wees wanneer Christus heers in ons HARTE deur die krag van die Gees (Efes. 3:16-17), nie net in ons denke nie.  'n Kop soos 'n waatlemoen en 'n hart soos 'n grondboontjie eer nie die Here nie.

"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof."  1 Timotheüs 1:5

Tuesday, 20 September 2022

DINK, LEEF EN WERK IN ‘N ATMOSFEER VAN RUS, VRYHEID EN VREDE

‘n Dissipel van Jesus is nie besig om te beweeg na rus, vryheid en vrede nie, hy begin sy geestelike lewe in ‘n atmosfeer van rus, vryheid en vrede. 

Dit is een van die groot verskille tussen ware Christenskap en die Christenskap van vormgodsdiens. Vormgodsdiens se hele program en agenda het ten doel om rus, vryheid en vrede te bekom en te bewerkstellig.

In Christus het ons reeds van dag 1 van ons wedergeboorte af rus, vryheid en vrede. 

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheüs 11:28

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” Galasiërs 5:1

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” Romeine 5:1

In hierdie atmosfeer is ons bedoel om te dink, leef en werk, en ook te bid en ly ter wille van die evangelie.  Die oomblik wat ons uitbeweeg uit hierdie posisie in Christus het ons as’t ware uitgestap uit die hemelse dimensie waaruit ons veronderstel is om te leef.  Dan begin ons dink en leef in die wêreld se atmosfeer en ons geestelike lewe begin noodwendig fragmenteer. 

Wat ‘n tragedie dat so ‘n groot deel van die kerk besig is met vormgodsdiens en nie eers besef dat dit die atmosfeer van die wêreld is en dat God nooit bedoel het dat Sy kinders moet leef en dink en werk in daardie dimensie nie.

Laat ons dus begin waar God begin sodat ons die goeie werke kan doen wat Hy vir ons voorberei het (Efes. 2:10), in plaas van die werke van vormgosdiens wat geen ware groei of vrug bring in die finale analise nie.