Friday 27 December 2013

GOD SE ENIGSTE PLAN VIR 2014

Die selflewe, die ‘eie ek’, die mens onafhanklik van Christus is bankrot.  Laat dit staan en laat dit gaan.  Moenie daarvoor hoop koester of enige planne maak om dit te laat opstaan uit die dode in 2014 nie.  Ons seën lê net op een plek, in een Persoon, Christus!  Die Vader het geen ander plan vir jou en jou geliefdes nie.  Christus is ons enigste hoop.  Hý is ons seën.  Hy alleen.  Die antwoorde vir jou lewe, probleme, en die onverklaarbare tammeletjies van jou bestaan hier op aarde lê nie op ander plekke nie.  Dit is alles net in Hom.  Hy is ons lewe, hoop, geregtigheid, sterkte, wysheid, heil, verlossing, krag, en toekoms.  Kom ons fokus ons aandag dan nou opnuut weer op Hom.  Plaas albei jou oë op Hom en begeer met alles in jou ‘n immer toenemende openbaring van Hom en jou eenheid met Hom.  Dit is die enigste weg tot ‘n super-geseënde nuwe jaar.  Mag die Vader se aangesig in 2014 skyn oor jou en jou geliefdes, in Sy Seun.

Friday 20 December 2013

‘N EWIGHEID WAT WAG

Ons generasie van gelowiges word deur die multimedia blootgestel aan honderde boodskappe en advertensies wat sonder ophou vir ons vertel hoe ons die hier-en-nou van ons lewens kan verbeter deur ‘n nimmereindigende stroom van produkte.  Daar staan ook altyd nog ‘n motiveringspreker gereed om ons gedagtes in te spuit met positiwiteit wat kwansuis ‘n beter lewe hier op aarde sal waarborg.  Die gevolg is dat ons fokus so maklik wegskuif van die ewigheid saam met God; wat volgens die Nuwe Testament een van ons grootste motiverings moet wees vir hoe ons in die hede dink en leef.  In 1 Thessalonicense 4 vers 18 sê Paulus ons moet in tye van swaarkry en met die afsterwe van geliefdes mekaar herinner daaraan dat ons “altyd by die Here” gaan wees.  Hierdie woorde kan egter net betekenisvol gegee en ontvang word binne ‘n Christelike kultuur en klimaat wat ‘n bewussyn van die ewigheid kweek.  Het ons so ‘n kultuur, of is ons bewussyn aardsgebonde soos die wêreld s’n?

“Julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”  Jak. 4:14


“Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”  1 Thes. 4:17-18  

Sunday 15 December 2013

VEROORDELING VERSUS OORTUIGING


Daar is ‘n radikale verskil tussen veroordeling en oortuiging.  Die Heilige Gees oortuig ons om ons by bekering en hartsverandering te bring in spesifieke areas van ons wandel met Jesus.  Godsdientige veroordeling maak mense gewoonlik of hard en wetties; of dit maak hulle moedeloos en laat hulle opgee.  Die oortuiging van die Heilige Gees is genesend en opbouend en as ons Sy stem gehoorsaam maak dit ons vry en gee ons moed om aan te gaan na dieper dieptes en hoër hoogtes in Jesus.  Hierdie is geen verskoning vir ‘n trivialisering van sonde nie, maar miskien ken jy meestal net die veroordeling van die godsdiens.  Dan het ek goeie nuus vir jou.  Die oortuigende stem van die Gees wil jou sonder veroordeling in kontak bring met die ware kondisie van jou hart en jou dan lei na ‘n heerlike vryheid in Christus.  Glo dit.  Dis waar!