Thursday 25 June 2020

GRENSE


Grense tussen my en jou
Die heinings en maskers wat 'n virus weg moet hou
Maar wat van die grense wat my hart omring
En keer dat God se liefde binnedring

Die groter "lockdown" van my siel
Veel langer reeds in plek
Wat nie net my liggaam
Maar my hart van Hom (en jou) weerhou

Wie kan hierdie grense lig?
Wie kan deurbreek tot by die stille lyding van my hart?
Wie kan my van hierdie tronk bevry?
Wie kan onbeperk beweeg in die misterieuse binnewêreld van my smart?

Wie kan my siel loskoop van die universele, tydlose "lockdown"?
Wie kan dieper inkyk en die onsigbare grense eien?
Die ware grense wat my hart verswelg
En in die krimpende ruimte onverpoosd die asem uit my longe pers

Wie? Sê my wie? Wie is hy?
Kan hy werklik slot en grendel breek en hierdie mens bevry?

Jesus? Jesus... Jesus!
Dit is toe werklik Hy.

Monday 15 June 2020

WEET WAAR OM TE GAAN VOL MAAK


"En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde." 1 Korinthiërs 13:13 

Christene se innerlike dryfkrag is geloof, hoop en liefde. Die wêreld s'n is prestasie, ambisie en eie-belang.

Hierdie radikale kontraste tussen die ou en die nuwe skepping moet reg van die begin af baie duidelik uitgespel word vir ons kinders en diegene met wie ons 'n pad van dissipelskap stap.

Geloof, hoop en liefde is as't ware die petrol in ons tenk waarsonder ons nie kan vorder as dissipels van Jesus nie. Ons vertrou nie op onsself en ons eie vermoëns nie, ons verwagting is nie gesetel in die tydelike wêreld nie en ons leef nie meer vir onsself nie, maar vir Christus en ander mense.

"Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede  en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader." 1 Thessalonicense 1:2-3 

Dit is egter moontlik om hierdie krities belangrike waarheid aangaande 'n lewe van geloof, hoop en liefde ywerig vir jou kinders te leer oor 'n tydperk van jare en hulle steeds te los met 'n onderliggende gevoel van onvervuldheid. 

Hoekom?  Want geloof, hoop en liefde kan steeds gesien word as slegs dinge wat ons moet doen en gesindhede wat ons moet hê.  Die fokus kan dus grotendeels op myself wees en wat van my verwag word.  Die Bybel leer egter dat geloof, hoop en liefde net wortel kan skiet en groei in my hart wanneer God en Sy wonderlike eienskappe en Sy kosbare beloftes in Christus die middelpunt van my lewe is.

Ons geloof is nie in geloof nie, ons hoop is nie in hoop nie en ons liefde is nie gefokus op die konsep van liefhê nie, maar op God wat die outeur van geloof, hoop en liefde is.

"Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus." Romeine 10:17  (NAV)

"En julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag." Kolossense 2:10 

"Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof..." Hebreërs 12:2a 

Die dag wat my kind uit my huis uit stap die grootmenswêreld in wil ek hê hy moet verstaan dat die anderste lewe van 'n dissipel van Jesus net moontlik is deur geloof, hoop en liefde. 

Bo alles wil ek egter hê hy moet hierdie drie essensiële elemente van die geestelike lewe aanhou vind in die wese en karakter van God en nie in homself nie.  Ek wil hê hy moet weet waar om te gaan vol maak.

Wednesday 3 June 2020

WANNEER JESUS PERSOONLIK RAAK


"Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;  maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.  Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie."  4:13-15

Jesus gee eers vir die vrou by die put die algemene boodskap van die evangelie en dan wanneer sy as't ware die deur van haar hart begin oopmaak ("gee my daardie water"), raak Jesus persoonlik. Nou bring Hy die waarheid van haar lewe na vore en wys Hy vir haar dat Hy alles weet van haar. 

"Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier.  Die vrou antwoord en sê: Ek het nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie;  want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê."  Johannes 4:16-18

Hy lei haar stap vir stap na die plek waar sy Hom erken as die Messias en met volle vertroue haar lewe in Sy hande plaas. So werk Jesus met elkeen van ons.  Hy is die hartekenner.   Geen mens kan onveranderd bly as hy of sy 'n ware ontmoeting met Hom gehad het nie.

Christenskap is veel meer as net 'n boodskap of 'n lering. Christenskap is ten diepste 'n verhouding met 'n Persoon wat alles van jou weet; 'n Persoon wat jou beter ken as enigiemand anders op aarde.  Jy kan al die feite van die Bybel en die evangelie ken en 'n meester van teologie wees, maar as daar nie 'n dag was waar Jesus in jou lewe ingestap en die begin en die einde van jou bestaan geword het nie, weet jy niks van ware Christenskap nie.

Wie soek sal vind.