"Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van
hierdie water drink, sal weer dors kry;
maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid
nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n
fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie
water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie." 4:13-15
Jesus gee eers vir
die vrou by die put die algemene boodskap van die evangelie en dan wanneer sy
as't ware die deur van haar hart begin oopmaak ("gee my daardie water"),
raak Jesus persoonlik. Nou bring Hy die waarheid van haar lewe na vore en wys
Hy vir haar dat Hy alles weet van haar.
"Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom
hier. Die vrou antwoord en sê: Ek het
nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy
nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê." Johannes 4:16-18
Hy lei haar stap
vir stap na die plek waar sy Hom erken as die Messias en met volle vertroue
haar lewe in Sy hande plaas. So werk Jesus met elkeen van ons. Hy is die hartekenner. Geen mens kan onveranderd bly as hy of sy 'n
ware ontmoeting met Hom gehad het nie.
Christenskap is
veel meer as net 'n boodskap of 'n lering. Christenskap is ten diepste 'n
verhouding met 'n Persoon wat alles van jou weet; 'n Persoon wat jou beter ken
as enigiemand anders op aarde. Jy kan al die feite van die Bybel en die evangelie
ken en 'n meester van teologie wees, maar as daar nie 'n dag was waar Jesus in
jou lewe ingestap en die begin en die einde van jou bestaan geword het nie,
weet jy niks van ware Christenskap nie.
Wie soek sal vind.
No comments:
Post a Comment