Thursday, 28 May 2020

OORWINNING IN GEBROKENHEID


Historiese konteks is krities belangrik vir korrekte interpretasie.  Sonder dit word uitlegkunde inlegkunde en begin ons om allerhande idees uit ons eie moderne verwysingsraamwerk in te lees in die teks.

Kom ons neem die lering oor oorwinning as voorbeeld.  Gestel jy vra twintig mense uit twintig verskillende gemeentes vandag om in 'n paar sinne op te som wat dit beteken vir 'n dissipel van Jesus om 'n oorwinnaar te wees. 

Hoeveel sal die vraag beantwoord in terme van die historiese konteks van die hele Nuwe Testament en spesifieke boeke en dit dán toepas op ons lewens as dissipels in die een-en-twintigste eeu?

As 'n mens die historiese konteks wil kry het jy nodig om 'n hele boek van die Bybel te lees, nie net 'n versie hier en daar nie.  Kom ons neem 'n redelik bekende vers as voorbeeld.

"Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei."  2 Korinthiërs 2:14 

Uit hierdie vers kan jy haal "God laat ons altyd triomfeer in Christus".  Maar dan het jy nog nie eers die hele vers aangehaal nie.  Dalk het jy nog nie eers die paragraaf gelees waarin die vers voorkom nie, om nie te praat van die hoofstuk of die hele boek nie.  Kyk byvoorbeeld na wat Paulus verder aan in die boek sê:

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie." 2 Korinthiërs 4:7-9 

Na ek dit gelees het, kan ek steeds sê "God laat ons altyd triomfeer in Christus", want dit is 'n Bybelse stelling, maar my begrip van wat hierdie oorwinning behels het dramaties verander en verbreed.  Ek begin nou te sien dat dit oorwinning in gebrokenheid is wat die Bybel van praat, en nie noodwendig dat my omstandighede altyd oorwegend positief moet wees nie.

Dalk klink dit nie nou meer vir jou na goeie nuus nie, maar die verskil is dat jy nou te doen het met die werklikheid, die ware leer van die Bybel.  Jy het nou vaste grond onder jou voete.  Jy het iets beet wat die toetse van die lewe kan deurstaan in die werklike, onseker, gevalle en gebroke wêreld. 

Kom ons kyk na net nog een voorbeeld in die Nuwe Testament.

"Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Romeine 8:37 

Wat kry jy uit hierdie teks?  Moenie te vinnig antwoord nie.  Kyk gou eers na die twee verse wat dit voorafgaan.  (Verse 38 en 39 wat daarop volg, kan jy self gaan lees).

"Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?  Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape." Romeine 8:35-36 

Het ek eers oorwinning wanneer die vervolging, honger of gevaar tot 'n einde kom of het ek oorwinning te midde van negatiewe omstandighede?  Ek dink jy weet wat die antwoord is. 

Dit klink vir my na beter nuus as die populêre idee van oorwinning vandag.  As ek in 'n regte oorlog is wil ek nie veg met my seuntjie se waterpistool nie.  Ek soek 'n ordentlike wapen wat getoets is.

No comments:

Post a Comment