God het die mens
geskep as 'n verhoudingswese en baie spesifiek om Hom intiem te ken as 'n
persoon, sy bron van lewe, sy alles-in-alles.
"En God het die mens geskape na sy beeld; na die
beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape."
Genesis 1:27
Alle mense ken
egter a.g.v. die sondeval die gevoel van vervreemding. Die sondeval het by mense 'n bewussyn gebring
dat God 'n vreemdeling is, iemand wat onkenbaar ver en ontoeganklik is.
"Mense wat verduisterd is in die verstand en
vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die
verharding van hulle hart." Efesiërs 4:18
In Handelinge 17
vers 28 sê Paulus egter iets verstommend vir die mense van Athéne:
"Sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom
miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in
Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê
het: Want ons is ook sy geslag."
Menslike godsdiens
hou ons daarenteen op 'n afstand van God en voed as't ware die gevoel van
vervreemding. Dit hou mense besig met allerhande aktiwiteite terwyl hulle min
of geen intieme verhouding met God beleef. Hoe onbeskryflik hartseer is dit
nie.
Die evangelie
begin vir seker by 'n God wat heilig is, die gans andere wat leef in
"ontoeganklike lig", maar hierdie selfde God wíl gevalle mense red en
met Homself versoen sodat hulle Hom intiem kan ken as Vader. Vir hierdie rede het hy sy Seun gestuur.
"Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof
God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God
versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde
geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in
Hom." 2 Korinthiërs 5:20-21
Aan almal wat
hierdie evangelie in geloof en met dankbaarheid omhels, gee God dan die voorreg
om Sy kinders genoem te word, die voorreg om Hom intiem te ken.
"Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys
het, dat ons kinders van God genoem kan word!" 1 Johannes 3:1a
Die doel van ons
redding is dus nie net om hemel toe te gaan nie, maar om God werklik te
ken. God red ons van die vervreemding
wat die sondeval gebring het. Leef jy as
dissipel van Jesus in die voorreg van intieme Godskennis of het vormgodsdiens
jou hart weer versluier?
"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die
enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." Johannes
17:3
No comments:
Post a Comment