Sunday, 30 March 2014

VIR ‘N HART WAT KWYN

My hart het diep gaan wegkruip
in 'n winterbos,
maar soms so ongemerk
kom skyn 'n straaltjie van Gods liefde
weer die woorde in my los.

Dis net die Vaderliefde
wat kan skyn
en dieper deurdring tot die pyn.
Dis net die Seun se wonde wat so fyn

die salf kan wees vir 'n hart wat kwyn.

Wednesday, 26 March 2014

DIE HEILIGE GEES SÊ "KOM KYK WEER"

As dit waar is dat die satan se grootste strategie is om mense se oë te verblind sodat hulle tog net nie die heerlikheid van Christus moet sien nie (2 Kor. 4:4), dan volg dit logies dat die 'stryd van geloof' (1 Tim. 6:12) vir die dissipels van Jesus alles te make het met ons heilige vasberadenheid om aan te hou om hierdie heerlikheid te aanskou (2 Kor. 3:18). Die eerste keer wat jy in die krag van die Gees die heerlikheid van Jesus in die evangelie gesien het, het dit reddende geloof in jou hart wakker gemaak en jou onomkeerbaar oorrompel. Nou wat jy 'n dissipel is, moet jy presies net soos daardie eerste keer jou vreugde aanwakker en behou (Kol. 2:6).  Jy moet bly by hierdie eenvoudige benadering tot die Christelike lewe (2 Kor. 11v2-3).  Die satan gebruik sorge, verleiding vd rykdom en begeertes na ander dinge (Markus 4:19) om jou fokus skuif en jou te laat wegsink in ongeloof of 'n sieldodende wettisisme met die doel om die lig van die evangelie in jou lewe te verdoof en jou vreugde en liefde in Christus te steel.   Net so ook gebruik hy teleurstellings in jou verhoudinge in jou gesin, familie, vriendekring, en gemeente om jou af te takel en moedeloos te maak.  Sodoende bring hy jou stelselmatig by 'n plek waar jy nie meer 'n vaste vertroue het dat die krag van die heerlikheid van Christus groter is as al die teleurstellings en kragte en magte van satan nie.  Hy wil hê jy moet heeltemal ophou glo dat God se liefde in Christus oor al die negatiewe dinge in die gevalle skepping kan triomfeer.  Daarom is dit krities belangrik dat jy sal luister na die Heilige Gees wat jou oor en oor, weer en weer, en nog 'n duisend keer roep met 'n dringende appél "kom kyk weer"!  "Aanskou weer die heerlikheid van Christus."  Laat die Gees toe om Jesus weer en weer voor jou af te skilder (Gal. 3v1) op tientalle maniere in die Woord totdat jou hart weer brand met die vreugde van die evangelie en jy jou eie ongeloof en/of wettisisme oorwin het en die liefde van Christus in jou kan deurbreek en begin om al die liefdeloosheid rondom en binne jou te verslind.  En terwyl jy lees, bid, bid en hou aan bid vir openbaring (Efes. 1:15-17).

Thursday, 20 March 2014

ONUITSPREEKLIKE BLYDSKAP VIR EWIG

Omdat die heerlikheid van Christus oneindig is, is die potensiaal vir menslike vreugde oneindig.  Dit is die hoofrede waarom ons nie verveeld gaan raak in die hemel nie.  God het ons geskep om die heerlikheid van Christus ononderbroke te aanskou en sodoende reflekteerders te wees van Sy heerlikheid (2 Kor. 3:18).  Hierdie heerlikheid kan egter net gereflekteer word deur ‘n blymoedige hart wat versadig is en dan oorloop van die vreugde van die Here.  Hoe lyk dit met jóu hart?  

“U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Ps. 16:11  

“Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” 1 Pet. 1:8

Sunday, 16 March 2014

WAT IS HEMEL VIR JOU?

In sy boek “God is the Gospel” vra John Piper die vraag: “If you could have heaven, with no sickness, and with all the friends you ever had on earth, and all the food you ever liked, and all the leisure activities you ever enjoyed, and all the natural beauties you ever saw, all the physical pleasures you ever tasted, and no human conflict or any natural disasters, could you be satisfied with heaven, if Christ were not there?”  Sal jy tevrede wees met so ‘n volmaakte plek vir ewig, maar sonder Christus?  Wat is hemel vir jou?  

Thursday, 13 March 2014

JESUS EERSTE IN ALLES

Die Bybel leer nie dat Jesus my eerste prioriteit moet wees, en dan volg my gesin, die gemeente, my beroep, ens. nie.  So asof ek eerste aandag aan Jesus gee en dan het ek die vryheid om in ander domeins van my lewe my eie ding te doen.  Eerder dat Jesus eerste in álles in my lewe moet wees.  Dit beteken dus Jesus is eerste en ten volle betrokke in my gesin, my gemeentelewe, my beroepslewe, ens.  Ek het nie ‘n aparte godsdienstige lewe waar Jesus in beheer is en dan ander lewens waar ek eintlik onafhanklik leef en maar net vir Hom vra om dit asseblief te seën nie.  Ek het net een lewe, en dit is Christus (Kol. 3:4).  

Sunday, 9 March 2014

THE HEART OF IDOLATRY

Man was created to find his joy in God in a uniquely intimate-personal way and to thus reflect the glory of God throughout the universe for all eternity.  Therefore God commands us to “Delight yourself in the Lord” (Ps. 37:4) and to “Rejoice in the Lord always” (Phil. 4:4). Anything less than ultimate joy in God, above all other enjoyments in your life, is idolatry! The heart of idolatry is not that we fail to serve and obey God, but that we do not find our ultimate joy in Him.  Obedience is a fruit of joy in God.  It is only as I behold the glory of Christ in the gospel (2 Kor. 3:18) that joy in God increasingly becomes the heartbeat of my entire life. Man was made to be a container and reflector of the infinite beauty of God. But to do so without passion and joy would be the ultimate insult to the glory of God, and would utterly defeat the purpose.

Wednesday, 5 March 2014

DIE HOË RISIKO VAN HAASTIGE OORDEEL

Konings, priesters, skrifgeleerdes, geestelike leiers, politici, en selfs Sy eie familie het almal vir Jesus van Nasaret verkeerd gelees. Vandag nog mis ons maklik Sy voetspore en oordeel ons dikwels veels te vinnig in situasies.  Uit tien haastige gevolgtrekkings oor mense se motiewe en die waarheid van ‘n situasie is nege gewoonlik verkeerd.  Pasop vir aannames!  Jesus gee vir ons Goddelike insig hieroor en ‘n opdrag om te gehoorsaam in Johannes 7 vers 24 Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.”  Do not form superficial judgements, but form the judgements that are just." (Weymouth)

Monday, 3 March 2014

DIE VADER VAN ONTFERMINGE EN GOD VAN ALLE VERTROOSTING

Vertroosting is nie net ‘n proses, ‘n metode of ‘n terapie nie.  Vertroosting word gevind in ‘n Persoon.  In die finale analise is dit net God wat werklik ten diepste kan vertroos.  Hierdie vertroosting gaan uit vanaf die Vader wat genoem word “die God van alle vertroosting.  Hy is die Een wat die vertroosting inisieër.  Die hele Drie-eenheid is egter betrokke in hierdie vertroosting. Lees Johannes 14 vers 16 en let op die twee “Troosters”.  Jesus was ook ‘n “Trooster” in Sy bediening (Lukas 4:18-19). Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting.”  2 Kor. 1:3