Tuesday, 29 April 2014

BOU JOU VERHOUDINGS OP DIE ROTS

Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan aanhou floreer wanneer dit op die vaste rots van God se genade staan.  As ons verwysingspunt in ons verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir ons.  Jonathan Edwards het gesê ‘when we idolize we will also demonize’.  As my liefde vir iemand dus slegs in my eie gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde) gewortel is, het ek geen waarborg dat dit nie onder sekere omstandighede ‘n 180 grade draai kan maak en in ‘haat’ verander nie. Die hoë persentasie egskeidings en gebroke verhoudings in families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig baie beter as wat ek dit hier kan doen.  Tullian Tchividjian het gesê ‘the heart of the human problem is the problem of the human heart’.  Daarom is dit só noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word deur die liefde van God wat vir ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9).  Dit alleen is vaste grond onder ons voete in al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en steeds lief te hê wanneer hulle liefde teenoor ons ‘in haat’ verander het.

Monday, 21 April 2014

ONS WARE RYKDOM IS IN CHRISTUS

Al het Paulus in die natuurlike baie gehad om op te roem (Fil. 3:4-6), verklaar hy onbeskaamd in sy briewe dat hy “niks het nie” (2 Kor. 6:10) en “niks is nie” (2 Kor. 12:11).  Hy het werklik geleef soos iemand wat weet hy kan niks behalwe sy geestelike erfenis saamvat die ewigheid in nie (Fil. 1:21).  Paulus was ryk in Christus.  Het ons al by die plek gekom waar ons aanvaar dat God begeer om ons geestelik ryk te sien in Sy Seun of klou ons nog krampagtig vas aan die roem, rykdom, en sekuriteit van die gevalle wêreld?  Het jy al vrede gemaak met die feit dat die Vader dikwels omstandighede gebruik om jou te bring by die plek waar jy niks in jouself is of het nie, sodat jy alles in Christus kan besit?

Sunday, 13 April 2014

MOENIE OORDEEL NIE?

Jesus het nie gesê ‘jy mag nie onderskei tussen reg en verkeerd of sonde en gehoorsaamheid, ens.” nie.  In dieselfde gedeelte waar Jesus sê “moenie oordeel nie” (Mt. 7:1) sê Hy net bietjie verder aan “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie …” (v.6a).  Hoe gaan ek weet wie dit is sonder om te onderskei?  Die “oordeel” wat Jesus van praat in vers 1 het te doen met die opstel van myself as ‘n regter oor ander mense i.p.v. om eers myself onder die oordeel van die evangelie te plaas (v.5a) en dan ander te help om dieselfde te doen (v.5b).  Ons moet natuurlik mense liefhê, maar ware liefde poog om mense te help om onder die Woord van Christus te kom staan sonder om jou eie posisie op te gee of te kompromitteer.  

Monday, 7 April 2014

IS VREES ALTYD GELYK AAN ONGELOOF?

In 'n sin staan geloof reëlreg teenoor vrees, maar ons moet versigtig wees om nie die afleiding te maak dat vrees in my hart noodwendig gelyk is aan 'n sondige ongeloof nie.  Die perfeksionisme wat leer dat die emosie van vrees nooit weer mag voorkom in dissipels nie doen meer skade as goed. Dit pak skuldgevoelens bo-op die vrees. Die probleem is nie die vrees in my hart nie, maar wat ek daarmee maak. Gee dit vir God (Heb. 4:14-16). Hy sê oor en oor vir ons in die Bybel "moenie vrees nie", juis omdat Hy weet dat ons broos is in hierdie gevalle wêreld. Hy wil hê ons moet ten volle steun op Sy onveranderlike liefde in Christus (1 Joh. 4:18; Rom. 8:31-39).


VREDE EN BLYDSKAP IN SWAARKRY

Hierdie is een van die groot temas in die Bybel.  Gaan lees bietjie Heb. 11 aandagtig en biddend deur.  Maak seker dat jy die werklikheid aanvaar dat dit die normale is vir dissipels van Jesus om moeilike omstandighede te beleef in hierdie wêreld (Joh. 16:33).  Glo absoluut dat dit God se wil is vir jou om binne die omstandighede steeds vrede en blydskap te beleef (Rom. 14:17).  Rus in die afgehandelde werk van Jesus deur die “in Christus” verse in die NT jou eie te maak.  Hou styf vas aan die kosbare beloftes van God vir jou toekoms en die ewigheid saam met Christus (bv. Mt. 28:20). Laastens, onthou dat moeilike omstandighede in ‘n dissipel se lewe altyd ‘n doel het.  Gewoonlik om ons harte te verruim en ons te laat fokus op God se koninkryk en belange in hierdie gevalle wêreld (bv. Mt. 28:19).

Wednesday, 2 April 2014

DIE STEM VAN DIE GOEIE HERDER

Sukkel jy om die stem van die Herder te hoor?  Ondersoek jou hart en bring dit in lyn met die volgende kenmerke van Sy Stem:

1.  Dit is uit die groot en liefdevolle hart van ‘n Vader.
2.  Dit is in die Aangesig van ‘n Seun (2 Kor. 4:6).
3.  Dit is in die kosbare en ononderbroke ademings van die Gees.
4.  Dit is op die nou pad van die Kruis, Nederigheid en Onderdanigheid.
5.  Dit is in die onskuldige kamers van ‘n rein en kinderlike Hart.
6.  Dit is in die Bybel; ondersoek, luister en bewe (Jes. 66:2)!
7.  Dit is in die moedige gange van Geloof.
8.  Dit is in die veilige plekke van die Liefde.
9.  Dit is in die helder gange van Hoop.
10.  Dit is in die lieflike Ryk van Barmhartigheid en Genade.
11. Dit is in die onversteurde grotte van Stilte.
12. Dit is in die tuine van volhardende Intersessie.
13. Dit is in die vriendelike oë, woorde en dade van nederige en gebroke mense.
14. Dit is in die Samekoms van gelowiges in Sy Naam, nie hulle eie nie.
15. Dit is in die Manier wat Sy mense mekaar liefhet en vergewe.
16. Dit is langs die lyne van wedersydse Onderdanigheid aan mekaar uit respek vir Christus.