"Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart
goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte
dinge te voorskyn." Matt. 12:35
Met betrekking tot die evangelie is die Bybel duidelik
dat álle mense onder die mag van die sonde is (Rom. 3:9-19) en daarom presies
dieselfde behoefte het aan redding in Jesus.
Wedergebore mense het 'n nuwe natuur en Christus self leef in
hulle. Maar dit onthef hulle nie van die
verantwoordelikheid om wys om te gaan met dit wat in hulle hárte aangaan
nie. Dit wat jy bedink en toelaat om te
groei in jou hart word uiteindelik wat Jesus noem 'n 'skat' in jou hart. Daardie 'skat' bepaal jou gesindhede, jou
woorde, en jou dade (Spr. 4:23). Maak
seker dat jy jou gedagtes rig op die waarhede wat betrekking het op jou nuwe
lewe in Christus (Kol. 3:1-4), en jy kan verseker wees dat daardie 'goeie skat'
binne-in jou veel lieflike vrug sal dra (Gal. 5:22).