Thursday 12 December 2019

BEMOEDIGING EN MOTIVERING IN CHRISTUS IS ANDERS AS IN DIE WÊRELD


Een van die heel gewildste "gospel" liedjies van ons tyd (die feit dat dit so gewild is spreek boekdele) begin met die volgende woorde:

"I keep fighting voices in my mind that say I'm not enough
Every single lie that tells me I will never measure up"

Dit gaan aan om te sê: 

"You say I am strong when I think I am weak...
And I believe, oh I believe, What you say of me I believe "

'n Mens verstaan dat die liedjie waarskynlik geskryf is vir tieners wat worstel met die geweldige stres van die kompetisie-gees via die moderne media in ons generasie.  Nogtans kan ek nie anders nie as om te vra watter boodskap regtig oorgedra word hier en wat die uiteindelike effek van hierdie boodskap sal wees? 

Die implikasie is dat ons die stemme in ons gedagtes wat ons wil vertel dat ons "nie genoeg is" nie en dit "nooit sal maak" nie, moet weerstaan.  Daarteenoor moet ons glo ons ís genoeg in onsself en ons sál dit maak.  Die vraag is, word ons ooit in die Bybel op hierdie manier bemoedig?

Is God regtig my "groot motiveringspreker" wat Sy "groot motiveringshandleiding" (die Bybel, in hierdie verstaan van die Christelike lewe) gebruik en as't ware langs die kantlyn van my lewenswedloop staan en my dan kragtig aanpor om te glo dat ek "genoeg" is in myself en dat ek moet glo "I will measure up"?  Dat ek eintlik baie sterker is as wat ek dink?  Dat Hy vir my wil sê "jy is sterk" wanneer ek dink "ek is swak"? 


Die Bybel sê onder andere die volgende:

"Eindelik, my broeders, word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY STERKTE [my beklemtoning]." Efesiërs 6:10

"Stry die goeie stryd VAN DIE GELOOF, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is.." 1 Tim. 6:12

"Jy dan, my seun, wees sterk DEUR DIE GENADE WAT IN CHRISTUS JESUS IS." 2 Tim. 2:1

Vir die dissipel van Jesus is bemoediging IN CHRISTUS.  Wanneer die Bybel praat van wie ons is "in Christus" is die idee nie dat ons nou die groot motiveringspreker in ons het wat as't ware buite ons persoon staan en ons aanmoedig om die beste weergawe van onsself te wees op hierdie aarde nie.  Geensins nie! 

Die punt is eerder dat ons geplant is in Sý krag en in Sý wysheid en geregtigheid.  Dit is wat dit beteken om "in Christus" te wees.  Daar is 'n baie fyn lyn hier wat ons mooi moet onderskei, want dit maak uiteindelik 'n reuse verskil aan die manier wat ons leef op aarde en dit het verreikende implikasies vir ons en ons families. 

In onsself is ons steeds niks en bly ons harte bedrieglik.  Ons bly ook steeds geneig om onafhanklik van God te wil leef.  Luister bietjie wat die apostel Paulus hieroor te sê het:

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.  Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, SODAT ONS NIE OP ONSSELF SOU VERTROU NIE, maar op God wat die dode opwek." 2 Korinthiërs 1:8-9

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon." 2 Korinthiërs 12:9

Die ware stryd is dus eerder dat ek daagliks moet veg teen die stemme wat my wil vertel dat ek wél genoeg is in myself en dat ek dit kán maak met genoeg geloof in my eie vermoëns.  Ek het mos nou Jesus as my "groot motiveringspreker" en die Bybel as my wonderlike "motiveringshandleiding"?!


'n Meer Bybelse weergawe van bogenoemde gewilde liedjie sou wees:

"I keep fighting voices in my mind that say I ám enough
Every single lie that tells me I wíll one day measure up"

"You say I am weak when I think I am strong...
And I believe, oh I believe, What you say of me I believe "

Dít is die essensie van ons stryd as dissipels van Jesus.  Die waarheid is letterlik dat ons almal 'n opgeblaasde idee van onsself het en as ons ballon nie afgeblaas (sommer gebars) word nie bly die prognose van ons lewenswandel rampspoedig.  Liewer alle vertroue in myself verloor sodat ek kan leef in en vanuit die "ware wynstok".

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5