"As jy leef
in die skemergebied (twilight zone) tussen godsdiens en die krag van die
evangelie kan jy vir jare die boodskap van "nie ek nie, maar Christus in
my" (Gal. 2:20) hoor en steeds glo dat jou eie wilskrag en pogings eintlik
maar die deurslaggewende faktor is vir oorwinning. Wat 'n tragedie!"
Wednesday, 24 February 2021
DIE SKEMERGEBIED VAN GODSDIENS
Thursday, 11 February 2021
JOU BYBEL BEGIN NIE IN GENESIS 1 VERS 1 NIE
Wanneer dinge moeilik raak, gaan terug na die begin. Die heel begin. Jou Bybel begin nie in Genesis 1 vers 1 nie maar in Johannes 1 vers 1 en Efesiërs 1 vers 4.
"In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie." Johannes 1:1-3
"Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees." Efesiërs 1:4
Paulus skryf sy brief aan die Efesiërs tydens Romeinse gevangenskap. Johannes skryf sy evangelie eweneens in baie moeilike tye vir die dissipels en gemeentes; tye van vervolging en afvalligheid. Beide Johannes en Paulus neem ons terug na die heel begin (voor die skepping) sodat ons kan dink vanuit die ewige verlede. Niks gee vir 'n ware dissipel van Jesus soveel rigting en niks gee meer troos in moeilike omstandighede as om die ewige voorneme van God in Sy Seun te bedink nie.
"Volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here." Efesiërs 3:11
"This was according to the eternal purpose which He purposed in Christ Jesus our Lord." Ephesians 3:11
Die probleem is egter dat dit vir ons dikwels so teenproduktief skyn te wees om in moeilike omstandighede weg te kyk van die dinge rondom ons en die onstuimigheid in ons binneste en werklik te fokus op iets wat vir ons miskien esoteries klink en ver verwyder van ons daaglikse lewens.
Maar onthou, niks kan tog meer sin maak vir 'n dissipel van Jesus as om dinge vanuit die Vader se perspektief te sien nie! Sy perspektief is die Seun en ons assosiasie met die Seun, selfs voor die skepping. Dit is die essensie van ware geloof; om te sien dat God die Vader van die begin af beplan het dat ons sou lewe in, deur en vanuit die Seun. Dit gee ons weer ankers, vleuels en nuwe moed om IN CHRISTUS uit te styg bo ons omstandighede.
Tuesday, 2 February 2021
'N KOEI WAT STAAR NA 'N NUWE PLAASHEK
Jy het 'n gees en dit is nie jou siel nie!
Al ooit gewonder hoekom dit so moeilik is vir jou om rus te vind in jou binneste? Al ooit gewonder hoekom jy kan glo en bely dat die werk van Jesus afgehandel en volmaak is, maar in jou binne-wêreld beleef jy nie veel daarvan nie? Dit kan wees omdat jy nog nooit 'n openbaring gekry het van die feit dat jou gees iets anders is as jou siel nie.
"Maar
wie die Here aanhang, is een gees met Hom." 1 Korinthiërs 6:17
"Want
die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard,
en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is
‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart." Hebreërs
4:12
"En
mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en
siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse
Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 5:23
Dit is 'n glashelder en onaanvegbare leer van die Nuwe Testament dat die objektiewe en uiterlike verlossingswerk van God in Christus bedoel is om vir dissipels 'n subjektiewe en innerlike belewenis te wees. Een van die grootste redes (nie die enigste rede nie) hoekom die werklikheid van hierdie "groot saligheid" (Heb. 2:3) nie 'n plek kry om as't ware te land in dissipels se ervaring nie is omdat so baie amper geen insig het in die verskil tussen die siel en die gees van die mens nie.
Ja, ek is deeglik bewus van al die teologiese argumente wat die twee (siel en gees) wil saamgooi asof daar geen verskil is nie. Daar is net sulke goeie teologiese argumente aan die ander kant, maar natuurlik nie in die hoofstroom van die populêre teologie nie. As ons egter vir 'n oomblik die saak minder direk benader, d.w.s. nie net m.b.t. die manier wat die woorde "siel" en "gees" gebruik word in die Skrif nie ("paralysis by analysis"), maar die persoonlike toepassing van verlossing in die lewe van elke dissipel sien ons dat dit hier gaan oor meer as net woorde en terminologie.
Ek wil nie onnodig op tone trap nie, maar dit is ongelukkig waar dat in die meeste gevalle mense se reaksie op die lering en belydenis van die waarheid van "ons in Christus" en "Christus in ons" soortgelyk is aan die uitdrukking van 'n koei wat staar na 'n nuwe plaashek (hy weet nie wat dit is of wat om daarmee te maak nie). Een van die hoofredes hiervoor is omdat mense instinktief weet dat die werk van God in hulle siel (hulle denke, emosies en wil) vir seker nie afgehandel is nie, so hoe kan hulle 'n INNERLIKE BELEWENIS (wat lei tot rus) van die afgehandelde werk van Christus en die diep geestelike waarheid van eenheid met Hom hê. Hmmm...dit is presies die punt! Dit is NIE in jou siel nie, dit is in jou gees!
Dit is gewoonlik eers wanneer jy begin besef dat jy 'n gees het (die menslike gees) wat dieper in lê (taal is beperk in die oordrag hiervan) dat die kosbare waarheid van jou eenheid met Christus en Sy werklike (nie simboliese) inwoning diep in jou binneste vir jou openbaring raak. Kan dit wees dat daar 'n "dimensie" binne in my is wat werklik losstaan van my teologies verwarde denke, my op-en-af emosies en hierdie onbetroubare wil (wilskrag) van my? Daar is! Die dag wat jy dit sien en glo verander alles.