"Want julle is tot vryheid geroep, broeders;
gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien
mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy
moet jou naaste liefhê soos jouself." Galasiërs 5:13-14
Die vryheid wat
die kruis bring lei tot 'n lewe van liefde en diensbaarheid en vervul sodoende
die wet. Die doel van die wet was dus
nie in die eerste plek rituele, spesiale dae en ander godsdienstige aksies en
aktiwiteite nie, maar onselfsugtige LIEFDE.
Die rituele en spesiale dae en ander detail was bedoel om skadu's en
tipes te wees van die innerlike werking van Christus wat altyd veronderstel is
om te lei tot 'n lewe van liefde.
"Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat
julle nie die een deur die ander verteer word nie." Galasiërs 5:15
Die gevolg van
menslike godsdienstigheid is juis presies die teenoorgestelde van liefde, want
dit is self-gerig! Dit bly net besig met
die self en daarom kan mense wat besig is met hierdie
"self-godsdiens" nooit in vrede, liefde en diensbaarheid met ander
saamleef nie. Vormgodsdiens is geweldig
liefdeloos en dit verwoes verhoudings.
Dit gebeur so
maklik dat ons besig raak met allerhande godsdienstige dinge en leringe wat ons
beskou as baie geestelik, maar dan kom ons agter dat ons gesindheid teenoor
mense verhard. Daarteenoor bring die
evangelie altyd 'n sagtheid in ons hart teenoor mense, maar sonder om die
waarheid van die Woord te kompromitteer.
Die Heilige Gees sal ons altyd dieper inlei in die waarheid van die
evangelie, met toenemende onderskeidingsvermoë, maar terselfdertyd met
verruiming van hart en groter verhoudingskapasiteit.
"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal
toeneem in begrip en fyn aanvoeling." Filippense 1:9 (NAV)
"En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in
liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is." 1 Thessalonicense
3:12