Geen
appél op die afgehandelde werk van Christus of enige dispensasionele argument
oor die ongeldigheid van Jesus se evangelisasiepraktyke "voor die
kruis" vir ons wat leef "na die kruis" kan ooit die nodigheid
vir die voorbereidingswerk van die Heilige Gees in die hart van 'n ongelowige
ophef nie. Alle mense op aarde het 'n inherente en sistemiese hoogmoed,
eie-geregtigheid en onafhanklikheid wat ons laat vertrou op onsself en op die
gewaande bronne van die self-lewe.
Daarom
is dit so gevaarlik om vir ongelowiges 'n subjektiewe werk te verkondig wat
kwansuis reeds ín hulle waar is. Ware evangelieverkondiging is die
verkondiging van 'n objektiewe werk van God op grond waarvan almal uitgenooi
word om daaraan deel te hê deur geloof.
"Broeders,
ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle
ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as
julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of
julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle
oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het
volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek
is volgens die Skrifte." 1 Korinthiërs 15:1-4
Mense
se harte is nie gereinig voordat hulle nie glo nie.
"En
Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte
gereinig het deur die geloof." Handelinge 15:9
In
'n sin kan 'n mens sê dat die Heilige Gees die bediening van Johannes die doper
oorgeneem het en dat Hy nou die Een is wat uitroep "alle vlees is
gras" sodat mense se harte voorberei kan word om die evangelie dan te
ontvang in 'n "edele en goeie hart" (Lukas 8:15).
"
‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy
aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as
die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!" Jesaja
40:6-7
"En
as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van
oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie." Johannes 16:8-9
Die
oortuiging van die Heilige Gees met betrekking tot sonde wys vir ons so
duidelik dat mense nie van nature net in Jesus glo en Hom vertrou met hulle
hele lewe en toekoms nie. Van nature vertrou mense in hulleself en
hulle eie bronne en vermoëns. Mense is van nature tydgebonde en het
bykans geen begrip van die ewigheid en die erns van God se heiligheid en die
komende oordeel nie. Die gewigtigheid van lewe en dood en ewigheid is nie
net spontaan in mense se verwysingsraamwerk nie. Ons generasie is werklik
arm aan die belangrikheid van die voorbereiding van mense se harte vir die
evangelie. Dit is fataal.
Ja,
sekerlik is die inhoud van die evangelie self nie die verlorenheid en
verdorwenheid van mense nie, maar dit ís onontbeerlike voorbereidingswerk vir
die ontváng van die evangelie. Om dus te sê dat ons nie moet praat van sonde
wanneer ons die evangelie verkondig nie is onbeskryflik gevaarlik, want mense
is van nature altyd reg om die voordeel van die evangelie vir hulleself te eien
sonder om aan die debiet kant van die lyn te deel met hulle diep verlorenheid
en sondigheid. Die eerste oproep van die evangelie tot mense se harte is
bekering! As daar nie 'n wegdraai is van alle sélf-vertroue en 'n
wegdraai van die dodelike innerlike "wet van die sonde en die dood"
(Rom. 8:2) nie, kán daar nie 'n ware draai van die hart wees na totale vertroue
in Jesus nie. Dit is 'n logiese, teologiese en antropologiese
onmoontlikheid!
Ons
sien in Handelinge dat die subjektiewe uitwissing van sondes voorwaardelik is
en die voorwaarde is bekering. Hoekom? Want die hart van die mens
moet eers wegdraai van self om te kan draai na verlossing in Christus alleen.
"Kom
dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van
verkwikking van die aangesig van die Here mag kom." Handelinge 3:19
Hierdie
teks staan geensins teenoor die objektiewe werklikheid waarvan 2 Korinthiërs 5
vers 19 praat nie. Dit is eerder 'n subjektiewe toe-eiening van die
objektiewe waarheid van Christus se volmaakte en afgehandelde werk.
"Naamlik
dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade
nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te
vertrou."
Ek
het onlangs gehoor iemand gee 'n boodskap oor hoe waardig ons almal nou is na
die kruis. Dit is 'n ernstige mistasting. Die woord genade is
sentraal tot die hele evangelie en dit voorveronderstel juis ons
ónwaardigheid. Ek kan nie die woord "genade" waardeer of gebruik
in my prediking en gesprekke as ek dit nie verstaan in die lig van ons almal se
ónwaardigheid nie. Ons waarde as mense wat geskape is na God se beeld en
gelykenis is iets heeltemal anders. Ons is vir seker waardevol, maar vir
seker nie waardig nie!
"En
Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was
nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here,
moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie."
Lukas 7:6
"Salig
is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die
hemele." Mattheüs 5:3
"En
die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef
nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar,
genadig!" Lukas 18:13
"Nou
weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is,
sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees."
Romeine 3:19
"Toe
hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander
apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle:
Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus
Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees
ontvang." Handelinge 2:37-38