Monday, 15 June 2020

WEET WAAR OM TE GAAN VOL MAAK


"En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde." 1 Korinthiërs 13:13 

Christene se innerlike dryfkrag is geloof, hoop en liefde. Die wêreld s'n is prestasie, ambisie en eie-belang.

Hierdie radikale kontraste tussen die ou en die nuwe skepping moet reg van die begin af baie duidelik uitgespel word vir ons kinders en diegene met wie ons 'n pad van dissipelskap stap.

Geloof, hoop en liefde is as't ware die petrol in ons tenk waarsonder ons nie kan vorder as dissipels van Jesus nie. Ons vertrou nie op onsself en ons eie vermoëns nie, ons verwagting is nie gesetel in die tydelike wêreld nie en ons leef nie meer vir onsself nie, maar vir Christus en ander mense.

"Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede  en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader." 1 Thessalonicense 1:2-3 

Dit is egter moontlik om hierdie krities belangrike waarheid aangaande 'n lewe van geloof, hoop en liefde ywerig vir jou kinders te leer oor 'n tydperk van jare en hulle steeds te los met 'n onderliggende gevoel van onvervuldheid. 

Hoekom?  Want geloof, hoop en liefde kan steeds gesien word as slegs dinge wat ons moet doen en gesindhede wat ons moet hê.  Die fokus kan dus grotendeels op myself wees en wat van my verwag word.  Die Bybel leer egter dat geloof, hoop en liefde net wortel kan skiet en groei in my hart wanneer God en Sy wonderlike eienskappe en Sy kosbare beloftes in Christus die middelpunt van my lewe is.

Ons geloof is nie in geloof nie, ons hoop is nie in hoop nie en ons liefde is nie gefokus op die konsep van liefhê nie, maar op God wat die outeur van geloof, hoop en liefde is.

"Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus." Romeine 10:17  (NAV)

"En julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag." Kolossense 2:10 

"Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof..." Hebreërs 12:2a 

Die dag wat my kind uit my huis uit stap die grootmenswêreld in wil ek hê hy moet verstaan dat die anderste lewe van 'n dissipel van Jesus net moontlik is deur geloof, hoop en liefde. 

Bo alles wil ek egter hê hy moet hierdie drie essensiële elemente van die geestelike lewe aanhou vind in die wese en karakter van God en nie in homself nie.  Ek wil hê hy moet weet waar om te gaan vol maak.

No comments:

Post a Comment