Thursday, 17 October 2024

DIE HART VAN DISSIPELSKAP IS HERDERSKAP

Herderskap is een van die mees diepgaande Bybelse beelde wat gebruik word om die plig van dissipels in die omgee vir ander te beskryf. Van die begin van die Skrif openbaar God Sy verwagting dat Sy mense verantwoordelikheid vir mekaar moet neem, deur diegene wat aan hulle sorg toevertrou is, te lei, te beskerm en te koester.

In Genesis 4 vers 9, nadat Kain Abel doodgemaak het, het God vir Kain gevra: "Waar is jou broer Abel?" Alhoewel Kain met 'n uitdagende vraag geantwoord het - "Is ek my broer se wagter?" - weerspieël hierdie gedeelte 'n dieper waarheid. God se ondersoek was nie bloot 'n vraag na inligting nie; dit was 'n verwagting van aanspreeklikheid. Kain, as die ouer broer, is implisiet geroep om vir Abel te sorg. Sy versuim om dit te doen verteenwoordig 'n verwerping van die verantwoordelikheid om 'n herder vir sy  broer te wees. Selfs so vroeg in die mensegeskiedenis wys God vir ons dat ons bedoel is om ons broers se bewakers te wees—om vir mekaar te sorg, oor mekaar te waak en mekaar se harte gedurig in God se genade in te lei.

Die tema van herderskap bereik sy volheid in die lewe en bediening van Jesus, wat die Goeie Herder is (Joh. 10:11). Toe Hy die einde van Sy aardse bediening nader, het Jesus die belangrikheid van herderskap vir Petrus in Johannes 21:15-17 beklemtoon. Na Sy opstanding het Jesus vir Petrus drie keer gevra: "Het jy My lief?" En na elke bevestiging van liefde het Jesus vir Petrus 'n direkte opdrag gegee: "Laat my lammers wei," "Pas my skape op," en "Laat my skape wei." Hierdie woorde het duidelik die rol van dissipelskap as een van herderskap gevestig – die versorging van die kudde gelowiges met dieselfde teerheid, beskerming en leiding wat 'n herder aan sy skape bied. Petrus is nie net met 'n taak toevertrou nie, maar met die geestelike welsyn van die gemeenskap van gelowiges.

Jare later, in 1 Petrus 5:2-4, vermaan Petrus die ouderlinge van die gemeente om as herders  “toesig te hou oor die kudde van God" en dit "nie uit dwang nie, maar gewilliglik". Hier beklemtoon Petrus dat leiers gewilliglik vir gemeentelede moet sorg, nie vir persoonlike gewin nie, maar uit liefde en gehoorsaamheid aan God. Hierdie opdragte van Petrus strook met die hart van ware dissipelskap – om saam met ander te wandel in hul geestelike groei en hulle te help om Christus werklik te ken en te volg.

In Esegiël 34 bestraf God die valse herders van Israel vir hulle verwaarlosing van die volk. In plaas daarvan om die kudde te voed, het hulle hulself gevoed en die skape toegelaat om verstrooi te word. God se misnoeë met hierdie leiers weerspieël Sy diepe besorgdheid oor Sy mense se geestelike gesondheid. Herderskap vereis aandag, opoffering en 'n hart wat die sorg en deernis van Christus, die Opperherder, weerspieël.

Uiteindelik herinner die beeld van herderskap ons dat dissipelskap nie oor mag of beheer gaan nie, maar oor liefde, sorg en leiding. Net soos Jesus Sy lewe vir Sy skape gegee het, word ons geroep om ons lewens uit te stort in diens aan ander, om hulle in 'n dieper verhouding met Christus te lei. Wanneer ons begin om weg te kyk van onsself en werklik besorg te wees oor ander dissipels se geestelike welsyn, vervul ons God se oproep om ons "broer se wagter" te wees, en toon ons dieselfde sorg as wat God vir Sy mense deur die hele Skrif openbaar.

Herderskap is 'n sentrale tema in die Bybel se benadering tot dissipelskap. Van God se oproep aan Kain om vir sy broer te sorg, tot Jesus se opdragte aan Petrus in Johannes 21, en die apostoliese instruksies aan die vroeë kerk, is die rol van herderskap van ander krities belangrik. Dit behels liefde, opoffering, beskerming en leiding van ander tot geestelike volwassenheid in Christus. As ons werklik begin verantwoordelikheid neem vir mekaar se harte en lewens as dissipels, neem ons deel aan Sy ewige doel om 'n getroue en groeiende gemeenskap in Christus te vestig tot uitbreiding van Sy koninkryk en seën van baie ander soos wat hierdie kosbare herderlike liefde organies begin uitkring deur verhoudinge en families.

 

Tuesday, 11 June 2024

WANNEER DIE VERSTOPTE FONTEINE WEER OOPGAAN

Paulus sê in Kolossense 3 vers 16 dat die Woord van Christus ryklik in ons harte moet woon en verder dat ons mekaar moet leer en vermaan uit die oorvloed van daardie Woord in ons harte.

Hierdie opdragte is bedoel vir alle dissipels van Jesus, nie net vir pastore of predikers nie.  Kom ons kyk na 'n paar skrifgedeeltes in Handelinge om 'n idee te vorm van die onbeperkte dinamika van die Woord van Christus in daardie vroeë dissipels.

"En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof."  Handelinge 6:7

"Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig." Handelinge 8:3-4

Selfs nie vervolging kon hierdie eerste dissipels weerhou daarvan om met blydskap die Woord van Christus te spreek en verkondig nie.

"Maar die woord van God het gegroei en toegeneem." Handelinge 12:24

Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik dat die Woord van God bedoel is om 'n dinamiese krag te wees in die hart, mond en lewe van elke gelowige en nie net in predikers, ouderlinge en professore van teologie nie.

Ons sien in hierdie tekste uit die boek Handelinge dat die Woord van God kragtig gegroei en toegeneem het. Dit is verder baie duidelik dat die Woord waarvan gepraat word, in die harte van mense gegroei het en nie in 'n vakuum nie. Waar staan ons  vandag m.b.t. hierdie krities belangrik aspek van gemeentelewe? As ons nie 'n opstanding van die Woord in die harte van individuele gelowiges sien nie, sal ons nooit die dinamiese en opwindende gemeentelewe ervaar wat God nog altyd vir ons in gedagte gehad het nie.

Maar wat het ons met die Woord gedoen?

• ons het dit die byna eksklusiewe domein van professionele mense gemaak; pastore, predikers en Bybelskool professore

• ons het dit vernou tot die milieu van die verstand; slegs vir onderrig of verdediging van die geloof, om geskille te wen met ander gelowiges wat anders glo of om in Bybelkursusse en Bybelstudies gebruik te word

• ons gebruik dit in dissipelskapkursusse vir beperkte tye van spesiale onderrig vir geselekteerde groepe

• ons het die gebruik en genot daarvan byna uitsluitlik tot ons persoonlike stiltetye en tot die stiltetye in ons gesinne beperk

Ja, die Bybel bevat wel teologie, dit is bedoel om valse leerstellings te weerlê, dit moet bestudeer en gebruik word in Bybelskole en dissipelskapkursusse, maar die Bybel is ook meer as dit. Die dinge hierbo genoem is 'n goeie begin en dalk is die meeste daarvan, tot ons skande, nie eers meer 'n werklikheid in baie gemeentes vandag nie, maar selfs al is dit sentraal in die bogenoemde kan dit nie net daar bly nie. 

 

Die Bybel is by uitstek bedoel vir die hart. Dit moet geniet word soos ons 'n goeie ete geniet en dit met mekaar deel. Die Bybel is die openbaring van Christus en dit is bedoel om ons tot so 'n mate te besiel dat ons dit spontaan met mekaar begin deel, nie omdat ons moet of omdat dit die Christelike ding is om te doen nie, maar omdat ons 'n innerlike drang het om te spreek oor dit wat vir ons kosbaar en lewegewend is.

 

Friday, 7 June 2024

EEN LEERMEESTER, EEN VADER, EN EEN LEIER IN DIE GEMEENTE VAN GOD

Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.” Mattheüs 23:8-10 (NAV)

 Hierdie verse is vir seker nie onder die gunsteling gedeeltes van die Bybel vir die voorstanders van georganiseerde godsdiens nie. Boonop vind die institusionele kerk ook allerlei maniere om die impak van Jesus se opdragte hier op slinkse wyses te omseil sodat die mag en beheer in mensehande kan bly.

 Ja, daar is leraars (Efes. 4:11), geestelike vaders (1 Kor. 4:15) en leiers (Rom. 12:8) in die gemeente van God. Ware leraars lei egter altyd dissipels na die Een leermeester en Sy kosbare innerlike lering. Ware geestelike vaders vind vreugde daarin om die kinders van God se harte te voed en verbly deur op die Een Vader van ons almal te fokus (Efes. 4:6). Ware leiers wys voortdurend vir dissipels uit dat Jesus alleen die “Leidsman en Voleinder” van ons geloof is (Heb. 12:2).

 Enigiemand wat die Woord van God werklik respekteer en buig onder die Goddelike gesag daarin vervat, sal sonder baie moeite kan sien dat die godsdienstige titels van die institusionele kerk geen plek het in die gemeente van God nie en dat die sieklike fokus op geld, geboue en getalle saam met al die titels en die gewaande status sonder seremonie by die agterdeur uitgeboender kan word. 

 Daar is nie ‘n baba in daai badwater nie. Gooi dit maar alles uit en wees bereid om sonder frille en voorbehoude net ‘n lid te wees van die eenvoudige, organiese gemeente wat onderhou en gebou word deur Een leraar, Een Vader en Een leier.

Wednesday, 22 May 2024

KEER TERUG NA DIE RYKDOM VAN DIE EENVOUD IN CHRISTUS

Daar is geweldig baie verwarring vandag in die kerk oor ‘n legio leerstellings.  Dissipels van Jesus het toegang tot soveel verskillende leringe deur die multimedia.  Hoe moet ons dan onsself posisioneer in al hierdie verwarring?


Satan sal alles in sy vermoë doen om die klem weg te neem van Jesus af en dit op “goeie” dinge te plaas, maar dinge wat ons weglei van God se meesterplan.  "Winde van lering" is nie noodwendig net ooglopend valse leringe nie (Efesiërs 4:14).

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.” 2 Korinthiërs 11:3  

Die grootste fout wat ‘n dissipel of ‘n gemeente ooit kan maak is om Jesus as vanselfsprekend te aanvaar.  Laat ek verduidelik wat ek bedoel.  Jesus plus niks is gelyk aan alles, maar Jesus plus enigiets is gelyk aan niks!  Alles wat die Vader ooit vir ons wou gee is in sy Seun.  In Hom alleen het ons die volheid (Kolossense 2:10).  In Hom alleen vind ons totale vervulling.  Die oomblik wat ons dink daar is iets ekstra wat ons kan byvoeg om ons lewe as dissipels meer volkome te maak, val ons in die strik van die satan en verloor ons die belewenis van die volheid wat ons in Jesus het.  

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” Hebreërs 1:1

God het finaal gespreek in sy Seun.  Dit is so maklik om vas te val in ‘n patroon van denke wat aanneem dat die boodskap oor Jesus en die inhoud van evangelie net die begin is, maar dat ons dan moet voortgaan na ander en dieper dinge.  Dit is ‘n verwoestende aanname.  Alles wat in die Nuwe Testament geskryf is oor die ervaring en heerlikheid van dissipels en gemeentes word slegs gevind in die meer en meer intieme ken van Jesus in sy volheid en majesteit.  

Die Heilige Gees se primêre bediening is om Jesus te openbaar as ons alles (Johannes 16:14)!  Vervulling met die Gees is gelykstaande aan die belewenis van die Seun in die rykdom van Sy heerlikheid soos geopenbaar in die evangelie . Vergelyk Efesiërs 5 verse 18-19 en Kolossense 3 vers 16.

“Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde." 1 Korinthiërs 2:2

"Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” 1 Korinthiërs 2:12

Let op hoe Paulus in hierdie gedeelte die rykdom van alles wat God ons geskenk het verbind met Jesus.  

Monday, 20 May 2024

DIE GEMEENTELEWE WAAR CHRISTUS SENTRAAL IS

Volgens die Nuwe Testament kan gemeentelewe nie losgemaak word van die lewe van Christus in die gelowige nie.  Alles wat ons nodig het is in Christus en ons gemeenskap met God en met mekaar is net outentiek en eg solank as wat dit vloei uit ons fokus op Christus en ons eenheid en gemeenskap met Hom.  Hy is die Hoof en ons is die liggaam en daardie organiese en geestelike eenheid is die basis van gemeentelewe.  

Daarom volg dit logies dat ‘n gemeente net gebou kan word vanuit ‘n absolute fokus op Christus ons Here.  Christus in ons is ons lewe volgens Kolossense 3 vers 4 en hierdie hemelse werklikheid is nie net bedoel vir die individu se genieting en opbouing nie, maar ook vir die gemeente.   Ons gemeenskap is in Christus.  Die alternatief is altyd ‘n samekoms rondom persoonlikhede, bedieninge, spesifieke leringe, en ‘n legio ander dinge wat die middelpunt is in so baie gemeentes reg oor die wêreld.  Ons eenheid volgens die Nuwe Testament is egter in Christus.   

Dit is net wanneer ons verstaan dat die ‘nuwe skepping’ die locus van ons gemeenskap is dat ons die wonder van gemeentelewe begin sien en waardeer en ontsnap uit sieldodende godsdienstradisies.  Die Christus-lewe is by uitstek bedoel om gedeel te word met die wat ook dieselfde oorsprong en identiteit het, kinders van God in Christus.  Wanneer ons dit verstaan kan ons aktief en intelligent saamwerk met God se doel in die heelal soos duidelik uitgespel in Efesiërs 2 verse 19 tot 22:

“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,  gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,  in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here,  in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees."


Wednesday, 17 April 2024

SLAAN AG OP DIE EEN WAT IN ONS WOON EN WERK EN ONDER ONS WANDEL

As ons in die bedeling van die nuwe verbond leef waar die Gees van God direk op elke wedergebore mens se hart inwerk, kan dit vir ons reg wees om net woorde, aktiwiteite, liedere en preke op mekaar te stapel sonder om eers ‘n tydjie op God te wag?  Wat kan belangriker wees as om saam op God te wag wanneer ons ontmoet as Sy lewende tempel? 

“...Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.” 2 Kor. 6:16


Dit is tog God wat dinamies in ons werk wat vir Hóm welbehaaglik is (Flp. 2:13) in ons korporatiewe aanbidding as liggaam van Christus. 


Ons moet leer om mekaar net te bedien met die mate van innerlike genade wat ons direk van God ontvang soos wat ons op Hom wag.  O, hoe wonderlik is hierdie innerlike manier van aanbidding.  Dít is aanbidding in gees en waarheid, maar dit is vreemd vir die mens van die sintuie, die sielsmens wat nie werklik ag slaan op die dieper werking van God se Gees in die innerlike mens nie. 


Tragies genoeg is die meeste Christene vandag so gewoond aan uiterlike aktiwiteite en programme dat hulle nie in staat is om enige innerlike beweging van die Gees te onderskei nie.  En dit is nie, soos so baie dink, 'n kwessie van die gevoelens teenoor die verstand in godsdiens nie.  Die werk van die Gees in die gees van die mens (1 Kor. 2:11) is baie dieper as intellek, emosies, wilskrag, persoonlikheid of gawes.


Monday, 1 April 2024

KEER JOU RUG OP VORMGODSDIENS EN OMHELS JOU NUWE LEWE IN CHRISTUS SONDER VOORBEHOUD

 Paulus gaan hier (Kolossense 2:16-23) voort om die gelowiges in Kolosse aan te spoor om vas te staan in die volheid van Christus, te midde van al die godsdiensfilosofieë en aktiwiteite van mense wat "nie aan die Hoof vashou nie" (v. 19). Hulle moet niemand toelaat om hulle te diskwalifiseer en hulle te beroof van die vreugde in Christus en ons erfenis in Hom nie. Hulle heiliging is gebaseer op hulle dood met Christus (3:3), nie op enige vorm van asketisme nie. Die vlees sal aan niks anders as die kruis toegee nie. Geen mate van uiterlike dissipline kan die kragtige begeertes van die vlees oorwin nie ((v.23) en geen uiterlike rituele, godsdienstigheid of "visioene" kan iets byvoeg tot wat ons reeds gratis en onverdiend in Christus ontvang het nie.

’n Dissipel van Jesus moenie toelaat dat enigiemand sy aandag aflei van sy posisie in en identifikasie met Christus nie. Ons moet vashou aan die Hoof en ons verheug in die vrug van Sy verlossingswerk. Ons moet alles wat ons nodig het in Hom alleen vind. Sekerlik moet ons gedissiplineerde lewens lei (1 Kor. 9:27), maar ons durf nie terugval op enige uiterlike dissipline óm vervulling te probeer vind nie.  Ons het dit reeds in Christus ontvang (Kol. 2:9-10).

"Dié wat die oorvloed van genade en die gawe van geregtigheid ontvang het, sal in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus." Romeine 5:17b

Volmaaktheid word in Christus alleen gevind. Ons moet eens vir altyd wegdraai van die skadus van die Ou Testament en die vervulde werklikhede in Christus omhels. Beklee jou met die waarheid dat jy volmaak is in Christus en in 'n sin "nie meer lewe in hierdie wêreld nie" (2:20)! Moenie toelaat dat enigiemand of enigiets jou geloof in die genoegsaamheid van Christus laat wankel nie! Omhels bewustelik die nuwe skeppingswerklikhede in Hom. Glo en bely volheid in Christus en laat toe dat die waarheid van jou nuwe posisie jou inlei in die ervaring van Christus soos wat Hy in jou gevorm word (Gal. 4:19) in die leefruimte van vaste geloof.

Thursday, 28 March 2024

DIE KENNIS VAN VIER WESENSREALITEITE WAT BALANS BRING EN HANDHAAF IN DIE LEWE VAN ‘N DISSIPEL

“Ek is nog nie wat ek wil wees nie. Ek is ook nie wat ek gaan wees nie. Maar, prys die Here, ek is nie meer wat ek eens was nie.” Gloria Gaither


Daar is vier krities belangrike innerlike realiteite van ons lewe as dissipels wat ons gedurig in die oog moet hou as ons ‘n gesonde balans wil handhaaf in ‘n gevalle wêreld. 


Die eerste realiteit is dat ons reeds nuwe skeppings is in Christus en dat hierdie nuwe mens se lewe en identiteit eksklusief opgesluit is in die Persoon van Christus en gegrond is in die historiese werklikheid van Sy opstanding uit die dode. 


“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Korinthiërs 5:17


“En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efesiërs 4:24


Saam met hierdie kosbare werklikheid moet ons vashou aan die waarheid van die toekomstige volle realisering van dit wat ons reeds is in Christus, met Sy wederkoms. Dit moet vir ons ‘n innerlike werklikheid wees wat deel uitmaak van ons identiteit in die hier-en-nou van ons lewens. 


“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Johannes 3:2


Hierdie waarheid is die vierde realiteit op die tydlyn van ons lewens en dit moet in geloof vasgehou word saam met die eerste realiteit. 


Tussen die eerste en die vierde realiteite is daar egter twee realiteite waarmee ons móét rekening hou, anders verloor ons balans. 


Die tweede realiteit is ons ononderbroke stryd met dit wat ons steeds is in onsself, dit wat die Bybel “die vlees” noem. 


“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” Galasiërs 5:17


Dissipels is soms verbaas as hulle “die vlees” sien manifesteer in hulleself of andere. Hoewel ons nie verskonings moet maak vir vleeslikheid nie, behoort ons nie verbaas te wees in die sin van “waar kom dit nou vandaan” nie. Dit was nog altyd daar en sal wees tot op die dag wat ons verheerlikte liggame kry. 


Dit bring ons by die derde realiteit, naamlik die potensiaal vir geestelike groei in hierdie lewe. 


“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Korinthiërs 3:18


“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2


Alhoewel “die vlees” ‘n innerlike werklikheid is vir die dissipel, mag hy of sy nooit vrede maak met hierdie “vlees” nie. Daar is oorwinning vir ons in Christus. Daar is iets soos geestelike groei en geestelike volwassenheid. Dit beteken dat ek in die hier-en-nou reeds ‘n transformasie van my siel kan beleef. Christus word in hierdie proses ín my gevorm (Gal. 4:19) en ek word selfs in my persoonlikheid meer soos Jesus. Dit beteken egter nooit dat “die vlees” verander het nie en daarom moet ek steeds waak en bid en op my hoede wees. 


“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Korinthiërs 10:12


Om op te som kan ons dus sê dat die eerste en vierde wesensrealiteite van ‘n dissipel sy ware identiteit is, maar dat hy gedurig ook rekening moet hou met die tweede realiteit en hom deurentyd ernstig moet beywer om deur die Gees die derde realiteit toenemend verwerklik te sien in sy lewe. Dit is dan ook die groot teiken waarna alle dissipels moet mik in hierdie lewe. 


“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” Filippense 3:12


Mag die Here ons insig gee in hierdie vier realiteite sodat ons gebalanseerd kan lewe as dissipels van Jesus en “die dinge kan onderskei wat regtig saakmaak” (Filippense 1:10).



Tuesday, 5 December 2023

DIE TRAGEDIE VAN MENSE SONDER ‘N MISSIE

 Vanaf die eerste bladsye van die Nuwe Testament regdeur tot die laaste woorde in Openbaring sien ons dat God besig is om ‘n meesterplan in Sy Seun uit te voer en dat niks en niemand dit kan stop nie. 

Vandat Jesus die eerste keer dissipels roep om Hom te volg, maak Hy dit duidelik dat Hy op ‘n missie is en dat die wat Hom volg onmiddellik ook Sy missie ontvang as ‘n lewenstaak. 


En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matthéüs 4:19


“Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Johannes 20:21


Wat gebeur egter as die kerk die hele konteks van die Nuwe Testament amper geheel en al begin mis en ignoreer a.g.v. die endemiese invloed van ‘n eksistensiële wêreldbeskouing wat al vir baie dekades soos suurdeeg die menslike bewussyn binnedring? Wat gebeur dan met die boodskap? 

Wat gebeur met die evangelie wat verkondig word? 


As ons die konteks ignoreer verloor die Bybelse stellings hulle betekenis. Dan word Bybelverse soos ‘n wasneus (wax nose) wat ons kan druk en manipuleer net soos ons wil. Dan word die voorspoed evangelie al hoe meer aantreklik en begin dit gaan oor ons tydelike omstandighede in plaas van ons missie as dissipels. 


Wat ‘n tragedie dat daar vandag duisende boodskappe uitgaan deur al die kanale van die massamedia wat die ewige koninkryksplan van God in Christus ignoreer en die evangelie reduseer tot ‘n kaartjie hemel toe en intussen ‘n gemaklike en onversteurde aardse bestaan. 


In Matthéüs 6 vers 33 gee Jesus vir ons broodnodige perspektief. God is nie onregverdig of onbewus van ons aardse worstelinge met die behoeftes van die tydelike nie, maar Hy dring daarop aan dat ons eers Sy koninkryksplan in Sy Seun omhels as ons eie missie van dag een af tot en met ons laaste dag en uur op aarde. 


“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matthéüs 6:33


Moenie dat enigiemand jou wysmaak dat God se plan verander het nie. Ons moet ons dringend bekeer van hierdie valse, missielose evangelie wat die hele koninkrykskonteks van die Nuwe Testament ignoreer. 


Tuesday, 2 May 2023

GENADE DOEN ALLES, MAAR WORD NET IN WAARHEID ONTVANG DEUR VERLORENES EN GEBROKENES

Genade is 'n allesomvattende woord in die Nuwe Testament.  Die evangelie word selfs genoem "die evangelie van die genade van God" in Handelinge 20 vers 24.  Genade skenk nie net vir ons onverdiend vergifnis nie, maar doen ook vir ons alles van die oomblik van wedergeboorte tot die einde van ons lewens. Jesus Christus ís die openbaring van God se genade vir die mensdom. 

"En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." Johannes 1:16

Ons durf nooit genade losmaak van Sy Persoon nie.  Die manier wat ons reageer op Hom is die manier wat ons reageer op genade.  Niks meer en niks minder nie.  Om my knie te buig vir Jesus is om God se genade in volheid te ontvang.  Ek kan nie aanspraak maak op genade as dít nie waar is van my lewe nie.

Ja vir seker, genade doen alles.  Maar hoekom word genade misbruik deur so baie?  Daar is seker 'n hele klompie antwoorde op daardie vraag.  Hier is 'n belangrike een.  Mense misbruik genade omdat hulle nie werklik besef hoe sondig en verlore hulle is nie.  As jy die plaag van jou eie hart ken, sal jy gryp na genade soos iemand wat besig is om te verdrink.  Hoe meer 'n mens sien hoe stukkend jy werklik binne-in jou is as gevolg van die sondeval, hoe meer sal jy genade in waarheid omhels en waardeer regdeur jou lewe en nie net eenmalig t.o.v. wedergeboorte nie.

Tim Keller het gesê, " The gospel is this: We are more sinful and flawed in ourselves than we ever dared believe, yet at the very same time we are more loved and accepted in Jesus Christ than we ever dared hope.”

Tuesday, 21 March 2023

LAAT RUIMTE VIR GOD OM JOU TE VERRAS

Regdeur die Bybel sien ons dat God op verskillende maniere werk om mense se harte voor te berei vir Sy wonderlike, verrassende dade in Christus. God is ons altyd een voor en daarom moet ons so versigtig wees om nie ons lewens te beplan soos die wêreld dit doen nie.

"Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas." Spreuke 19:21 (NAV)

"Moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen." Psalms 146:3
-4 (NAV)

God het ons gemaak en Hy is in beheer van Sy heelal. Hy het Sy eie planne vir ons lewens.

"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here... " Jeremia 29:11a (NAV)

"Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here." Jesaja 55:8 (OAV)


Al God se planne vir ons sentreer in Jesus. Net in Hom is daar volheid van seën en oorvloedige lewe.  Ons almal het egter so nodig om ons gedagtes daagliks te vernuwe deur die Woord (Rom. 12:2), sodat ons nie weer terug val na 'n ingesteldheid wat nie ruimte laat vir God om ons te verras nie.

Spreuke 3 verse 5 en 6 gee die heel beste raad in hierdie verband:

"Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak." Spreuke 3:5
-6 (OAV)

Dit is slegs wanneer ons, ons eie gewaande insig laat vaar dat die Here se paaie ons paaie word. Dit is slegs Sý paaie wat gelykgemaakte paaie is. Dit is 'n massiewe fout om self te besluit wat ons wil hê en dan die Here te vra om dít te seën.

Die probleem is altyd daai "eie insig". Dit is eers wanneer ons, ons "eie insig" begin wantrou dat ons werklik vordering maak as dissipels van Jesus.

Dit is juis om hierdie rede dat die "Onse Vader" begin met Sý naam, Sý koninkryk en Sý wil.  

 


Thursday, 16 February 2023

GENADE OF GODSDIENS

Slegs genade (die evangelie) bring onmiddellike vervulling in Jesus, vrede wat alle verstand te bowe gaan en onuitspreeklike vreugde. Genade sal jou in die Woord inneem. Genade sal jou na dieper studie van die Woord neem. Genade sal jou inbring in gebed en voorbidding. Genade sal jou voorberei vir ware geestelike oorlogvoering. Genade sal jou dring na aanbidding in musiek en sang. Genade sal jou inneem in spontane gemeenskap met ander gelowiges. Genade sal 'n evangelisasie-fontein oopmaak in jou. Genade sal 'n lewe van liefde en self-opoffering binne jou ontsluit. Genade sal die gawes van die Gees ontsluit. Genade sal maak dat jy harder sal werk as enige wettisis (legalist). Genade sal jou onderhou in tye van beproewing en lyding (2 Kor. 12). Genade sal jou voorberei vir die wederkoms van Jesus. Genade sal jou voorberei om jou lewe en reis goed te beëindig. Dit is alles genade, van begin tot einde. Glo dit!

Godsdiens, aan die ander kant, is soos om sop met 'n vurk te eet. Jy bly besig, maar bly ook honger. Bybelstudies, gebed, sang, kerkprogramme, geestelike oorlogvoering, evangelisasieprojekte en aan en aan en aan, ad infinitum, sonder einde. Ontelbare "geestelike aktiwiteite", maar baie min vervulling, vrede, vreugde, spontane oorloop en opborrel van goddelike liefde binne jou wat jou oor grense neem. Klink dit bekend? Dit is godsdiens. Dit is nie genade nie. Godsdiens werk altyd ná genade en vervulling. Die evangelie gee genade en vervulling en beveel ons dan om in die stroom en vloei van genade te bly.

"Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste."  Psalm 46:4

"En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly." Handelinge 13:43

Paulus en Barnabas het in effek vir hulle gesê “los nou julle godsdiens en volg die openbaring van God se genade in Christus”.

Thursday, 22 September 2022

HY'T SY LERING REGGEKRY, MAAR SY HART HET LEEG GEBLY

Reinheid van hart, nederigheid, liefde en 'n diensbare gees is belangriker as om altyd net presies reg te wees in ons leer. Leerstelling is baie belangrik, maar as ons die regte leer het sonder dat "Christus in ons gestalte kry" (Gal. 4:19) in reinheid, nederigheid en liefde, is ons sekerlik op 'n slegte plek.

Dit is moontlik om die letter van 'n leerstelling te hê sonder om die gees van daardie leerstelling te hê. Die "sin van Christus [mind of Christ]" (1 Kor. 2:16) is veel, veel meer as om net jou leerstelling reg te kry.

Die stryd om die waarheid van die evangelie sal altyd daar wees, want die satan is 'n bedrieër wat besigheid doen met vals leringe en daar is baie wat onbruikbaar langs die pad lê weens sy suksesvolle veldtog in hulle lewens. 

Maar 'n mens moet die vraag vra hoeveel ander lê uitgehaal langs die pad vir 'n ander, minder voor-die-handliggende rede, naamlik dat hulle gesonde lering verwar het met gesonde geestelikheid.  'n Mens kan gesonde lering hê  in jou denke en verkondiging, sonder dat daardie lering jou bring by reinheid van hart, nederigheid en liefde.

"Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor." 1 Timotheüs 4:16

Paulus vermaan Timotheüs om op homself én op die leer te let.  Waarvan moet Timotheüs dus seker maak m.b.t. sy lewe.  Sekerlik dat hy heilig en afgesonderd lewe, maar hoe gebeur dit?  Dit begin by 'n rein hart en 'n goeie gewete wat net 'n werklikheid kan wees wanneer Christus heers in ons HARTE deur die krag van die Gees (Efes. 3:16-17), nie net in ons denke nie.  'n Kop soos 'n waatlemoen en 'n hart soos 'n grondboontjie eer nie die Here nie.

"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof."  1 Timotheüs 1:5

Tuesday, 20 September 2022

DINK, LEEF EN WERK IN ‘N ATMOSFEER VAN RUS, VRYHEID EN VREDE

‘n Dissipel van Jesus is nie besig om te beweeg na rus, vryheid en vrede nie, hy begin sy geestelike lewe in ‘n atmosfeer van rus, vryheid en vrede. 

Dit is een van die groot verskille tussen ware Christenskap en die Christenskap van vormgodsdiens. Vormgodsdiens se hele program en agenda het ten doel om rus, vryheid en vrede te bekom en te bewerkstellig.

In Christus het ons reeds van dag 1 van ons wedergeboorte af rus, vryheid en vrede. 

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheüs 11:28

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” Galasiërs 5:1

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” Romeine 5:1

In hierdie atmosfeer is ons bedoel om te dink, leef en werk, en ook te bid en ly ter wille van die evangelie.  Die oomblik wat ons uitbeweeg uit hierdie posisie in Christus het ons as’t ware uitgestap uit die hemelse dimensie waaruit ons veronderstel is om te leef.  Dan begin ons dink en leef in die wêreld se atmosfeer en ons geestelike lewe begin noodwendig fragmenteer. 

Wat ‘n tragedie dat so ‘n groot deel van die kerk besig is met vormgodsdiens en nie eers besef dat dit die atmosfeer van die wêreld is en dat God nooit bedoel het dat Sy kinders moet leef en dink en werk in daardie dimensie nie.

Laat ons dus begin waar God begin sodat ons die goeie werke kan doen wat Hy vir ons voorberei het (Efes. 2:10), in plaas van die werke van vormgosdiens wat geen ware groei of vrug bring in die finale analise nie.

Tuesday, 13 September 2022

HY WORD DIE TROOSTER GENOEM, MAAR HOE TROOS HY?

"En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid." Johannes 14:16

Die Heilige Gees word in die evangelie van Johannes "die Trooster" genoem, Een wat as't ware langs ons inkom om te help en te ondersteun.  Dit is egter krities belangrik vir ons om te verstaan hoe presies Hy troos en help, in die konteks van die Nuwe Testament. 

Oorweeg saam met my die volgende twee tekste in Johannes waar daar ook gepraat word van die Trooster:

"Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het." Johannes 14:26

"Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig." Johannes 15:26

Ons sien hier dat die Heilige Gees troos en help deur te "leer", te "herinner" en te "getuig" en dit alles met betrekking tot die persoon en verlossingswerk van Jesus.  Ons moet dus baie versigtig wees om nie die troos van die Heilige Gees bloot te sien as emosionele ondersteuning in moeilike omstandighede of na tragiese gebeure in ons lewens nie.

Ja, dit is wel so dat die Heilige Gees ons direk in ons binneste kan troos en dit ook inderdaad doen.  Maar ons is in die finale analise en bo alles dissipels van Jesus wat op 'n evangelie-missie in hierdie wêreld is (Mt. 28:19).  Daarom moet ons die troos en hulp van die Gees bedink en verstaan in terme van die openbaring van Jesus. 

Die Heilige Gees is gedurig besig om ons te herinner aan die pre-eminensie van Christus en dat Hý ons lewe, ons hoop, ons vrede, ons wysheid, ons geregtigheid en verlossing is.  Hy herinner ons dat ons gesterf het saam met Christus en dat die Algenoegsame Verlosser nou in ons leef.  Hy herinner ons op 'n duisend verskillende maniere dat hierdie tydelike lewe slegs sin maak wanneer Jesus sentraal bly in ons harte en wanneer ons onthou dat ons besig is met 'n wedloop van geloof en dat daar opofferings is ter wille van die evangelie.

Mag ons nooit die konteks van ons lewens as dissipels vergeet nie en mag ons nooit begin om, soos die wêreld, net binne eksistensiële grense te dink nie.

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

Wednesday, 10 August 2022

EERS KRUIS, DAN KRAG

Indien ‘n gelowige nie die kruis en die koninkryk verstaan nie sal Hy die werkinge en krag van die Heilige Gees op die verkeerde plekke in sy geestelike lewe soek. 

Hy sal nie verstaan dat God se krag volbring word deur swakheid (2 Kor. 4:7 en 12:1-10), m.a.w. identifikasie met die kruis, nie.  Eers kruis, dan krag!

"...My genade is vir jou genoeg.  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is..." 2 Korinthiërs 12:9

Verder sal hy die krag van God misinterpreteer en misbruik vir sy eie voordeel en nie verstaan dat dit gegee word om God se koninkryk te bou en Hom te verheerlik nie.  

Tuesday, 2 August 2022

GELOOF IN DIE NUWE TESTAMENT IS VEEL MEER AS OM NET DIE FEITE VAN DIE EVANGELIE TE GLO

Die hele Nuwe Testament verkondig ‘n wonderlike Persoon (Jesus) en die appél op ons om met ons hele hart en lewe Hom eerste te stel in alles. 

Almal sal sekerlik saamstem dat geloof absoluut sentraal is in die Nuwe Testament en dat daar letterlik honderde tekste is wat mense oproep om te glo in Jesus Christus en Sy verlossingswerk.  Die leer van regverdigmaking deur geloof alleen word nie verniet genoem “die leer waarop die kerk staan of val” nie.  Dit is sekerlik waar om te sê, as jy nie die leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen het nie, het jy nie die evangelie nie.  Dit is egter nie genoeg om net dit te sê en dit dan daar te los nie.   

As ‘n mens die Nuwe Testament in sy geheel ondersoek, vind jy dat die Vader met geen ander reaksie op die evangelie tevrede is nie, as volkome en onverdeelde toewyding aan Jesus. In al die boeke van die Nuwe Testament sien ons dat dít die oorwinning van geloof en hoop is.  Die satan het baie subtiel die betekenis van die woord geloof verskraal tot ‘n blote geloofsbelydenis. 

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.”  2 Korinthiërs 11:3

Oor en oor in die Nuwe Testament word ons gemaan om ons toewyding aan Jesus lewend te hou op die altaar van ons harte te midde van al die uitdagings van die lewe en nie onsself te bedrieg met ‘n “geloof” wat net by woorde bly nie. 

Hoekom lees en gehoorsaam ek die Woord?  Want ek het Hom lief.  Hoekom bid ek?  Want ek het Hom lief.  Hoekom wil ek graag saamkom met ander gelowiges in aanbidding?  Want ek het Hom lief.  Hoekom getuig ek van Hom? Want ek het Hom lief. 

In Johannes 21 sien ons hoe Jesus ‘n dissipel (Petrus) herstel in sy geloof deur drie maal vir Hom te vra, “het jy My lief”?  Dit bly die toets van ware geloof.  Moet nooit weer die woord “geloof” of “glo” lees in die Nuwe Testament sonder om dit te verbind aan ‘n onvoorwaardelike toewyding aan Jesus nie.  Dit sal jou bewaar van dosyne slaggate en jou geestelik gesond hou.  Geestelike groei is dan ook niks anders nie as ‘n immer-toenemende toewyding aan Jesus in elke seisoen van ons lewens op aarde.

Tuesday, 28 June 2022

DIE JESUS WAT NET TROOS OF NET KONFRONTEER IS NIE DIE JESUS VAN DIE BYBEL NIE

Een van die mees kommerwekkende tendense in die kerk vandag is dat ons so dikwels 'n Jesus sien wat net troos en nooit konfronteer nie.  Soms sien ons egter ook nog 'n Jesus wat net konfronteer en nooit troos nie.  Nie een van die twee is die Jesus van die Bybel nie.  Die Jesus van die Bybel konfronteer en troos/bemoedig heeltyd, na gelang van mense en gemeentes se reaksie op Hom.  Daarom is dit so belangrik om nie die Bybel so te leer en bedien dat die lewende Jesus (die Persoon) as't ware verdwyn agter die dik gordyn van ons dogmatiese teologie nie.

Dit is ook nie akkuraat om te sê dat Jesus net ongelowiges konfronteer en net gelowiges troos nie.  Jesus kan selfs gewete-geteisterde en "repentant" ongelowiges troos met die belofte van die evangelie en Hy konfronteer dikwels gelowiges as hulle onafhanklik van Hom begin leef en verval in sondepatrone.  Dit sou liefdeloos wees van Hom om diesulkes nie te konfronteer nie.  Gaan lees gerus Openbaring hoofstukke 2 en 3 en let op hoe skerp Jesus vyf uit die sewe gemeentes daar konfronteer. 

 

Verder is dit besonders treffend dat die briewe van die Nuwe Testament geskryf word om baie spesifieke dinge te konfronteer in verskillende gemeentes, maar ook om die gemeentes te troos en bemoedig om te volhard as hulle sterk staan in die geloof.  Soms is daar in dieselfde gemeente diegene wat gekonfronteer moet word en ander wat bemoedig moet word (Openb. 2:24, 3:4). 

 

Volgens die Bybel konfronteer Jesus die heeltyd ongelowiges sodat hulle kan deel met hulle staat van sondige onafhanklikheid van Hom (Joh. 16:9).  Die oomblik wat 'n mens se hart egter na Jesus draai en jy begin leef in verhouding met Hom, troos en bemoedig Hy jou met die rykdom van die evangelie sodat jy kan volhard in geloof en liefde.  Wanneer jy egter weer onafhanklik van Hom begin leef (Joh. 15:4-5), sal Hy jou baie gou konfronteer (uit liefde) om jou terug te bring na die geseënde lewe IN HOM.

 

Dit is daarom krities belangrik vir almal van ons om die Bybel aan te hou lees in die "aangesig van Christus" sodat Hy ons kan konfronteer of bemoedig volgens Sy eie volmaakte insig in ons ware kondisie.  Ons moet egter ook bewus wees daarvan dat daar volgens die Bybel vir alle ongelowiges 'n konfronterende Jesus is wat hulle wil bring tot bekering en geloof en vir alle gelowiges 'n bemoedigende Jesus is wat hulle wil herinner aan hulle posisie in Hom, maar wat hulle ook dikwels juis op daardie basis konfronteer om "waardig te wandel" aan die hoë roeping in Hom (Ef. 4:1; Flp. 3:14).

'N TOTALE MISVERSTAAN VAN "SOOS IN DIE HEMEL NET SO OOK OP DIE AARDE"

Die afgelope paar jare kry ek elke nou en dan te doen met 'n baie vreemde interpretasie van Mattheüs 6 vers 10. Kwansuis is die bedoeling dat as daar geen siekte, armoede of enige ander negatiewe omstandighede in die hemel is nie, dit ook nie God se wil is dat daar vandag ooit so iets moet wees op aarde nie.   Ons moet dus uitgaan met hierdie mandaat om oral waar ons kom te verkondig dat alle siekte, armoede en lyding summier en onmiddellik opgehef word wanneer mense die "evangelie van die koninkryk" glo en bely.

Die interpretasie klink baie logies met die eerste aanhoor, totdat mens dit onderwerp aan die toets van onmiddellike konteks en die oorkoepelende boodskap van die hele Nuwe Testament.  Dan kom mens baie gou agter dat dit inderdaad 'n "vreemde" interpretasie is.

 

"Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde." Matt. 6:9-10

 

As ons na die konteks kyk van hierdie gebed wat Jesus aan sy dissipels voorhou, word dit baie gou duidelik dat Jesus ons wil leer dat die NAAM, KONINKRYK en WIL van die Vader ons prioriteit moet wees in ons gebede en in ons lewe.  Die voor-die-hand-liggende interpretasie is daarom dat ons moet bid dat mense hulle sal onderwerp aan God se wil op hierdie gevalle aarde net soos wat almal hulle onderwerp aan God se wil in die hemel.  In hierdie verstaan van die gebed word die tydelike dinge dan 'n bysaak.  Net 'n bietjie verder aan, in vers 33 van dieselfde hoofstuk, word dit glashelder duidelik dat dít die regte interpretasie is:

 

"Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."

 

Jesus wil Sy dissipels leer dat die groot uitdaging in die lewe is om ons wil deur die evangelie onderworpe te kry aan die wil van die Vader in die hemel sodat ons SODOENDE Sy naam kan verheerlik en Sy koninkryk kan laat deurbreek op aarde soos wat ons ook ander oproep om hulle te onderwerp aan die wil van die Vader IN CHRISTUS.  Die tydelike dinge moet nooit ons fokus wees nie, want die Vader sal dit vir ons "byvoeg" volgens Sy wil en plan vir ons lewens.

 

In die laaste deel van die bergpredikasie word dit so duidelik dat die hele lering van Jesus in hierdie drie hoofstukke in Mattheüs (5-7) ten doel het om ons in te bring (7:13) in die dimensie waar die Wil van die Vader heers.  Die "nou poort" van vers 13 is 'n poort waar my eie wil "besny" word deur die krag van die evangelie en aan die ander kant van daardie nou poort is daar 'n "nou pad" waarop slegs die Vader se wil geld.  En dan net 'n paar verse later volg hierdie skokkende woorde van Jesus:

 

"Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" Matt. 7:21-23

 

Jesus wil die boodskap baie, baie duidelik oorbring dat ware redding te doen het met ons wil wat besny word deur die kruis.  As ons wil onaangeraak bly (v.23b), is ons nie op die nou pad nie en het ons vir seker nog nie deur die nou poort gegaan nie.  In hierdie konteks sien ons dus dat daardie vreemde interpretasie van "soos in die hemel net so ook op die aarde" nie net die hele punt mis van wat Jesus probeer leer nie, maar dat dit 'n besonderse gevaarlike boodskap oordra vir 'n generasie wat klaar so ingestel is op die tydelike en wat ten alle koste onmiddellike bevrediging soek.  Mag die Here ons genadig wees dat ons nie die Skrifte verdraai en onberekenbare skade berokken aan mense wat die ware oproep van die evangelie so dringend nodig het nie.

Tuesday, 17 May 2022

YWER VĺR GOD VERSUS DIE YWER VÁN GOD

Daar is 'n reuse verskil tussen ywer VIR God en die ywer VAN God. Ywer vir God sal nooit genoegsaam wees om die werk van God op aarde te volbring nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat slegs die ywer VAN die Here van die Leërskare God se werk op die aarde kan volbring.

"Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg." Jesaja 9:6  (NAV)

"...Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen." (OAV)

As ons aanhou om menslike ywer te verkondig as die oplossing vir allerhande gebreke en probleme in die kerk, is ons sonder begrip. Slegs God se eie ywer IN die gelowige ("Christus in ons") kan ons dissipelskapmandaat (Matt. 28:19) effektief tot uitvoer bring. Ons ywer vir God het baie definitiewe perke en dit is in die finale analise nie vir God welgevallig nie.

Paulus het van Israel volgens die vlees gesê, "Ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar nie volgens kennis nie" (Rom. 10:2).  Daar is altyd in elke generasie weer die versoeking om in daardie strik te val.  Ons moet vir seker baie ywerig wees in die werk van die Here, maar ware Nuwe Testamentiese ywer is net 'n verlenging van die ywer van die Here in ons.

"Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here." Romeine 12:11

"Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is." 1 Korinthiërs 15:10

"Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." Filippense 2:13