Tuesday, 27 May 2014

KRAG IN SWAKHEID EN GEBROKENHEID

Ons probleem as dissipels van Jesus is nooit dat ons te swak is nie, maar dat ons te sterk is in onsself.  Daarom kry ons die opdrag in Efes. 6:10 "word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY Sterkte”.  Pasop vir boodskappe wat subtiel die idee skep dat God dissipels as’t ware meer en meer self-vertroue wil gee sodat hulle kan oorwin en wenners kan wees in hierdie lewe.  Ons sien ‘n heel ander prentjie in die Bybel.  Ons hemelse Vader se skool van genade werk andersom.  Hy wil ons al hoe meer vry maak van enige vertroue in onsself sodat ons toenemend kan leef uit die algenoegsaamheid van Jesus Christus ons Here.

“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” 2 Kor. 12:9.  Lees gerus die hele gedeelte in 2 Kor. 12:1-10.

Saturday, 24 May 2014

DIE LIEFDE DIEN VOOR DIT LEER

Voordat Jesus sy diepste lering oor genade gegee het (Joh. 14-17), het Hy Homself omgord en Sy dissipels se voete gewas. Hier is 'n ontsaglike belangrike les. Die ouer boetie wat sy jonger boetie wil leer, maar nie wil dien nie is besig met 'n 'projek' wat nooit sal werk nie. Die liefde dien voor dit leer. Groter volwassenheid in Christus plaas die onus op die volwasse dissipel om te dien en selfs te ly ter wille van groter begrip by die 'jonger boetie'.

Tuesday, 20 May 2014

DIE AANBIDDING VAN SUKSES

Een van die mees subtiele dinge wat dissipels van Jesus dikwels ongemerk laat afwyk van God se koninkryksplan is die manier wat ons dink oor sukses.  Ons waardesisteem is in baie gevalle eintlik maar dieselfde as die wêreld s’n.  Roem, prestasie, finansiële voorspoed, groter en beter is die doel en die maatstaf.  Ons sukkel om uit te styg bo ons tydgees, en in baie gevalle besef ons nie eers dat ons net soos die wêreld ‘n afgod van “sukses” gemaak het nie!  Ware sukses het volgens Jesus baie meer te doen met nederigheid, gebrokenheid, en die oorwinning van die liefde.  Dikwels ongemerk en weg van die oë van die skares speel die drama en die stryd vir ware sukses in families, huwelike, gemeentes, en werksituasies af.  Hoe dink jy oor sukses?  Het jy al vrede gemaak daarmee dat dit dikwels diegene is wat “verloor” in die wêreld se oë wat werklik wen in God se boek, die wat gee wat werklik ontvang en die wat dien wat ryklik deur God beloon word?

Tuesday, 13 May 2014

DIE BESTE PRAKTIESE RAAD VIR DISSIPELS VAN JESUS

"Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand." Kolossense 1:17 (NAV)

Die Vader het bepaal dat Sy Seun sentraal moet staan in alles in die heelal. As 'alles deur Hom in stand bly', dan beteken dit ook dat alles buite Hom uitmekaar val.

Daarom kan ons as dissipels van Jesus in elke omstandigheid en by elke geleentheid nie genoeg vir mekaar herinner nie, 'maak seker dat jy onderworpe is aan Jesus se Koningsheerskappy in elke area van jou lewe’. Ons durf dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. As Jesus werklik sentraal is in jou lewe, sal jy deur die Gees van Sy eie wysheid, insig en krag voorsien word om as oorwinnaar uit elke moontlike situasie te stap (Rom. 8:37).  Hou net in gedagte dat oorwinning vir dissipels nie altyd dieselfde lyk as wat oorwinning vir die wêreld lyk nie (sien 2 Kor. 4:7-11). Vir die wêreld mag jy dan dalk nie noodwendig lyk soos 'n oorwinnaar nie, maar volgens God se standaarde wel en al wat saak maak is Sý standaarde!

As jy voel dit is nie vir jou werklik praktiese raad nie, moet jy dalk gaan dink daaroor of jy nie gefokus is op die verkeerde koninkryk nie.  Die koninkryk van God het te doen met geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees in elke omstandigheid van jou lewe nou en vir ewig (Rom. 14:17).  Hierdie koninkryksrealiteite manifesteer egter slegs op die plek waar ons, ons eksklusief onderwerp aan Jesus as absolute Alleenheerser en Koning. 

Monday, 5 May 2014

TWYFEL ANDER OOK SOMS?

Die twyfel wat ware dissipels van Jesus soms kan beleef m.b.t. die bestaan van God en die hiernamaals, is een van die 'vurige pyle van die Bose' wat Efesiërs 6 vers 16 van praat.  Hoe vreemd dit ookal vir ons mag klink dat selfs andersins sterk gelowiges soms kan twyfel aan die bestaan van God, dit is 'n werklikheid van die geloofstryd in hierdie gevalle wêreld waarin ons leef en nie iets waaroor ‘n mens jou onnodig hoef te bekommer nie.  Jy weet tog in jou hart wat die waarheid is en bely dit met jou mond (Rom. 10:9-10).  Hou vas aan die wonderlike belofte in Efes. 6:16 dat die skild van geloof al die vurige pyle van die Bose kan uitblus.  Hierdie geloof is 'n produk van ons voortdurende blootstelling aan die kosbare evangelie van ons Here Jesus Christus (Rom. 10:17; 2 Kor. 3:18) wat vlees geword het om 'die onverganklike lewe aan die lig' te bring (2 Tim. 1:10).

Thursday, 1 May 2014

JESUS SIGBAAR IN ONS GENERASIE

Jesus stap deur die eeue in verskillende lande, kulture en tale, deur die voete en hande van Sy dissipels.   Stap Hy 'in en deur' jou en my ook, of is Sy invloed deur ons soos die van 'n skim, onsigbaar vir die mense wat leef in dieselfde tyd en ruimte as ons in die geskiedenis?  Ons tyd en geskiedenis is baie belangriker as wat ons soms dink.  Ons lewens tel.  Daarom is daar soveel geslagsregisters in die Bybel.  Dit wys dat ons God en Vader met Sy deurtastende oë baie noukeurig boekhou van die dinge wat op hierdie planeet gebeur.  Kom laat ons Jesus ruimte gee in ons harte sodat Hy sigbaar kan word in ons lewens en vir ons generasie.