"Voor alles was
Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand." Kolossense 1:17 (NAV)
Die Vader het bepaal dat Sy Seun sentraal moet staan in
alles in die heelal. As 'alles deur Hom in stand bly', dan beteken dit ook dat
alles buite Hom uitmekaar val.
Daarom kan ons as dissipels van Jesus in elke omstandigheid
en by elke geleentheid nie genoeg vir mekaar herinner nie, 'maak seker dat jy
onderworpe is aan Jesus se Koningsheerskappy in elke area van jou lewe’. Ons
durf dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. As Jesus werklik sentraal is in
jou lewe, sal jy deur die Gees van Sy eie wysheid, insig en krag voorsien word om
as oorwinnaar uit elke moontlike situasie te stap (Rom. 8:37). Hou net in gedagte dat oorwinning vir
dissipels nie altyd dieselfde lyk as wat oorwinning vir die wêreld lyk nie
(sien 2 Kor. 4:7-11). Vir die wêreld mag jy dan dalk nie noodwendig lyk soos 'n
oorwinnaar nie, maar volgens God se standaarde wel en al wat saak maak is Sý
standaarde!
As jy voel dit is nie vir jou werklik praktiese raad nie, moet jy dalk gaan dink daaroor of jy nie
gefokus is op die verkeerde koninkryk nie. Die koninkryk van God het te
doen met geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees in elke omstandigheid
van jou lewe nou en vir ewig (Rom. 14:17). Hierdie koninkryksrealiteite
manifesteer egter slegs op die plek waar ons, ons eksklusief onderwerp aan
Jesus as absolute Alleenheerser en Koning.
No comments:
Post a Comment