Friday, 15 August 2014

GESOEK: GEESTELIKE VADERS EN MOEDERS

As die hemel ‘n advertensie kon plaas in ons koerante sou dit waarskynlik so iets gewees het soos die titel van vandag se stukkie.  Ons hemelse Vader soek mense wat Sy Vaderhart kan verteenwoordig op aarde.  Ons is nie net gered deur die bloed van Jesus om hemel toe te gaan nie, maar om te groei en geestelik sterk te word sodat ons groot harte kan hê wat die evangelie bring aan ander, hulle liefhet, omgee, sorg dra, genesing bring, vrede bewerkstellig, versoening en verhoudingherstel bring, ensovoorts.  Wie kwalifiseer vir dit?  Almal wat die Gees van God in hulle het deur die wedergeboorte.  Ons rolle mag verskil in die kerk en die koninkryk, maar ons kan almal geestelike vaders of moeders wees as ons toelaat dat die Vader verruiming in ons binneste bring.  Geestelike vaderskap is nie net bedoel vir pastore, dominees, evangeliste, en ouderlinge terwyl die res maar vir dekades lank geestelike babas bly nie.  In die lewenssfeer waarin jy beweeg kan jy of een van hulle wees wat maar altyd hulp nodig het, of maar net water trap en neutraal staan teenoor alles, of jy kan vir ander ‘n trooster, bemoediger, waarheidspreker wees wat die Vader se hart verteenwoordig.  Ja dis waar, soms is ons so oorweldig deur omstandighede dat ons liefde en troos van ander nodig het, maar dit beteken nie jy kan nie opstaan in die krag van die Here en dan ander begin help nie.  Wat weerhou jou daarvan om ‘n geestelike vader of moeder te wees?  Miskien is dit net die manier wat jy dink oor jouself.  Die Vader sê jy kán in Christus!


“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.  Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.  Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.” Filippense 2:19-21  

No comments:

Post a Comment