Wednesday, 29 October 2014

DIE MITE VAN SELF-VERBETERING

"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Matt. 11:28


Een van die grootste mites wat skuil in die gevalle menslike psige is die idee dat ek myself eers moet verander, om aanvaarbaar vir God te wees, en gevolglik kan ek leef in verhouding met Hom.  Eintlik is dit presies andersom.  As mens mooi dink daaroor besef jy hoe absurd die gedagte is dat ek myself eers moet 'red' en dan sal ek kwansuis waardig wees om die bloed van Jesus vir myself toe te eien.  As ek myself kon verbeter, hoekom het ek nog vir Jesus nodig?  Jy het in elk geval nie die vermoë om jouself te verander nie.  Dit geld beide dissipels van Jesus en die wat nog nie Sy aanbod van lewe aanvaar het nie.  Ons nader God net soos ons is op grond van die bloed van Jesus, maar ons sal vir seker nie blý soos ons is wanneer ons in verhouding met Hom begin leef nie. 

Monday, 27 October 2014

ALLEEN DEUR DIE DONKER VALLEI?

"Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan ’n ander hom nie meng nie." Spreuke 14:10 (OAV)

"Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie." Spreuke 14:10 (NAV)


In tye van erge trauma of smart wanneer ons dieper begrip soek by ander vir die donker vallei waardeur ons beweeg, begin die waarheid van hierdie vers oopgaan en sin maak.  Daar is dieptes in die menslike hart wat geen ander skepsel kan peil nie, en selfs die mees wyse en volwasse mense staan soms verslae voor die gebrokenheid en vreemde weë van hulle eíe hart in tye van oorweldigende en onverklaarbare teëspoed in hierdie lewe.  Dit is net hier waar ons ontdek daar is wél Een wat werklik die diepste smart van die menslike hart ken én kan genees.  1 Konings 8 vers 39 “want U alleen ken die hart van al die mensekinders.“  Dit is nie nodig om alleen deur die 'dal van doodskaduwee' te beweeg nie.  Daar is 'n Herder wat nader aan jou is as enige mens op hierdie aarde en wat jou hart selfs beter ken as wat jyself dit ken.  Gló dit net.  Dit is waar! 

Thursday, 23 October 2014

DIE KAR VOOR DIE PERDE 'EVANGELIE'



Ons glo, dáárom het ons lief, daarom is ons ywerig om goed te doen aan ander, daarom bid ons, daarom sing ons, daarom praat ons met mekaar oor Christus en die koninkryk, daarom praat ons met ongelowiges oor die Goeie Nuus van Jesus se vleeswording, kruisiging en opstanding. Dit is geloof wat die 'wandel deur die Gees' moontlik maak en só 'n wandel bring oorwinning, dit ís oorwinning (Gal. 5:16)! Die Bybel sê nie ons moet oorwin en dan kan ons 'deur die Gees wandel' nie, maar juis andersom.  Ons leef soms in 'doen, doen, doen', ómdat ons daardeur die oorwinning van die Gees wil bewerkstellig. Dit is fataal vir jou geestelike lewe.  Pasop vir die kar voor die perde 'evangelie'! Die ware evangelie werk verstommend anders as ons menslike idees. Dit is die evangelie wat die dryfkrag is vir die lading, die lading kan nie die evangelie dra of produseer nie.

Monday, 20 October 2014

VAN HEERLIKHEID TOT HEERLIKHEID IN CHRISTUS

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word." Kol. 3:1-4


In hierdie kosbare Skrifgedeelte wys Paulus ons op vier dinge wat waar is van elke wedergebore persoon en maak dan 'n appél op ons om op grond daarvan sonder versuim en sonder onderbreking twee dinge te doen. Die vier dinge is die waarheid van jóu stand in Christus, ongeag hoe lank jy al gered is of hoe vêr jy geestelik gevorder het.  Jy ís saam met Christus opgewek, jy hét saam met Hom gesterwe, jou lewe ís saam met Hom verborge in God, en meer nog Christus self ís jou lewe. Dáárom staan jy onder 'n vreugdevolle verpligting om die ervaring van die hemelse werklikhede in Christus te soek met alles wat in jou is en te bedink met die oog op 'n intieme verhouding met God gevul met 'n toenemende hemelse heerlikheid (2 Kor. 3:18). Terselfdertyd moet jy ook bewus bly van die onbeskryflike heerlikheid wat jou deel sal wees wanneer Jesus 'geopenbaar word' (v.4). Toenemende heerlikheid nou en onoortreflike heerlikheid wanneer Jesus verskyn!  Dít is jou erfdeel.  Of jy bewus is daarvan of nie, hierdie vier werklikhede ís voor God die realiteit van jou nuwe identiteit in Christus.  Die vraag is egter of jy dit glo en dáárom die heerlikheid in Christus soek, bedink, en verwag.     

Wednesday, 15 October 2014

IEMAND WAT ONREG KAN DRA

"Moenie teen mekaar sug nie, broeders..." Jak. 5:9a (OAV)

"Moenie oor mekaar kla nie, broers..." Jak. 5:9a (NAV)

As gevolg van die sondeval erf ons almal by ons ouers die instink van haastige oordeel. Dit is 'n totaal spontane menslike reaksie op ons omgewing om onsself op te stel as regters en dan alles wat leef en beef onder die loep van ons superieure insig te bring.  Gevolglik is dit so maklik soos asemhaal vir ons om die gewoonte te kweek om bý mekaar te sug en kla óór mekaar.  'Het jy gesien wat hy gedoen het!'  'Het jy gehoor wat sy gesê het!'   Dit is spontaan, natuurlik, en maklik, maar die Woord sê dit is 'vleeslik'.  Jakobus sê ons 'moenie', selfs al voel ons hoe geregverdig in ons oordeel.  Net hier lê die knoop, natuurlik.  Ons oordeel, sug, en kla ómdat ons voel ons is reg en die ander verkeerd.  Maar dissipels moet 'onreg kan dra'.  Waar daar mense is, sal daar onreg wees.  Ons kan of natuurlik reageer en oordeel, kla, en sug, of ons kan ons harte deur die Gees instel om onreg te dra en dan eerder te bid vir ander en hulle gebreke voor die Vader te bring.  Miskien ontdek ons dan sommer in die proses dat ons self nie altyd honderd persent reg optree teenoor ánder nie.

"En ’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra." 2 Tim. 2:24 (OAV)


"'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra." 2 Tim. 2:24 (NAV)

Monday, 13 October 2014

NEEM MEKAAR VOLLEDIG EN HARTLIK AAN

"Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God." Rom. 15:7


As ons almal presies dieselfde was en dieselfde smake, voorkeure, afkeure, styl, gawes, en temperament gehad het, sou daar nie eers 'n nodigheid gewees het vir hierdie vers nie. Die waarheid is egter dat ons dikwels uiterlik baie van mekaar verskil, al is ons as dissipels van Jesus innerlik gekonstitueer met die lewe van Christus en daarom wesenlik een.  Daarom is dit nou maar net eenvoudig 'n feit dat daar geen geseënde en vrugbare gemeentelewe kan wees as ons nie leer om mekaar met al ons verskille en skete volledig en hartlik aan te neem net soos Christus in Sy oneindige genade óns aangeneem het en Sy liefde sonder perk op ons uitgestort het nie. Dit beteken geensins dat ons nie op die regte tyd en plek met wysheid relevante kwessies kan aanspreek nie.  Maar leer om aanvaarding van medegelowiges in Christus te kweek in jou hart totdat dit 'n pragtige tuin van genade word wat seën en vrede bring oral waar jy gaan.  Daar is net iets aan ware aanvaarding van mekaar in Chrtistus wat ons harte oopsluit en intieme verhouding moontlik maak soos niks anders dit kan doen nie. 

Tuesday, 7 October 2014

VERLOSSING IN PAAIEMENTE?

Ons dink soms oor ons verlossing soos lenings wat ons by ‘n hemelse bank kry. Ons moet net hoop ons vang die bankbestuurder op ‘n goeie dag as daar nou rêrig ‘n krisis is. Dan gebruik ons maar weer die verlossingskrediet (sal later terug betaal) . Die waarheid is egter dat ons IN CHRISTUS alles ontvang het wat ons vir hierdie lewe en die ewigheid nodig sal kry. “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien…” (2 Pet. 1:3). En wat meer is, jy hoef dit nie terug te betaal nie! Jy moet net leef daaruit, uit Hóm in der waarheid. Jesus self is die somtotaal van alles wat die hemel het om te gee en jy is IN HOM en Hy in jou. “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Joh. 14:20). Het jy oorwinning nodig? Dit is in Hom. Blydskap? In Hom. Vrede? In Hom. Sagmoedigheid? In Hom. Selfbeheersing? In Hom. Wysheid? In Hom. Die Vader gee nie verlossing in paaiemente nie. Hy het sy Seun gegee en ons het niks meer nodig nie. Ons moet net groei in kennis van Hom en leer om uit verhouding te leef. “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet. 3:18

Thursday, 2 October 2014

'N RADIKALE VERANDERING VAN PERSPEKTIEF

"In die begin het God die hemel en die aarde geskape." Gen. 1:1

"Want in Hom [Christus] is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape." Kol. 1:16

"Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig." Efes. 1:10


Dit is normaal en natuurlik vir ons om na die lewe te kyk vanuit ons eie plekkie op die aarde en binne die ruimte van ons subjektiewe waarnemings en sintuiglike versameling van inligting. Die boodskap van die evangelie maak egter 'n appél op ons om 'n radikale verandering van perspektief te ondergaan.  Die Vader draai as't ware ons oë weg van onsself met die evangelie (soos 'n pa wat met tederheid sy seuntjie se kop in die regte rigting draai) en rig ons visie op Sy Seun wat sentraal staan in die skepping en die nuwe skepping (Kol. 1:15-20).  Ware geloof is nie soseer om Christus deel van mý lewe te maak nie as wat dit is om te sien dat Hý in werklikheid die middelpunt van alles in die geskape heelal is en dan my hoof te buig onder Sy heerskappy en sentraliteit in alles.  Gevolglik is my hele lewe vorentoe as dissipel 'n voortdurende aanpassing van perspektief, om die magte en kragte teë te staan wat heeltyd my eie ek soos die aarde se swaartekrag in die middel van alles wil intrek en dit te vervang met 'n visie van die werklikheid: Jesus op die troon en sentraal in alles! 

DIE WOORD EN DIE HART

Die saad van God se Woord is inderdaad goeie saad en het dieselfde effek op elke hart wat dit met kinderlike geloof ontvang. Daar is niks fout met die saad nie, maar is ons harte sag en ontvanklik? Wat leer die volgende tekste ons oor die regte hartsgesindheid t.o.v. die Woord?

1 Thes. 2:13 “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”

Jesaja 66:2 “Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”


Lukas 8:15 “En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.”