"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die
dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle
lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is,
geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar
word." Kol. 3:1-4
In hierdie kosbare Skrifgedeelte wys Paulus ons op vier
dinge wat waar is van elke wedergebore persoon en maak dan 'n appél op ons om
op grond daarvan sonder versuim en sonder onderbreking twee dinge te doen. Die
vier dinge is die waarheid van jóu stand in Christus, ongeag hoe lank jy al
gered is of hoe vêr jy geestelik gevorder het.
Jy ís saam met Christus opgewek, jy hét saam met Hom gesterwe, jou lewe
ís saam met Hom verborge in God, en meer nog Christus self ís jou lewe. Dáárom
staan jy onder 'n vreugdevolle verpligting om die ervaring van die hemelse
werklikhede in Christus te soek met alles wat in jou is en te bedink met die
oog op 'n intieme verhouding met God gevul met 'n toenemende hemelse
heerlikheid (2 Kor. 3:18). Terselfdertyd moet jy ook bewus bly van die
onbeskryflike heerlikheid wat jou deel sal wees wanneer Jesus 'geopenbaar word'
(v.4). Toenemende heerlikheid nou en onoortreflike heerlikheid wanneer Jesus
verskyn! Dít is jou erfdeel. Of jy bewus is daarvan of nie, hierdie vier
werklikhede ís voor God die realiteit van jou nuwe identiteit in Christus. Die vraag is egter of jy dit glo en dáárom
die heerlikheid in Christus soek, bedink, en verwag.
No comments:
Post a Comment