Wednesday 25 February 2015

DIE STEM AGTER DIE WOORDE VAN DIE BYBEL

Daar is ‘n reuse verskil tussen die woorde van die Bybel en die stem ágter die woorde.  Jesus sê vir die Jode in Johannes 5 vers 37 “julle het nog nooit” die Vader se “stem gehoor nie…”  Dit moes ‘n groot skok en ‘n geweldige belediging gewees het vir hierdie mense wat hulleself beskou het as die uitverkorenes aan wie die Skrifte toevertrou was, dit gereeld aangehoor het en seker was dat hulle God se stem daarin gehoor het.  Jesus maak dit duideliker ‘n bietjie verder aan in Johannes (6:63) deur te sê “dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.”  En dan in Johannes 8 vers 47 sê Jesus prontuit vir hulle dat net die wat “uit God is, luister na die woorde van God”.  Hy los dit ook nie net daar by die implikasie van hierdie woorde nie, maar gaan nog verder en spreek hulle harte direk aan; “daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.”  Ware dissipels hoor nie net die woorde van God nie, maar luister werklik daarna en sodoende hoor hulle die stem van God.   Hoeveel is daar nie in gemeentes regoor die wêreld wat die Skrifte hoor, maar nog nooit die stem van die Vader gehoor het nie.  Wat ‘n onbeskryflike hartseer om die woorde van waarheid te hoor en steeds te bly sit in ‘n vormgodsdiens wat geen hartsverandering teweeg bring nie.

Monday 23 February 2015

DIE BROOD WAT JESUS GEE RAAK NIE MUF NIE

“Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.  Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.”  Joh. 6:26-27 


Die wonderwerke wat Jesus gedoen het was tekens wat bedoel was om die rigting te wys na ‘n geestelike boodskap oor Sy identiteit en roeping om verlore mense te red en hulle geestelik te versadig met Sy wese en teenwoordigheid.  Die meeste van die Jode in die tyd van Jesus se bediening op aarde het die doel van Sy koms heeltemal verkeerd vertolk.  Hulle het vasgeklou aan die materiële en uitgemis op die geestelike rykdom in Jesus, wat vir hulle bedoel was!  Hoe lyk dit in ons wêreld vandag?  Dieselfde Jesus maak vandag deur die Heilige Gees ‘n appél op mense se harte om die geestelike rykdom wat Hy bied te omhels.  Is dit regtig nog moontlik om in ons tyd Sy boodskap verkeerd te interpreteer?  Is daar in óns tyd verskillende weergawes van die evangelie wat die geestelike kern van die boodskap wetend of onwetend misken en die klem skuif na materiële voordele?  Wat dink jy?   

Wednesday 18 February 2015

VERHOUDING VERWOES DEUR VALSE VEROORDELING

“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan.” Efes. 6:14
Geen verhouding kan floreer sonder guns en onskuld nie.  Veroordeling bring altyd skuld, afstand, vyandskap en verlies aan verhoudingsintimiteit.  Alles kom tot stilstand in jou geestelike lewe as jy onder veroordeling is.  Die satan weet dat hy ons baie vinnig kan immobiliseer as hy ons harte onder ‘n valse veroordeling plaas.  Daarom is die borswapen van geregtigheid in Efesiërs 6 so belangrik. Veroordeling is ‘n baie subtiele ding – dit kom dikwels in ons lewens in sonder dat ons dadelik bewus is daarvan, maar ons sien die effek!  Net ‘n openbaring van die geregtigheid van God in Christus waarin jy as dissipel van Jesus staan, kan jou weerhou daarvan om weer terug te val op jou eie pogings om God se guns te wen en verhoudingsintimiteit met Hom te beleef.

“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” 2 Kor. 5:21

Monday 16 February 2015

DIE KONINKRYK HET ALLES TE DOEN MET WIE JESUS IS

Jesus is die essensie van die koninkryk van God en Hy ís die geregtigheid van die koninkryk.

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matt. 6:33

Om eers die koninkryk te soek, is nie kompleks nie.  Dit beteken eenvoudig om te sien dat alles op aarde in Jesus “stand hou” (Kol. 1:17) en om dan seker te maak dat Hy werklik in alles nommer een is in jou hart.  Is jou verhouding met Jesus die kern van jou lewe?  Ons prioriteite raak so maklik deurmekaar en dan soek ons eers “al die dinge” en hoop maar die koninkryk word bygevoeg.  Jesus verwag van sy dissipels om anders te dink en te prioritiseer as die wêreld en om te glo dat die detail van ons daaglikse lewens gevolglik deur die Vader georden sal word.

 “En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” Kol. 1:17


Vroeër in die bergpredikasie leer Jesus sy dissipels om die Vader se naam, koninkryk en wil eerste te stel in al hulle gebede (Mt. 6:9-10).  In die bekende vers 33 wat ons hierbo aanhaal, beklemtoon Hy weereens dat ons prioriteite radikaal aangepas moet word om in lyn te kom met die Een wat aan die hoof staan van die heelal en alles in Sy ewige hande hou.  Die interessante is dat selfs “die koninkryk van God en sy geregtigheid” nie onafhanklik van wie Jesus is, gesoek kan word nie.  Dit het álles te doen met wie Hy is!  

Monday 9 February 2015

WANNEER ALLES VERANDER

Wat is fout met hierdie stelling:  “Met God se hulp sal ek die Christelike lewe leef.”?  Dit impliseer dat ons, ons eie krag by Syne wil voeg…om dit meer kragtig te maak?!  Genade beteken egter juis dat God eers werk wanneer ek aan die einde van my eie krag is en erken “ek kan nie”!   Daarom is dit krities belangrik vir elke dissipel van Jesus om die begrip genade te verstaan, te bedink, aan te gryp en met geloof vas te hou, totdat jou hart ‘n greep kry op genade en genade dan ‘n greep kry op jou hart.  Dan verander alles en begin God se hemelse perspektief werklik jou leefwêreld transformeer.

“Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…” Heb. 13:9

 “Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is.” 2 Tim. 2:1

Dit vat tyd vir ons harte om ‘n stewige greep op genade te kry.  Die rede daarvoor is nie net omdat ons daagliks in ‘n wêreld leef wat vanuit die teenoorgestelde van genade opereer nie, maar ook omdat ons eie harte in wese wetties is. 


En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.” Hand. 20:32

Thursday 5 February 2015

JESUS SE LEEFWÊRELD


Jesus wil die heerlikheid van Sý leefwêreld stap vir stap vir ons ontsluit.  Dit is slegs wanneer ons oë oopgaan híervoor dat ons fokus wegskuif van onsself en ons aardse omstandighede.    Voor dit gebeur, is ons gedurig besig om Jesus te probeer intrek in ons leefwêreld.  Nie dat Hy nie betrokke is daar nie.  Geensins.  Maar Hy wil hê ons moet leer om alles in ons leefwêreld te sien vanuit die hemelse perspektief en dan oor te gee aan Sy ewige plan ín die tydelike.

Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”  Joh. 17:24

 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol. 3:2


Wat beteken die teks in Kolossense 3 vers 2 vir jou?  Het jy al ooit erns gemaak daarmee en besef dat dit op jóu persoonlik van toepassing is?  Selfs mét al jou probleme en uitdagings hier op aarde.  Mag die Vader vir ons lig gee op hierdie belangrike vers in die Nuwe Testament.

Monday 2 February 2015

DIE EINDE VAN TEMPEL-GODSDIENS

“Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?” Joh. 2:19-20 

“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” Hand. 17:24

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” 1 Kor. 6:19


Die Jode het gesukkel om te aanvaar dat die koms van Jesus die einde van ‘n era van tempel-godsdiens ingelui het.  Die van hulle wat wel die lig in Christus gesien het en deur die Gees wederbaar is, is toenemend deur God geleer om weg te draai van ‘n godsdiens wat fokus op aardse, mensgemaakte tempels en instede te fokus op die realiteit van Christus wat nou ín ons woon.  Hoe lyk dit met óns benadering tot geestelike dinge?  Het ons nie dalk weer ‘n tempel-godsdiens opgerig wat Jesus eintlik gekom het om af te breek sodat ons in die realiteit van sy 24/7 inwonende teenwoordigheid kan leef nie?  ‘n Gebou is goed om die reën, wind en koue buite te hou, maar as dit vir ons ‘n heilige koei geword het en die middelpunt van ons verhouding met God en medegelowiges (of dalk die ding wat ons afskei van ander dissipels van Jesus!), is dit ‘n struikelblok wat die openbaring van die Nuwe Testament versluier en verdoesel.