Wednesday 24 June 2015

RYK IN LIEFDE

 “En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal..” 1 Thes. 3v12


Die rykdom wat vir God belangrik is, is rykdom in die liefde. 'n Mens kan materieël baie welgesteld wees, maar arm in liefde. Dan is jy in werklikheid 'n arm mens. Jy kan baie 'godsdienstig' wees, maar arm in liefde. Dan is jy maar steeds arm. Jy kan propvol kennis wees, maar as dit nie gestalte vind in Bybelse liefde nie is jy in werklikheid ‘n leë mens. Jy kan so baie gawes en talente hê dat mense oral ‘n ophef van jou maak, maar as jy nie ryk is in liefde nie het jou lewe geen blywende geestelike impak op enigiemand nie.  Hierdie besonderse evangelie-liefde word pragtig beskryf in gedeeltes soos 1 Korinthiërs 13 verse 4 tot 7 en Galasiërs 5 vers 22.  'n Sterk geloof in Christus sal toenemend manifesteer in hierdie soort liefde, want Hy is eintlik die Een wat in en deur ons liefhet.  Min liefde wys op min geloof.  Dit is die ware toets.  Hoe lyk die prentjie in jou lewe?  Miskien is jy volgens die wêreld se standaarde in elke area van jou lewe arm, maar weet dit; jy kán “in Christus” ryk wees in die liefde.  Dan is jy werklik ryk!

Thursday 18 June 2015

IS ONS WERKLIK DISSIPELS VAN JESUS?

'n Ware dissipel van Jesus is iemand wat in die mees intieme verhouding denkbaar met Jesus self, bo alle ander, leef.  Dit is iemand wat Jesus se stem ken en wie se gewete aan Jesus gebind is bo alle ander op hierdie aarde. Geen gemeente, leier of leiers mag op hierdie heilige grond indring nie, maar mag hoogstens die dissipel se vertroue in hierdie verbintenis met Jesus versterk. Toe Jesus die opdrag gegee het dat Sy eerste dissipels van al die nasies dissipels moet maak, het hulle baie goed verstaan dat hulle opdrag was om mense se verhouding met JESUS te vestig en versterk. Hulle het nie probeer om mense dissipels van hulleself te maak nie. Handelinge 9 vers 1 sê Paulus het die "dissipels van die Here" vervolg, nie die dissipels van Petrus of Jakobus nie. Nadat hy self 'n dissipel van Jesus geword het,  waarsku hy in Handelinge 20 vers 30 dat daar manne sal wees wat dissipels gaan wegtrek "agter hulle aan" en in Galasiërs 4 vers 17 dat diesulkes se doel is om dissipels "vir hulleself" te laat "ywer".  Enige leier, gemeente of denominasie wat mense se gewetes aan hulleself probeer bind in plaas van aan Christus en Sy Woord is besig om dissipels "weg te trek" van Jesus af, selfs al gebruik hulle Sy naam en haal skrifte aan. Toets jou hart en maak seker dat jou gewete net aan Jesus en Sy Woord gebind is. Slegs diegene wat mense se vertroue in Jesus alleen vestig en versterk en hulle anker in Sý Woord is ware dissipelmakers. Alle ander is besig om teen God se meesterplan met die mensdom te werk, selfs al doen hulle dit in onkunde en met goeie motiewe.

Thursday 11 June 2015

DIE GOUDSTANDAARD VIR LEIERSKAP



"Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.  Hy moet meer word, maar ek minder." Joh. 3:29-30

Hierdie woorde van Johannes die Doper is 'n pragtige voorbeeld van die hart van alle Nuwe Testamentiese leierskap. Dominees, pastore, ouderlinge, leraars, evangeliste of apostels is nie die bruidegom nie en durf nie die gemeente aan hulleself verbind asof hulle die bruidegom is nie.  Hulle is hoogstens vriende van die bruidegom wat hulle verbly oor Sy stem wat al hoe meer prominent raak in mense se lewens. Dieselfde geld ook vir enigiemand wat 'n pad van dissipelskap met iemand stap.  Niks behoort iemand wat 'n leierskaprol het blyer te maak as om te sien hoe Jesus meer raak in iemand se lewe en hulle minder nie.  Johannes die Doper se stelling is in hierdie verband die goudstandaard vir leierskap.  Een ding is glashelder duidelik wanneer ons oor leierskap/dissipelskap praat; as Jesus 'meer word', gaan jy 'minder word' en as jy 'meer word' gaan Jesus 'minder word' vir mense met wie jy 'n pad van dissipelskap stap. Om 'minder te word' beteken nie dat jou verhouding met mense in enige sin skade ly of dat jy nie meer jou unieke rol in die gemeente moet vervul nie. Dit beteken liewer dat mense jou gawes en vaardighede al minder raaksien omdat hulle so oorweldig is met die lieflikheid van Jesus en Sý kosbare bedieninge aan die gemeente.

Tuesday 9 June 2015

DIE ANTWOORD IS STEEDS JESUS

“Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.  Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus?  Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?”  Joh. 14:8-9 


Die hele Bybel gaan oor Jesus en wil ons van aangesig tot aangesig bring met Hom (2 Kor. 3:18).  Ons maak soms ons geloof so gekompliseerd en vra so baie onnodige vrae dat ons die eenvoud mis.  Wat is die eenvoud van ons geloof?  Die feit dat alles wat ons nodig het net in een Persoon en op een plek te vinde is.  Hoe kan ons byvoorbeeld God die Vader ken en Sy karakter peil?  Net deur die openbaring van Jesus in die Bybel.  As ons geloofsoë oopgaan en ons “sien” Hom, het ons outomaties ook die Vader gesien.  Jesus is “die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Heb. 1:3).   Jy hoef nie te wonder nie en jy hoef nie verward te wees nie.  Bly by die eenvoud van jou geloof.  Alles wat ek en jy nodig het, is in Jesus.  Net omdat jy op ‘n moeilike plek in jou lewe is, beteken dit nie die antwoord gaan skielik verander en dat daar nou ‘n ander oplossing is nie.  Die antwoord is steeds Jesus.  Die manier wat die Vader vir jou uitkoms gaan gee, is steeds eenvoudig deur om vir jou meer van Sy Seun te wys en te openbaar.  Slegs hierdie openbaring bring geloof (Rom. 10:17) en dáárdie geloof stel jou in staat om op die branders te loop, bo die omstandighede van die lewe.

GOD STEEK HOMSELF NIE WEG VIR ONS NIE

Die mens is gemaak deur God én vir God.  Ons is geskape na Sy “beeld en gelykenis”.
 
En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.”  Hand. 17:26-28 


In ‘n gevalle wêreld wat desperaat sin probeer maak uit sintuiglike data rondom ons en dikwels verwarrende subjektiewe waarnemings in die innerlike dring God steeds daarop aan dat Hy nie “ver van elkeen van ons” is nie.  Dawid sê in Psalm 19 “die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan”.  God gee vir ons welsprekende getuienis van Sy nabyheid in die natuur, in die Skrif, in getuienis in die menslike gewete en bo alles in Sy eniggebore Seun wat ons geskiedenis binnegestap het toe Hy vlees geword het en vir ons kom sterf het.  Op grond daarvan verkondig Paulus met blydskap en vrymoedigheid die boodskap: “naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart”.  En hy noem hierdie evangelieboodskap “die woord van die geloof” (Rom. 10:8).  Die oomblik wat iemand Jesus se naam met geloof bely en met sy hart glo dat Jesus opgewek is uit die dode (Rom. 10:9) breek die heerlikheid van God deur en die “son van geregtigheid” gaan op met “genesing onder Sy vleuels” (Mal. 4:2).  Oombliklik is God nie meer net naby nie, maar Hy leef ook binne-in hierdie nuwe dissipel van Jesus (Gal. 2:20; 1 Kor. 6:19).  God is teenwoordig, Hy is naby, maar Hy leef ook in jou as jy ‘n dissipel van Jesus is en Hy wil van binne af jou hede en jou toekoms rig en verhelder.  Dit is ‘n heerlike waarheid.  Glo dit!

Monday 1 June 2015

GOD IS NABY AL VOEL DIT NIE ALTYD SO NIE

“Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.”  Psalm 139:1-6 


God se aktiewe betrokkenheid by ons is verstommend!  Dit is so oorweldigend dat Dawid, maar net kan sê dit is “te wonderbaar…ek kan daar nie by nie”.  Ons is soms so oorweldig deur lewensomstandighede of bloot net ons onstuimige en onvoorspelbare emosies dat alles in ons vra, “waar is God se teenwoordigheid en aktiwiteit in my lewe”?  Die werklikheid is dat God naby is en aan die werk in en om jou, al voel dit nie so nie.  Let op na die werkwoorde in hierdie paar verse.  God “deurgrond”, Hy “ken”, Hy “verstaan”, Hy deurvors”, Hy “is goed bekend” met, Hy “ken geheel en al”, Hy “sluit in van agter en van voor” en Hy “lê” Sy hand “op” jou.  Moenie toelaat dat emosies, omstandighede en sintuiglike waarneming jou blind en doof maak vir ‘n ander en baie groter werklikheid nie.  God leef, Hy is teenwoordig, en Hy is nie passief nie.  Lees die res van die Psalm en kyk hoe Hy verder werk in en om ons en wat die regte respons is (verse 14, 17, 23 en 24) op Sy betrokkenheid en aktiwiteit in ons lewens.