Dit is 'n baie gevaarlike aanname om te dink dat ons nooit
weer geestelik blind kan wees of dat ons nie meer die verligting van die
Heilige Gees nodig het nadat ons oë in die wedergeboorte geopen is nie. Dis ongetwyfeld die aanname wat die meeste
onenigheid en struweling in gemeentes regoor die wêreld veroorsaak, want dit is
net die natuurlike intellek wat verwaand genoeg is om Goddelike openbaring (die
Bybel) te hanteer sonder die innerlike verligting van die Heilige Gees.
Indien jy twyfel aan hierdie stelling gaan lees asseblief 1
Korinthiers 1 en 2 biddend en let baie mooi op na die argument wat Paulus daar onder
inspirasie van die Gees bou. In hoofstuk
1 verse 10 tot 13 berispe hy die dissipels in Korinte baie ernstig oor hulle onenigheid
en dan wys hy vir hulle in die res van die hoofstuk en ook in hoofstuk 2 wat
die kernoorsaak is van die onenigheid onder hulle.
Let op wat Jesus vir dissipels
sê in die gemeente van Laodisea:
"Want
jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet
nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is
nie." Openbaring 3:17
Prakties beteken dit net dat ons elke keer wanneer ons werk
met die Bybel seker moet maak dat ons besig is met "die wysheid van bo"
(Jakobus 3:13-18) en veral in die areas waar ons van mekaar verskil. Dit is juis hier waar die arrogansie van die
natuurlike intellek met gemak en seepglad inskop en dan van daar af die bootjie
(gesprek) probeer stuur. Met kinderlike nederigheid moet ons keer op keer bely
"ek kan niks sien of verstaan as U nie my oë ook weer hierdie keer open
nie, liewe Heer". Dit is dan ook in
daardie gesindheid wat ons met mekaar moet praat en "redeneer".
No comments:
Post a Comment