Bybelse geloof is gebaseer op liefde vir God. Dit is nie net om in te stem met Bybelse
feite of om dit te bely nie. Ek wonder
of daar 'n waarheid is wat ons generasie meer nodig het om te hoor as hierdie
een.
Vir een of ander rede het die idee by ons posgevat dat party
dissipels Jesus liefhet en dat ander maar net glo in Hom en dat dit nie regtig so 'n groot verskil
maak in die finale analise nie. Solank
jy net glo. Reg?
Nee, heeltemal verkeerd.
Die "duiwels glo ook" (Jak. 2:19), maar hulle het geen liefde
vir God nie. So 'n geloof kan niemand
red nie.
Waarom is die terme van dissipelskap wat Jesus neerlê so
streng? Soos byvoorbeeld Mattheüs 10 vers 37: "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun
of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie."
Want dit toets ons liefde vir Hom! Sonder hierdie liefde kan ons volgens Jesus
self níe Sy dissipels wees nie. Jesus het
geen dissipels wat Hom nie só liefhet nie.
Nie eers een nie. Miskien moet
ons weer gaan dink oor wat dit beteken om "dissipels" te maak "van
al die nasies" (Mt. 28:19) en wat die inhoud en oogmerk is van die
evangelie wat ons verkondig.
Maar los dit ons nie dan net weer by redding deur verdienste
en nie deur geloof alleen nie? Nee
geensins nie, want hierdie liefde vir Jesus is die gevólg van Sy liefde vir ons
en dit is dan ook die wese van Bybelse geloof.
"Ons
het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19
Indien hierdie liefde vir Jesus dus nie in my hart is nie,
bewys dit net een ding; die evangelie het nog nooit tot binne in my hart
deurgedring om daar Bybelse geloof op te wek nie (Rom. 10:17). Dan het ek dringend nodig om na God te draai
en te bid dat dit wel sal gebeur. Dit is
letterlik 'n saak van lewe en dood.
No comments:
Post a Comment