Bybelse redding en gevolglike geestelike gesondheid en groei
gaan nie net oor 'n belydenis (Mt. 7:21) of 'n geloofsoortuiging (Jak. 2:19)
nie. Dit gaan ten diepste oor dit wat
vir ons waardevol is en die manier wat ons dan omgaan met hierdie
"skat" wat ons ontdek het, relatief tot die skatte van die wêreld.
"Verder
is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand,
wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles
wat hy het, en koop daardie saailand.” Mattheüs 13:44
"Want
wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of
wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?" Mattheüs 16:26
Daar is geen aardse skatte wat 'n mens se siel kan loskoop
van die ewige verderf nie, maar die manier wat jy aardse skatte hanteer wys wel
of jy al die "skat in die saailand" ontdek het.
Christus is die "skat in die saailand" en as jy
hierdie skat werklik ontdek het, is jy bereid om alles op te gee om te groei in
kennis van Hom.
"Maar
wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die
uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek
alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry." Filippense
3:7-8
As Christus werklik vir jou die "skat in die
saailand" is, sal jou gesprekke, die manier wat jy omgaan met tyd en geld,
en elke aspek van jou lewe getuig van dit wat vir jou bo alles kosbaar is. Ware dissipels se waardestelsel is radikaal
anders as die wêreld s'n. So radikaal
dat dit baie gou sigbaar word vir almal rondom hulle. Is jou geloof (waardestelsel) so sigbaar?
Jim Elliot het gesê: "He
is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose."
No comments:
Post a Comment