Een van die mees kosbare beloftes in die Nuwe
Testament is Jesus se belofte aan Sy dissipels om tot die einde met hulle te
wees.
"En
kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen."
Mattheüs 28:20
Ons generasie is baie lief vir beloftes oor God
se sorg en teenwoordigheid by ons "deur dik en dun" en vir seker is
dit in 'n gevalle wêreld die beste moontlike anker vir die siel. Maar let asseblief noukeurig op na die
konteks van hierdie (en soortgelyke) belofte(s).
"En
Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag
in die hemel en op aarde. Gaan dan heen,
maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en
die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle
beveel het." Mattheüs 28:18-19
Paulus skryf baie jare later oor sy insig in
hierdie evangelie wat as dit reg verstaan word áltyd dissípels van mense maak,
nie net "godsdienstiges" wat dinge bely wat géén praktiese waarde of
betekenis in hulle daaglikse lewe het nie.
Ek weet jy is waarskynlik baie besig, maar
weerstaan asseblief die versoeking om die volgende skrifgedeelte net
gedeeltelik of halfhartig te lees. Lees
dit met aandag en vra jouself of dit moontlik is vir 'n dissipel van Jesus om
hierdie gedeelte werklik te lees en verstaan sonder om self ingetrek te word in
die sendinglas van Paulus.
"Om
hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat
heidene is— as julle ten minste gehoor
het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir
julle, dat Hy aan my deur ‘n openbaring
bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig
in die verborgenheid van Christus kan verstaan,
wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit
nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en
medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die
evangelie waarvan ek ‘n dienaar geword
het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig
die werking van sy krag. Aan my, die
geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die
evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die
gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God
wat alles geskape het deur Jesus Christus." Efesiërs 3:1-9
Ervaar jy ook die innerlike dringendheid en
begeerte om die kosbare evangelie van Christus aan die nasies te
verkondig? As jy niks van hierdie aard
beleef nie, het jy óf heeltemal sig verloor op die kóninkryksinhoud van die
evangelie óf jy het van die begin af nog nooit die evangelie verstaan nie. Draai dan na God en smeek Hom dringend om jou
oë oop te maak.
Daar is nie een evangelie vir "gewone
mense" en 'n ander vir dissipels, predikers, sendelinge en apostels
nie. Daar is net een evangelie, die
evangelie van die koninkryk; die evangelie wat alles gee van God, maar ook
alles eis van jou en jou dus noodwendig op 'n lewenslange sending na die nasies
plaas. Hierdie sending begin in jou hart
en brei uit naby en ver en oral waar jy beweeg tussen mense. Dit het baie groter en dieper dimensies
(Efes. 3:18-19) as bloot die geografiese.
No comments:
Post a Comment