Die hele Nuwe Testament verkondig ‘n wonderlike
Persoon (Jesus) en die appél op ons om met ons hele hart en lewe Hom eerste te
stel in alles.
Almal sal sekerlik saamstem dat geloof absoluut
sentraal is in die Nuwe Testament en dat daar letterlik honderde tekste is wat
mense oproep om te glo in Jesus Christus en Sy verlossingswerk. Die leer van regverdigmaking deur geloof
alleen word nie verniet genoem “die leer waarop die kerk staan of val” nie. Dit is sekerlik waar om te sê, as jy nie die
leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen het nie, het jy nie die
evangelie nie. Dit is egter nie genoeg
om net dit te sê en dit dan daar te los nie.
As ‘n mens die Nuwe Testament in sy geheel ondersoek,
vind jy dat die Vader met geen ander reaksie op die evangelie tevrede is nie, as
volkome en onverdeelde toewyding aan Jesus. In al die boeke van die Nuwe
Testament sien ons dat dít die oorwinning van geloof en hoop is. Die satan het baie subtiel die betekenis van
die woord geloof verskraal tot ‘n blote geloofsbelydenis.
“Maar
ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere
toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die
slang.” 2 Korinthiërs 11:3
Oor en oor in die Nuwe Testament word ons gemaan
om ons toewyding aan Jesus lewend te hou op die altaar van ons harte te midde
van al die uitdagings van die lewe en nie onsself te bedrieg met ‘n “geloof”
wat net by woorde bly nie.
Hoekom lees en gehoorsaam ek die Woord? Want ek het Hom lief. Hoekom bid ek? Want ek het Hom lief. Hoekom wil ek graag saamkom met ander
gelowiges in aanbidding? Want ek het Hom
lief. Hoekom getuig ek van Hom? Want ek
het Hom lief.
In Johannes 21 sien ons hoe Jesus ‘n dissipel
(Petrus) herstel in sy geloof deur drie maal vir Hom te vra, “het jy My lief”? Dit bly die toets van ware geloof. Moet nooit weer die woord “geloof” of “glo”
lees in die Nuwe Testament sonder om dit te verbind aan ‘n onvoorwaardelike
toewyding aan Jesus nie. Dit sal jou
bewaar van dosyne slaggate en jou geestelik gesond hou. Geestelike groei is dan ook niks anders nie as
‘n immer-toenemende toewyding aan Jesus in elke seisoen van ons lewens op
aarde.
No comments:
Post a Comment