As ons in die bedeling van die nuwe verbond leef waar die Gees van God direk op elke wedergebore mens se hart inwerk, kan dit vir ons reg wees om net woorde, aktiwiteite, liedere en preke op mekaar te stapel sonder om eers ‘n tydjie op God te wag? Wat kan belangriker wees as om saam op God te wag wanneer ons ontmoet as Sy lewende tempel?
“...Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.” 2 Kor. 6:16
Dit is tog God wat dinamies in ons werk wat vir Hóm welbehaaglik is (Flp. 2:13) in ons korporatiewe aanbidding as liggaam van Christus.
Ons moet leer om mekaar net te bedien met die mate van innerlike genade wat ons direk van God ontvang soos wat ons op Hom wag. O, hoe wonderlik is hierdie innerlike manier van aanbidding. Dít is aanbidding in gees en waarheid, maar dit is vreemd vir die mens van die sintuie, die sielsmens wat nie werklik ag slaan op die dieper werking van God se Gees in die innerlike mens nie.
Tragies genoeg is die meeste Christene vandag so gewoond aan uiterlike aktiwiteite en programme dat hulle nie in staat is om enige innerlike beweging van die Gees te onderskei nie. En dit is nie, soos so baie dink, 'n kwessie van die gevoelens teenoor die verstand in godsdiens nie. Die werk van die Gees in die gees van die mens (1 Kor. 2:11) is baie dieper as intellek, emosies, wilskrag, persoonlikheid of gawes.