Paulus gaan hier (Kolossense 2:16-23) voort om die gelowiges in Kolosse aan te spoor om vas te staan in die volheid van Christus, te midde van al die godsdiensfilosofieë en aktiwiteite van mense wat "nie aan die Hoof vashou nie" (v. 19). Hulle moet niemand toelaat om hulle te diskwalifiseer en hulle te beroof van die vreugde in Christus en ons erfenis in Hom nie. Hulle heiliging is gebaseer op hulle dood met Christus (3:3), nie op enige vorm van asketisme nie. Die vlees sal aan niks anders as die kruis toegee nie. Geen mate van uiterlike dissipline kan die kragtige begeertes van die vlees oorwin nie ((v.23) en geen uiterlike rituele, godsdienstigheid of "visioene" kan iets byvoeg tot wat ons reeds gratis en onverdiend in Christus ontvang het nie.
’n Dissipel van Jesus moenie toelaat dat enigiemand sy aandag aflei van sy posisie in en identifikasie met Christus nie. Ons moet vashou aan die Hoof en ons verheug in die vrug van Sy verlossingswerk. Ons moet alles wat ons nodig het in Hom alleen vind. Sekerlik moet ons gedissiplineerde lewens lei (1 Kor. 9:27), maar ons durf nie terugval op enige uiterlike dissipline óm vervulling te probeer vind nie. Ons het dit reeds in Christus ontvang (Kol. 2:9-10).
"Dié
wat die oorvloed van genade en die gawe van geregtigheid ontvang het, sal in
die lewe heers deur die Één, Jesus Christus." Romeine 5:17b
Volmaaktheid word in Christus alleen gevind. Ons moet eens vir altyd wegdraai van die skadus van die Ou Testament en die vervulde werklikhede in Christus omhels. Beklee jou met die waarheid dat jy volmaak is in Christus en in 'n sin "nie meer lewe in hierdie wêreld nie" (2:20)! Moenie toelaat dat enigiemand of enigiets jou geloof in die genoegsaamheid van Christus laat wankel nie! Omhels bewustelik die nuwe skeppingswerklikhede in Hom. Glo en bely volheid in Christus en laat toe dat die waarheid van jou nuwe posisie jou inlei in die ervaring van Christus soos wat Hy in jou gevorm word (Gal. 4:19) in die leefruimte van vaste geloof.
No comments:
Post a Comment