Volgens die Nuwe
Testament kan gemeentelewe nie losgemaak word van die lewe van Christus in die
gelowige nie. Alles wat ons nodig het is in Christus en ons gemeenskap
met God en met mekaar is net outentiek en eg solank as wat dit vloei uit ons
fokus op Christus en ons eenheid en gemeenskap met Hom. Hy is die Hoof en
ons is die liggaam en daardie organiese en geestelike eenheid is die basis van
gemeentelewe.
Daarom volg dit
logies dat ‘n gemeente net gebou kan word vanuit ‘n absolute fokus op Christus
ons Here. Christus in ons is ons lewe volgens Kolossense 3 vers 4 en
hierdie hemelse werklikheid is nie net bedoel vir die individu se genieting en
opbouing nie, maar ook vir die gemeente. Ons gemeenskap is in Christus.
Die alternatief is altyd ‘n samekoms rondom persoonlikhede, bedieninge,
spesifieke leringe, en ‘n legio ander dinge wat die middelpunt is in so baie
gemeentes reg oor die wêreld. Ons eenheid volgens die Nuwe Testament is
egter in Christus.
Dit is net wanneer
ons verstaan dat die ‘nuwe skepping’ die locus van ons gemeenskap is dat ons
die wonder van gemeentelewe begin sien en waardeer en ontsnap uit sieldodende
godsdienstradisies. Die Christus-lewe is by uitstek bedoel om gedeel te
word met die wat ook dieselfde oorsprong en identiteit het, kinders van God in
Christus. Wanneer ons dit verstaan kan ons aktief en intelligent saamwerk
met God se doel in die heelal soos duidelik uitgespel in Efesiërs 2 verse 19
tot 22:
“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners
nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op
die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die
hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n
heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n
woning van God in die Gees."
No comments:
Post a Comment