“Maar julle
moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is
almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is
julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem
nie, want Een is julle Leier: die Christus.” Mattheüs 23:8-10 (NAV)
Hierdie verse
is vir seker nie onder die gunsteling gedeeltes van die Bybel vir die
voorstanders van georganiseerde godsdiens nie. Boonop vind die institusionele
kerk ook allerlei maniere om die impak van Jesus se opdragte hier op slinkse
wyses te omseil sodat die mag en beheer in mensehande kan bly.
Ja, daar is
leraars (Efes. 4:11), geestelike vaders (1 Kor. 4:15) en leiers (Rom. 12:8) in
die gemeente van God. Ware leraars lei egter altyd dissipels na die Een
leermeester en Sy kosbare innerlike lering. Ware geestelike vaders vind vreugde
daarin om die kinders van God se harte te voed en verbly deur op die Een Vader
van ons almal te fokus (Efes. 4:6). Ware leiers wys voortdurend vir dissipels
uit dat Jesus alleen die “Leidsman en Voleinder” van ons geloof is (Heb. 12:2).
Enigiemand wat
die Woord van God werklik respekteer en buig onder die Goddelike gesag daarin
vervat, sal sonder baie moeite kan sien dat die godsdienstige titels van die
institusionele kerk geen plek het in die gemeente van God nie en dat die
sieklike fokus op geld, geboue en getalle saam met al die titels en die
gewaande status sonder seremonie by die agterdeur uitgeboender kan word.
Daar is nie ‘n
baba in daai badwater nie. Gooi dit maar alles uit en wees bereid om sonder
frille en voorbehoude net ‘n lid te wees van die eenvoudige, organiese gemeente
wat onderhou en gebou word deur Een leraar, Een Vader en Een leier.
No comments:
Post a Comment