Wednesday 9 October 2013

HOU DIT EENVOUDIG


Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 2 Korinthiërs 11:3

Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. 2 Korinthiërs 11:3 (NAV)

Daar is vandag soveel Christelike bedieninge waaraan gelowiges deur die media blootgestel word en baie van hulle maak groot uitsprake oor die impak wat hulle het en gaan hê; wêreldwye invloed, profesieë oor herlewing, ensovoorts, ensovoorts. 

Verder word persoonlike profesieë dikwels die somtotaal van gelowiges se geestelike lewe en verwagting en bou hulle alles rondom sulke “woorde” van ander.  Hoe moet die dissipel van Jesus homself posisioneer ten opsigte van al hierdie dinge?  Daar is sekerlik ‘n tyd en ‘n plek vir sekere van hierdie dinge, maar God het vir ons ‘n vaste anker gegee in Christus en dit bring stewige grond onder ons voete en ‘n fondasie waarop ons kan bou. 

Maak seker dat jou fokus op Christus alleen is as die Een in wie jy volkome is (Kol. 2:10), en dat jy vanuit ‘n ‘’Eerste Liefde’’ verhouding met Hom in gehoorsaamheid leef in jou daaglikse lewe.  Ons moet maar gereeld in gedeeltes soos die bergpredikasie (Mt. 5-7) gaan kyk en seker maak of ons werklik leef vanuit Christus in ons, want dit is net Sy lewe in ons wat so 'n koninkrykslewe op aarde moontlik maak.  Dit hou ons nederig en help ons ook om verby die uiterlike en die oorvloed van woorde te kyk en duidelik te onderskei in die tyd van “information overload” waarin ons leef.
 
In 1 Kor. 4:20 sê Paulus “die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.”  Die krag waarvan Paulus hier praat is die krag om ‘n heilige lewe te leef wat vir God welbehaaglik is; die krag van Christus in ons.  Die primêre verskil tussen die ou en nuwe verbond is dat ons nou “onder die wet van Christus” is, omdat Hy in ons leef.  In verhouding met Hom is daar ‘n toenemende geloofsgehoorsaamheid in ons lewens wat Christus se karakter deur ons openbaar. 

Die eenvoud is te vinde in Jesus wat vir ons alles geword het (1 Kor. 1:30).  Nie my lewe wat verbeter moet word nie, maar Sý lewe in en deur my soos wat ek my lewe neerlê om plek te maak vir Syne.

No comments:

Post a Comment