Tot 'n sekere mate sal ons altyd vanuit die natuurlike
perspektief in hierdie tydelike bestel net die helfte van die prentjie van ons
lewens sien. Dit is hoekom dit soms so moeilik is om sin te maak van oënskynlik
sinnelose dinge wat met ons gebeur.
Vanuit die geestelike, die geloofsperspektief, is daar egter een oorweldigende
faktor wat die hele prentjie radikaal verander: God het sy Seun vir ons gegee!
Daarom mag jy wéét dat God jou liefhet, ongeag gevoelens of onverklaarbare
gebeurtenisse. Een ding bly konstant en
sal in 2015, net soos al die ander jare, rotsvas bly staan; dat 'geen dood of
lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of
hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God
wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie' (Rom. 8:38-39).
Wednesday, 31 December 2014
Saturday, 27 December 2014
CHRISTUS, WAT ONS LEWE IS
"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar
word..." Kol. 3:4
Christus is nie soos 'n wonderlike bestanddeel in 'n
bredie wat jy by al die ander bestanddele kan voeg om dit nog lekkerder te maak
nie. Hy is ook nie enigsins beïndruk daarmee dat ons op 'spesiale dae' in die
jaar of een dag 'n week baie godsdienstig raak en dan vir 'n rukkie aan Hom
dink nie. Hy is eerder soos die suurstof in ons atmosfeer wat
oomblik-vir-oomblik vir ons lewe gee en waarsonder ons nie kán leef nie.
Christus ís ons lewe, Hy is nie 'n deel van ons lewe of selfs net die beste
deel nie. "Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape" en "in Hom
hou alle dinge stand" (Kol. 1:16-17).
Thursday, 18 December 2014
DIE GROOT OORLOOP
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord
hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die
oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Joh. 5:24
Jesus beklemtoon die gewigtigheid en finaliteit van
hierdie verstommende stelling deur dit in te lui met die woorde 'voorwaar,
voorwaar'. Daar is 'n
menslik-onoorbrugbare kloof tussen twee groepe in hierdie wêreld. Aan die een
kant is die verhoor-afwagtendes wat gedurig leef met 'n swaard oor hulle
koppe. Vir hulle is daar aan die einde
van die reis net 'n doodloopstraat wat Jesus 'die oordeel' noem. Aan die ander kant is diegene wat die knie
gebuig het voor Jesus met openlike erkenning dat dit inderdaad die Vader was
wat Hom na hierdie aarde gestuur het om te 'soek en te red wat verlore was'
(Luk. 19:10). Die Vader het in Jesus vir
ons 'n brug gebou tussen 'die oordeel' en 'n onuitspreeklike saligheid. Almal wat daardie brug vertrou het en
gevolglik oorgeloop het na die ander kant kan reeds in hierdie lewe wéét dat
daar nie meer 'n oordeel wag aan die einde van die aardse reis nie, maar 'n
Vader met ope arms. Wat 'n vrede! Wat 'n vreugde!
Thursday, 11 December 2014
SALIGE AFHANKLIKHEID
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle
behoort die koninkryk van die hemele.” Matt. 5:3 (OAV)
“Geseënd is
dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” Matt. 5:3 (NAV)
Jesus skroom nie vir ‘n oomblik om die kernprobleem
van die gevalle mensdom direk aan te spreek nie. Sy woorde is soos ‘n pyl
wat reguit en sekuur na die teiken beweeg en dan diep penetreer. Hy wil
dit uit die staanspoor baie duidelik maak dat die gesindheid van ons harte
radikaal moet skuif van ‘n sondige ónafhanklikheid na ‘n kinderlike
áfhanklikheid wat in alles en in elke situasie instinktief na die Vader gaan om
Sy wysheid en krag te verkry. Later in Sy bediening (Joh. 13-17) maak
Jesus dit duidelik dat hierdie afhanklike lewe slegs geleef kan word in ‘n
wesenlike eenheid met Hom deur die krag van die Gees. Sonder Hom kan ons
nie ‘n enkele tree in die regte rigting gee nie (Joh. 15:5)! Hy gee ook
nie net hulp en krag nie, Hy ís die krag, lewe en wysheid binne-in ons (1 Kor.
1:30).
Wednesday, 10 December 2014
BLIND VIR ONS EIE BLINDEKOLLE
"Want by U is die
fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Ps. 36:10
"In Hom was lewe, en die
lewe was die lig van die mense." Joh. 1:4
"En Jesus het weer met
hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik
nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê." Joh.
8:12
Ons is almal met dubbele
blindheid gebore. Nie net het ons blindekolle wat hardnekkig saam met ons loop
op die lewenspad nie, maar ons is ook sonder uitsondering blind vir ons eie
blindekolle. Ja sekerlik kan ons in oomblikke van ongewone eerlikheid en
deursigtigheid met 'n kwalik verskanste self-bewustheid 'n mate van erkenning
gee aan die areas van ons karakter wat so onverklaarbaar ons 'perfekte self-oordeel'
onstnap het. Maar wanneer die lig van Christus deur die krag van die Gees 'n
slag ons binnewêreld ordentlik verlig, moet ons erken dat ons eintlik maar
amper totaal blind is vir ons eie blindekolle. Op die grond en sterkte van die
nuwe geboorte in Christus bring ons hemelse Vader stadig maar seker deur die
Gees van Christus vir ons 'n ware visie van ons inherente blindheid vir ons eie
blindekolle? Hoekom is dit nodig? Kan ons nie maar net leer van ons nuwe
identiteit in Christus nie? Nee. Ons Vader is te lief vir ons om ons te laat
leef in die waan van self-misleiding wat kleef aan alle vlees op hierdie
gevalle planeet. Hy wil ons speen van álle self-vertroue sodat ons in
wérklikheid kan leef uit ons nuwe identiteit in Christus, sonder 'n vermenging
van die ou en die nuwe. Slegs dan breek die krag van die nuwe skepping volledig
deur in die helder lig van God se heerlikheid en kan ons al die kosbare
beloftes van God in Sy Seun waarlik in besit neem. As ons hierdie waarheid glo en
onvoorwaardelik omhels, sal dit nie net in ons eie lewe en verhoudings radikale
veranderings inlui nie, maar dit sal ook 'n rewolusie in ons gemeentes teweeg
bring.
Thursday, 4 December 2014
GOSPEL PLUS LAW EQUALS LAW!
When we add law works, law programs, and law initiatives to
the gospel we do not enhance the gospel, we destroy it. The end result is not a stronger gospel, but
no gospel at all. Jesus plus law makes
of the gospel just another human program, driven by individuals and glorifying
man’s efforts to build man’s empires. The gospel is more than sufficient in and
of itself to not only justify us, but also to sanctify and glorify us. The gospel is the sole motivation needed to create
strong and healthy disciples and churches.
We do not need more incentives
and brilliant strategies engineered by human ingenuity. We need a more resplendent view of who Jesus
is and what we have already received in Him.
Monday, 1 December 2014
JY IS NIE MEER WAT JY WAS NIE
"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle
lig in die Here — wandel soos kinders van die lig." Efes. 5:8
Voor die dag wat ons reageer het op die heerlike
evangelie van Jesus Christus was ons 'sonder hoop en sonder God in die wêreld'
(Efes. 2:12). Ons was 'dood deur die misdade en die sondes' (Efes. 2:1). Ons
het gewandel 'in die begeerlikhede van ons vlees', het 'die wil van die vlees
en van die sinne gedoen' en 'ons was van nature kinders van die toorn' (Efes.
2:3). Ons was 'onverstandig, ongehoorsaam,
op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in
boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.' (Titus 3:3).
Maar ons is nie meer wat ons was nie! Ons is nou 'lig in die Here' en die appél
op ons lewens is om te wandel ooreenkomstig die nuwe lewe wat in ons is. Vroeër
kon ons lewe as geheel beskryf word as 'duisternis', maar nou as 'lig', en dit
alles as gevolg van ons eenheid met Christus.
As jou wandel nog tekens toon van die duisternis van jou vorige lewe,
begin dit aan te spreek vanuit die lig van jou núwe lewe in Christus.
Wednesday, 26 November 2014
DIE VADER SE PLAN WERK DEUR GELOOF
“Maar
Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek
nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal
Ek Hom na julle stuur.” Joh. 16:7
Terwyl
Jesus op aarde was, moes mense fisies by Hom wees om Sy heerlikheid te
sien. Die skares kon net van ‘n afstand Sy
werke, woorde en teenwoordigheid in hulle midde aanskou en waardeer. Al het Hy tog ook baie mense aangeraak,
genees en verlos in die tyd van Sy bediening op aarde was Hy beperk tot een
liggaam. Vandag leef ons egter in die
era van die Gees (2 Kor. 3:8) en kan elkeen wat wil onmiddellike toegang kry
tot die heerlikheid van Jesus. Elke
dissipel van Jesus het die Gees van Christus in hulle en daarom is daar geen
afstand of verwydering tussen ons en Jesus nie.
Dit is egter ‘n waarheid waarvan ons net in geloof voordeel kan
trek. Die Gees is uitgestort, die
afstand is oorbrug, die Seun is teenwoordig, die lewe is nou in jou! Dit is net met die geloofsoog wat die
werklikheid daarvan vir jou tasbaar word.
Terwyl jy nog steun op jou eie menslike pogings om jou verhouding met
God te verbeter, staan jy in die pad van die openbaring van Christus in
jou. Terwyl jy nog vertroue het in jou
eie wilskrag (gewilligheid is iets anders) om lojaliteit aan Jesus te verseker,
misken jy die krag van jou eenheid met Christus in die era van die Gees. Die Vader se plan werk net deur geloof.
Monday, 24 November 2014
SY GEES ROEP 'ABBA VADER' IN JOU!
"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy
Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!" Gal. 4:6
Al die kinders van Adam dwaal Vaderloos rond op 'n
gevalle planeet. Die woorde van God aan
Adam eggo deur die eeue 'die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe'
(Gen. 2:17). Om sonder verhouding met
die Vader te leef is om verlore en sonder enige hoop te wees. Dit is om geestelik dood te wees. Die dag wat jy egter uit jou diepe
verlorenheid en Godsverwydering die naam van Jesus aanroep, word jy oombliklik
in Hom geplaas en Hy in jou en ontvang jy die ewige Seun se tydlose verhouding
met die Vader as jou grootste geskenk. Hierdie
Seun was altyd by die Vader en Hy leef in Sy boesem (Joh. 1:18). Hierdie Seun leef in onbeperkte intimiteit met
die ewige Vader. Hierdie Seun se Gees is met die wedergeboorte in jou hart
uitgestuur en Hy roep binne-in jou 'Abba, Vader!'. Jy is nie meer Vaderloos nie. Jy hoef nie te leef soos 'n geestelike
weeskind nie.
Moenie as dissipel van Jesus probeer om jou eie
verhouding met die Vader na te jaag onafhanklik van die Seun nie. Dit is futiel! Jou verhouding met die Vader is in en deur die
ewige Seun. Glo dit en verbly jou
daarin! Kyk weg van jouself na Jesus en
jy sal die 'Abba Vader' in jou binneste begin hoor. Eers saggies en vaag, maar dan al hoe duideliker,
totdat dit die refrein van jou hele lewe word.
Wednesday, 19 November 2014
AS JY DINK JY WEET, WEET JY NIKS
“As iemand meen dat hy enige kennis het,
weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie.” 1 Kor. 8:2
Hierdie vers sny diep en
konfronteer ons met ons inherente begeerte om altyd op hoogte te wees en tog
net nooit in ‘n posisie waar ons moet erken ons het nie kennis, of voldoende
kennis, oor iets nie. W.E. Vine
parafraseer die teks as volg: “If a man imagines he has fully acquired
knowledge, he has not even begun to know how it ought to be gained.” In hierdie sin kan die gevaarlikste kennis,
vreemd genoeg, Bybelkennis wees. Dit is
hoekom Paulus in die vorige vers sê ‘die kennis maak opgeblase, maar die liefde
stig.’ Die skrifgeleerdes en Fariseërs
het tonne kennis van die Bybel gehad, maar met al hulle kennis het hulle nie
raakgesien dat Jesus hulle Messias was nie.
Hoekom nie? Want God het die ware
geestelike kennis en insig oor Sy Seun vir hulle verberg. Is hierdie waarheid dan van toepassing op
mense wat reeds wedergebore is?
Sekerlik! Die Nuwe Testament is
propvol waarskuwings oor die gevare van ‘n kopkennis wat nie deur die Heilige
Gees geopenbaar is nie. Ons teks in 1
Korinthiërs 8 is ‘n goeie voorbeeld. Pasop
vir die afdraaipaadjies van die verstand as hy onafhanklik van die Gees begin
funksioneer. Die Here wil ons vir seker
baie dinge leer, maar dit is maklik om ‘n Slimjan te raak met ‘n kop soos ‘n
waatlemoen en ‘n hart soos ‘n grondboontjie.
Ons kennis moet ons dieper neem in verhouding met God en laat groei in
liefde vir mekaar. Die beste moontlike
kennis is om te weet dat jy niks weet, in terme van die Bybel se definisie van ‘weet’,
solank as wat jy dink jy kan alles met jou kop uitredeneer nie. Dan alleen is jou voete stewig op die pad na
die ware kennis van God soos geopenbaar deur die Heilige Gees. Op hierdie pad is daar baie openbaringe en ‘n
vaste sekerheid wat net kom deur die insig wat God gee aan ‘n nederige en
leerbare hart.
Monday, 17 November 2014
DIE 'KERKMASJIEN'
“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis:
Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke,
dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” Openb. 3:1 (OAV)
“…Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en
tog is julle dood.” Openb. 3:1 (NAV)
Hy soek sy petrol, sy olie, en sy dienste. Hoe groter hy word, hoe meer tyd neem hy in
beslag. Hy het nie lewe nie en gee nie
lewe nie, maar hy belowe so baie. Hy is
gemaak om in gery te word, maar voor jy jou kom kry is hy in beheer en doen hý
die rywerk. Sy slagoffers tel in die
duisende. Sy wiele het al baie dissipels
van Jesus raakgetrap. Pasop vir die
'kerkmasjien'! Die gemeente van Jesus is
‘n organisme wat gebruik maak van organisasie.
Wanneer die organisasie mense begin misbruik om homself te bevoordeel en
laat groei, het dit ‘n gruwel en ‘n onding geword.
Wednesday, 12 November 2014
FONTEINE WAT NIE BEVREDIG NIE
"U sal my die pad van die lewe bekend maak;
versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir
ewig." Psalm 16:11
Dawid het ontdek dat niks op hierdie aarde 'n mens finaal
kan versadig nie. Geen aardse water kan
die dieper dors les nie. Dit is net die
water wat Jesus gee wat die dors van die menslike hart totaal kan bevredig
(Joh. 4:13-14). Dit is net voor die aangesig van God wat 'n mens se hart
werklik kan stilraak en begin rus in volkome tevredenheid en onbeperkte
vreugde. Hoe tragies dat mensekinders by
soveel verskillende fonteine drink om finale bevrediging te vind terwyl dit net
by God te vinde is. Hy nooi alle mense
uit om verniet te kom drink van die fonteine van heil in Christus. "En laat hom wat dors het, kom; en laat
hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Openb. 22:17).
Monday, 10 November 2014
OORWINNING SLEGS OP DIE WEG VAN DIE LIEFDE
"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie
bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie." 1 Joh. 5:3 (OAV)
"Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie
gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." 1 Joh.
5:3 (NAV)
Ons voel soms oorweldig deur die gevallenheid bo ons,
rondom ons, en selfs in ons en boonop die ewige gesukkel om dinge en
verhoudings te laat werk in die ou wêreld waar alles so maklik uitmekaar val en
ten gronde gaan. Sulke tye kan die pad
van 'n dissipel van Jesus vir ons onmoontlik steil voorkom. Jy het net-net die
vorige bult gemaak, dan lê daar nog 'n steiler een voor jou. Om dan te lees dat God se gebooie 'nie swaar
is nie' laat 'n mens se mond oophang en jy wonder heimlik of Johannes op
dieselfde planeet as ons geleef het. Let wel, hy sê nie 'die lewe is maklik,
want God sorteer alles sommerso in 'n japtrap vir ons uit' nie. Dit sou op sigself verstommend wees. Hy sê in teendeel elders jy gaan baie
téénkanting kry in die wêreld én dan moet jy nog te midde van alles gehoorsaam
wees aan alles wat God van jou vra. Sjoe!
Hoe dan? Johannes praat van die
oorwinning op die weg van die liefde. As
mens iemand liefhet is dit 'n vreugde om hulle hartsbegeertes te bevredig,
selfs al verg dit baie opofferings. Deur
die wedergeboorte het ons die bonatuurlike liefde van God ín ons. Ons neem
egter so maklik sypaadjies wat ook belowe om ons by gehoorsaamheid uit te
bring, maar Johannes sê in effek daar is net een pad wat werk. Dit is die pad
van die bonatuurlike liefde van God ín my wat lei tot die bonatuurlike liefde
vír God gedemonstreer deur my gewillige gehoorsaamheid aan die begeertes van Sy
Vaderhart.
Wednesday, 5 November 2014
NET EEN LEWE
“Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is
saam met Christus verborge in God.” Kol. 3:2-3
“As ons dan
saam met Christus gesterf het...” Rom. 6:8
Solank as wat ons die dood en opstanding van Jesus
net sien as historiese gebeure wat iets vír ons moontlik gemaak het, mis ons steeds
die groter krag van die evangelie. Dit
is inderdaad ‘n wonderlike dag wanneer ek kan bely Jesus het vír my gesterf en
opgestaan. Die dag wat ek egter sien ek
het sáám met Hom gesterf en opgestaan is die dag wat ek besef ek het net een
lewe voor God. Dit verander álles! Ek is in Christus ‘n nuwe mens wat nog leef
in ‘n sterflike liggaam op ‘n gevalle planeet waar daar steeds bose magte en
kragte opereer. Ek is nie ‘n vergeefde “ou
mens” wat besig is om ‘n “nuwe mens” te word nie. Ek is nie een dag ‘n “ou mens” en die
volgende dag ‘n “nuwe mens” nie. Selfs
al tree ek soms nog so op! As dit waar
is (en dit is) plaas dit my onder verpligting om anders te begin dink. Ek moet my “ou mens-nuwe mens” gedagtes eens
en vir altyd laat vaar en gló dat my hemelse identiteit nou en vir altyd my onveranderlike
“in Christus” werklikheid voor God is, en dan begin lééf daaruit.
Monday, 3 November 2014
DIE GROOT TRAGEDIE
"As
die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net
vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god
van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan
sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld
van God is." 2 Kor. 4:3-4 (NAV)
Is
die heerlikheid van die evangelie bedoel vir hierdie 'ongelowiges' wat blind is
in en deur hulle onkunde? Ja vir seker! Anders sou dit nie eers nodig gewees het om
hulle te verblind nie, want die evangelie sou t.o.v. hulle eenvoudig irrelevant
wees. Beide godsdienstige ongelowiges
(sien 2 Kor. 3) en sekulêre ongelowiges weier om hulle eie 'wysheid' en
self-ontwikkelde lewensfilosofie te verloën sodat God die sluier wat oor hulle
verstand is, kan lig. Die Vader het niks
anders as heerlikheid in Sy geliefde Seun vir hulle in gedagte nie (1 Tim.
2:3-4), maar hulle verkies die leuen. Wat
'n enorme tragedie! Soveel te meer dan
die onus op ons om te bid dat mense se oë sal oopgaan om die heerlike
afgehandelde werk van Jesus te sien en hulle knie te buig voor Sy
heerskappy.
Wednesday, 29 October 2014
DIE MITE VAN SELF-VERBETERING
"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en
Ek sal julle rus gee." Matt. 11:28
Een van die grootste mites wat skuil in die gevalle
menslike psige is die idee dat ek myself eers moet verander, om aanvaarbaar vir
God te wees, en gevolglik kan ek leef in verhouding met Hom. Eintlik is
dit presies andersom. As mens mooi dink daaroor besef jy hoe absurd die
gedagte is dat ek myself eers moet 'red' en dan sal ek kwansuis waardig wees om
die bloed van Jesus vir myself toe te eien. As ek myself kon verbeter,
hoekom het ek nog vir Jesus nodig? Jy het in elk geval nie die vermoë om
jouself te verander nie. Dit geld beide dissipels van Jesus en die wat nog
nie Sy aanbod van lewe aanvaar het nie. Ons nader God net soos ons is op
grond van die bloed van Jesus, maar ons sal vir seker nie blý soos ons is
wanneer ons in verhouding met Hom begin leef nie.
Monday, 27 October 2014
ALLEEN DEUR DIE DONKER VALLEI?
"Die
hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan ’n ander hom nie meng
nie." Spreuke 14:10 (OAV)
"Net
'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan
niemand anders voluit deel nie." Spreuke 14:10 (NAV)
In tye van erge trauma of smart
wanneer ons dieper begrip soek by ander vir die donker vallei waardeur ons
beweeg, begin die waarheid van hierdie vers oopgaan en sin maak. Daar is dieptes in die menslike hart wat geen
ander skepsel kan peil nie, en selfs die mees wyse en volwasse mense staan soms
verslae voor die gebrokenheid en vreemde weë van hulle eíe hart in tye van
oorweldigende en onverklaarbare teëspoed in hierdie lewe. Dit is net hier waar ons ontdek daar is wél
Een wat werklik die diepste smart van die menslike hart ken én kan genees. 1 Konings 8
vers 39 sê “want U alleen ken die hart van al die mensekinders.“ Dit is nie nodig om alleen deur die 'dal van
doodskaduwee' te beweeg nie. Daar is 'n
Herder wat nader aan jou is as enige mens op hierdie aarde en wat jou hart
selfs beter ken as wat jyself dit ken. Gló
dit net. Dit is waar!
Thursday, 23 October 2014
DIE KAR VOOR DIE PERDE 'EVANGELIE'
Ons glo, dáárom
het ons lief, daarom is ons ywerig om goed te doen aan ander, daarom bid ons,
daarom sing ons, daarom praat ons met mekaar oor Christus en die koninkryk,
daarom praat ons met ongelowiges oor die Goeie Nuus van Jesus se vleeswording,
kruisiging en opstanding. Dit is geloof wat die 'wandel deur die Gees' moontlik
maak en só 'n wandel bring oorwinning, dit ís oorwinning (Gal. 5:16)! Die Bybel
sê nie ons moet oorwin en dan kan ons 'deur die Gees wandel' nie, maar juis
andersom. Ons leef soms in 'doen, doen,
doen', ómdat ons daardeur die oorwinning van die Gees wil bewerkstellig. Dit is
fataal vir jou geestelike lewe. Pasop vir
die kar voor die perde 'evangelie'! Die ware evangelie werk verstommend anders
as ons menslike idees. Dit is die evangelie wat die dryfkrag is vir die lading,
die lading kan nie die evangelie dra of produseer nie.
Monday, 20 October 2014
VAN HEERLIKHEID TOT HEERLIKHEID IN CHRISTUS
"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die
dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle
lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is,
geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar
word." Kol. 3:1-4
In hierdie kosbare Skrifgedeelte wys Paulus ons op vier
dinge wat waar is van elke wedergebore persoon en maak dan 'n appél op ons om
op grond daarvan sonder versuim en sonder onderbreking twee dinge te doen. Die
vier dinge is die waarheid van jóu stand in Christus, ongeag hoe lank jy al
gered is of hoe vêr jy geestelik gevorder het.
Jy ís saam met Christus opgewek, jy hét saam met Hom gesterwe, jou lewe
ís saam met Hom verborge in God, en meer nog Christus self ís jou lewe. Dáárom
staan jy onder 'n vreugdevolle verpligting om die ervaring van die hemelse
werklikhede in Christus te soek met alles wat in jou is en te bedink met die
oog op 'n intieme verhouding met God gevul met 'n toenemende hemelse
heerlikheid (2 Kor. 3:18). Terselfdertyd moet jy ook bewus bly van die
onbeskryflike heerlikheid wat jou deel sal wees wanneer Jesus 'geopenbaar word'
(v.4). Toenemende heerlikheid nou en onoortreflike heerlikheid wanneer Jesus
verskyn! Dít is jou erfdeel. Of jy bewus is daarvan of nie, hierdie vier
werklikhede ís voor God die realiteit van jou nuwe identiteit in Christus. Die vraag is egter of jy dit glo en dáárom
die heerlikheid in Christus soek, bedink, en verwag.
Wednesday, 15 October 2014
IEMAND WAT ONREG KAN DRA
"Moenie
teen mekaar sug nie, broeders..." Jak. 5:9a (OAV)
"Moenie
oor mekaar kla nie, broers..." Jak. 5:9a (NAV)
As
gevolg van die sondeval erf ons almal by ons ouers die instink van haastige oordeel.
Dit is 'n totaal spontane menslike reaksie op ons omgewing om onsself op te
stel as regters en dan alles wat leef en beef onder die loep van ons superieure
insig te bring. Gevolglik is dit so
maklik soos asemhaal vir ons om die gewoonte te kweek om bý mekaar te sug en
kla óór mekaar. 'Het jy gesien wat hy
gedoen het!' 'Het jy gehoor wat sy gesê
het!' Dit is spontaan, natuurlik, en maklik,
maar die Woord sê dit is 'vleeslik'.
Jakobus sê ons 'moenie', selfs al voel ons hoe geregverdig in ons oordeel. Net hier lê die knoop, natuurlik. Ons oordeel, sug, en kla ómdat ons voel ons
is reg en die ander verkeerd. Maar
dissipels moet 'onreg kan dra'. Waar
daar mense is, sal daar onreg wees. Ons
kan of natuurlik reageer en oordeel, kla, en sug, of ons kan ons harte deur die
Gees instel om onreg te dra en dan eerder te bid vir ander en hulle gebreke
voor die Vader te bring. Miskien ontdek
ons dan sommer in die proses dat ons self nie altyd honderd persent reg optree
teenoor ánder nie.
"En
’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor
almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra." 2 Tim. 2:24
(OAV)
"'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie.
Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en
iemand wat onreg kan dra." 2 Tim. 2:24 (NAV)
Monday, 13 October 2014
NEEM MEKAAR VOLLEDIG EN HARTLIK AAN
"Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook
aangeneem het, tot heerlikheid van God." Rom. 15:7
As ons almal presies dieselfde was en dieselfde smake,
voorkeure, afkeure, styl, gawes, en temperament gehad het, sou daar nie eers 'n
nodigheid gewees het vir hierdie vers nie. Die waarheid is egter dat ons
dikwels uiterlik baie van mekaar verskil, al is ons as dissipels van Jesus
innerlik gekonstitueer met die lewe van Christus en daarom wesenlik een. Daarom is dit nou maar net eenvoudig 'n feit
dat daar geen geseënde en vrugbare gemeentelewe kan wees as ons nie leer om
mekaar met al ons verskille en skete volledig en hartlik aan te neem net soos
Christus in Sy oneindige genade óns aangeneem het en Sy liefde sonder perk op
ons uitgestort het nie. Dit beteken geensins dat ons nie op die regte tyd en
plek met wysheid relevante kwessies kan aanspreek nie. Maar leer om aanvaarding van medegelowiges in
Christus te kweek in jou hart totdat dit 'n pragtige tuin van genade word wat
seën en vrede bring oral waar jy gaan.
Daar is net iets aan ware aanvaarding van mekaar in Chrtistus wat ons
harte oopsluit en intieme verhouding moontlik maak soos niks anders dit kan
doen nie.
Tuesday, 7 October 2014
VERLOSSING IN PAAIEMENTE?
Ons dink soms oor ons verlossing soos lenings wat ons by ‘n
hemelse bank kry. Ons moet net hoop ons vang die bankbestuurder op ‘n goeie dag
as daar nou rêrig ‘n krisis is. Dan gebruik ons maar weer die
verlossingskrediet (sal later terug betaal) . Die waarheid is egter dat ons IN
CHRISTUS alles ontvang het wat ons vir hierdie lewe en die ewigheid nodig sal
kry. “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en
godsvrug dien…” (2 Pet. 1:3). En wat meer is, jy hoef dit nie terug te
betaal nie! Jy moet net leef daaruit, uit Hóm in der waarheid. Jesus self is
die somtotaal van alles wat die hemel het om te gee en jy is IN HOM en Hy in
jou. “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in
julle” (Joh. 14:20). Het jy oorwinning nodig? Dit is in Hom. Blydskap? In Hom.
Vrede? In Hom. Sagmoedigheid? In Hom. Selfbeheersing? In Hom. Wysheid? In Hom.
Die Vader gee nie verlossing in paaiemente nie. Hy het sy Seun gegee en ons het
niks meer nodig nie. Ons moet net groei in kennis van Hom en leer om uit
verhouding te leef. “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse
Here en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet. 3:18
Thursday, 2 October 2014
'N RADIKALE VERANDERING VAN PERSPEKTIEF
"In die begin het God die hemel en die aarde
geskape." Gen. 1:1
"Want in Hom [Christus] is alle dinge geskape wat in
die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as
heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom
geskape." Kol. 1:16
"Om die volheid van die tye te reël, met die doel om
alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in
Christus te verenig." Efes. 1:10
Dit is normaal en natuurlik vir ons om na die lewe te kyk
vanuit ons eie plekkie op die aarde en binne die ruimte van ons subjektiewe
waarnemings en sintuiglike versameling van inligting. Die boodskap van die
evangelie maak egter 'n appél op ons om 'n radikale verandering van perspektief
te ondergaan. Die Vader draai as't ware
ons oë weg van onsself met die evangelie (soos 'n pa wat met tederheid sy
seuntjie se kop in die regte rigting draai) en rig ons visie op Sy Seun wat
sentraal staan in die skepping en die nuwe skepping (Kol. 1:15-20). Ware geloof is nie soseer om Christus deel
van mý lewe te maak nie as wat dit is om te sien dat Hý in werklikheid die
middelpunt van alles in die geskape heelal is en dan my hoof te buig onder Sy
heerskappy en sentraliteit in alles.
Gevolglik is my hele lewe vorentoe as dissipel 'n voortdurende
aanpassing van perspektief, om die magte en kragte teë te staan wat heeltyd my
eie ek soos die aarde se swaartekrag in die middel van alles wil intrek en dit
te vervang met 'n visie van die werklikheid: Jesus op die troon en sentraal in
alles!
DIE WOORD EN DIE HART
Die saad van God se Woord is inderdaad goeie saad en het
dieselfde effek op elke hart wat dit met kinderlike geloof ontvang. Daar is
niks fout met die saad nie, maar is ons harte sag en ontvanklik? Wat leer die
volgende tekste ons oor die regte hartsgesindheid t.o.v. die Woord?
1 Thes. 2:13 “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe
julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit
aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die
woord van God wat ook werk in julle wat glo.”
Jesaja 66:2 “Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so
het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom
wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”
Lukas 8:15 “En wat in die goeie grond val—dit is die wat,
nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met
volharding vrug dra.”
Wednesday, 24 September 2014
UIT DIE SKAT VAN DIE HART
"Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart
goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte
dinge te voorskyn." Matt. 12:35
Met betrekking tot die evangelie is die Bybel duidelik
dat álle mense onder die mag van die sonde is (Rom. 3:9-19) en daarom presies
dieselfde behoefte het aan redding in Jesus.
Wedergebore mense het 'n nuwe natuur en Christus self leef in
hulle. Maar dit onthef hulle nie van die
verantwoordelikheid om wys om te gaan met dit wat in hulle hárte aangaan
nie. Dit wat jy bedink en toelaat om te
groei in jou hart word uiteindelik wat Jesus noem 'n 'skat' in jou hart. Daardie 'skat' bepaal jou gesindhede, jou
woorde, en jou dade (Spr. 4:23). Maak
seker dat jy jou gedagtes rig op die waarhede wat betrekking het op jou nuwe
lewe in Christus (Kol. 3:1-4), en jy kan verseker wees dat daardie 'goeie skat'
binne-in jou veel lieflike vrug sal dra (Gal. 5:22).
Wednesday, 17 September 2014
DIE HEILIGE RUIMTE
"Maar heilig die Here God in julle harte..." 1
Pet. 3:15a
"But have reverence for Christ in your hearts, and
honor him as Lord." 1 Pet. 3:15a (GNT)
Daar is 'n heilige ruimte in die wese van elke mens wat
deur God self geskep is. Ons is deur God 'kunstig geweef in die moederskoot'
(Ps. 139) op so 'n manier dat ons 'n binnewêreld het wat in werklikheid onder
ons eie bestuur staan. In daardie
heilige ruimte wat die Bybel 'die hart' noem word al die groot besluite van jou
lewe geneem. God verwag van ons om
daardie binnewêreld rein te hou en reg te bestuur onder die invloed van Sy
Gees. Daarom gee Hy ons die opdrag
'Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die
oorspronge van die lewe' (Spr. 4:23). Pasop wat jy toelaat om in te kom in die
heilige ruimte van jou hart! Jou hele
lewe en toekoms hang daarvan af. Maak
seker dat net dit wat 'waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik, en loflik'
(Fil. 4:8) is daar 'n tuiste kry. Onder
leiding van die Heilige Gees kán jy jou eie hart bestuur, want Gód sê jy
kán. Lees ook Matt. 12:34-35 en
15:18-20.
Tuesday, 16 September 2014
DODELIKE SOSIALE DRUK
"Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit
die sinagoge geban te word nie. Want
hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God." Joh. 12:42-43
Hierdie is van die hartseerste verse in die hele Bybel. Dit is amper ondenkbaar dat 'n mens jou ewige bestemming kan oorlaat aan die wisselvallige en dikwels skynheilige standaarde van dit wat populêr en aanvaarbaar is in jou gemeenskap. Hier gaan dit nie net oor die sekulêre wêreld nie, maar veral oor dit wat populêr is in godsdienstige kringe. Sosiale druk is een van die mees effektiewe wapens wat satan gebruik om mense in sy mag te hou. Om Jesus te volg beteken dat jy moet sterf vir 'wat sal die mense sê' en doen wat jy in jou hart weet die waarheid is. "Want elkeen sal sy eie pak dra." Gal. 6:5
Hierdie is van die hartseerste verse in die hele Bybel. Dit is amper ondenkbaar dat 'n mens jou ewige bestemming kan oorlaat aan die wisselvallige en dikwels skynheilige standaarde van dit wat populêr en aanvaarbaar is in jou gemeenskap. Hier gaan dit nie net oor die sekulêre wêreld nie, maar veral oor dit wat populêr is in godsdienstige kringe. Sosiale druk is een van die mees effektiewe wapens wat satan gebruik om mense in sy mag te hou. Om Jesus te volg beteken dat jy moet sterf vir 'wat sal die mense sê' en doen wat jy in jou hart weet die waarheid is. "Want elkeen sal sy eie pak dra." Gal. 6:5
Thursday, 11 September 2014
WARE OUTORITEIT IN DIE GEMEENTE VAN JESUS CHRISTUS
Die afgewaterde woorde en werke van vormgodsdiens is
dikwels totaal gestroop van alle ware outoriteit. Daarom is dit uiters belangrik vir dissipels
van Jesus om die kwessie van outoriteit in gemeentelewe reg te verstaan en
onderskei. Outoriteit in die Nuwe
Testament is altyd 'n gedelegeerde kwaliteit wat vloei vanaf dié Outoriteit,
naamlik Christus die Hoof van die gemeente (Kol. 1:18). Ware outoriteit gaan
nie in die eerste plek oor posisies en titels nie, maar oor leiers se
verhouding met Jesus en dit wat hulle dan gevolglik verteenwoordig. Let net kortliks op vier aspekte van ware
outoriteit in die Nuwe Testament. Die
pre-eminensie (‘pre-eminence, not just prominence’) van Christus in my hart,
gesindhede, woorde, en bediening, die plek wat sy Woord (die Skrif) in my hart,
lewe en bediening beklee, die sensitiwiteit vir sy Gees wat oomblik-vir-oomblik
in my werk, en die ruimte wat ek maak vir sý liefde as die praktiese gevolg van die werking van sy
Persoon, sy Woord, en sy Gees in my binneste.
Die Persoon van Christus, die Woord van Christus, die Gees van Christus,
en die liefde van Christus verleen vir my ware outoriteit in gemeentelewe. Sonder al vier hierdie kwaliteite toenemend
teenwoordig in my lewe en bediening beteken die mees prominente posisie en titel niks nie en het ek nié ware outoriteit in die koninkryk
van God nie, want ek verteenwoordig dan net myself en nie die lewende Christus
nie.
Monday, 8 September 2014
DIE GEMEENTE WAT JESUS BOU
In Mattheus 16 vers 18 verklaar Jesus onomwonde dat Hy
sélf sy gemeente sal bou. Al maak Jesus gebruik van mense bou Hy sy
gemeente só dat Hy en sy Vader die eer kry en verheerlik word.
Daarteenoor is die gemeentes wat mense bou gebaseer op die beginsel wat ons in
Genesis 11 vers 4 sien, “kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan
die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak…” Die
'church growth' beweging wat dikwels ‘n kwalik verskanste self-gesentreerde
projek is om ons eie koninkryk te bou en ons eie naam populêr te maak, is 'n
gruwel in die oë van die Here. Een van die duidelikste toetse wat wys of
dit Jesus of mense is wat 'n gemeente bou, is die lojaliteit wat ons toon
aan die denominasie of gemeentegroep teenoor lojaliteit aan Jesus en sy ware
dissipels. Die manier wat mense behandel word wanneer hulle gelei voel om
na 'n ander groep te beweeg, is ‘n duidelike teken of dit ‘n gemeente is wat
Jesus bou of ‘n gemeente wat mense bou. Dit is maklik om lojaal teenoor
mense te wees wat in jou eie groep is terwýl hulle 'in jou groep' is. Die
wêreld gee ook daardie soort erkenning en lojaliteit vir
mekaar. Die toets kom egter wanneer mense nie meer 'in jou
groep' is nie. In werklikheid is alle wedergebore mense tog wél deel van
dieselfde Liggaam en dus van die gééstelike gemeente wat Jesus bou. Juis
daarom durf ons lojaliteit aan en liefde vir mekaar nooit beperk te wees tot 'n
denominasie of kerkgenootskap nie. Let wel, leiers wat in Jesus se
voetspore volg, sal in hierdie verband die regte gesindheid by dissipels
kweek. Die wat dit nie doen nie wys sodoende hulle ware kleure.
Maak seker dat jy jou krag, energie en gawes belê in die soort gemeente wat
Jesus bou.
Tuesday, 2 September 2014
REINHEID VAN HART EN RESPEK VIR ANDER
Dissipels met 'n rein hart in Christus vind dit nie
moeilik om ander mense te dien en in die algemeen welwillend teenoor hulle op
te tree nie. Respek vir ander mense wat
na God se beeld geskape is, vloei spontaan uit 'n rein hart. Daarteenoor is 'n onrein hart 'n fabriek van
disrespek teenoor ander. Iemand wat nie respek vir ander mense het nie bewys
sonder twyfel dat hy dink hy is beter as ander. So 'n persoon verwag respek van
ander mense, maar self wil hy dit nie gee vir ander nie. Ons samelewing raak toenemend 'n plek waar
mense net nie meer respek het vir mekaar nie. Dinge soos vriendelikheid, gasvryheid,
beleefdheid, goeie diens in die werksplek, bereidheid om werklik te luister na
ander, om nie te gou te oordeel nie, jou woord te hou, nie ander mense lank te
laat wag as julle 'n afspraak het nie, is alles tekens dat jy hulle respekteer.
Ons Vader verwag van ons om ander mense
suiwer op grond van hulle skepping na Sy beeld en gelykenis te respekteer (Jak.
3:9). As mense disrespekvol teenoor jóu
optree, moenie die hoë grond in Christus en jou reinheid van hart in Hom opgee
nie. Neem die saak liewer na die Vader
en kry wysheid by Hom.
Thursday, 28 August 2014
IN DIE HUISGESIN VAN 'N VOLMAAKTE VADER
"Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie
bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van
God." Efes. 2:19
Dissipels van Jesus kom uit verskillende agtergronde en
huisgesinne. Sommige van ons het die voorreg gehad om groot te word in baie
stabiele en liefdevolle huise. Jý kom dalk uit 'n gebroke gesinslewe en het nie
so 'n vaste fondasie vir toekomstige gesinslewe en verhoudings gehad nie.
Ongeag wat jou belewenisse van gesinslewe was in jou kinderjare, God wil hê jy
moet weet dat jy nou, vandag, in die hede deur die bloed van Jesus 'n lid is
van 'n huisgesin met 'n volmaakte Vader. God is jou Vader en Hy wil vir jou
genesing, 'n toekoms en 'n hoop gee in hierdie hemelse huisgesin. Glo dit, vernuwe
jou denke, en vergeet wat agter jou is.
Wednesday, 27 August 2014
THE MISAPPLICATION AND ABUSE OF “KORAH'S REBELLION”
In Jude verse 11 there is a reference to a man named
Korah who rebelled against the God-instituted authority given to Moses and
Aaron (Numbers 16) under the old covenant where a specific structure of
leadership was at the order of the day.
There have been many instances in church history where ambitious leaders
have abused and misapplied 'Korah's rebellion' and similar texts in order to
maintain their own dominance over the Lord's people and keep discerning
believers who question their dubious authoritarian structures under their
thumb. On a sliding scale of abuse they
range from outright evil men who dominate, intimidate, and manipulate the flock
to semi-ignorant souls who are only marginally aware that they are being ruled
by their own lust for power. Yet they
all twist the Scriptures (2 Pet. 3:16) and are either deliberately cunning or
blissfully unaware that Jude's real point in verse 11 was that we should not
rebel against the apostolic authority of the God-ordained engineers of the New
Testament who without exception taught the pre-eminence and headship of Christ,
not their own. Compare 1 John 4:6 and 2
Corinthians 11:2-3. In the new covenant
we stand directly under the headship of Christ through His Word and we should
not pay absolute allegiance to any man other than Jesus Himself! If you doubt this you need to sober up and
consider again what Paul as a called apostle was really saying in 2 Corinthians
11 verses 2 and 3. In the new covenant
authority is never ever lodged in the person himself (the Roman Catholic
error), but always representatively exercised with a view to exalting the
pre-eminence of Christ and His
authority. The terrifying irony is that
those who abuse and misapply the teaching about Korah's rebellion are
themselves guilty of such a rebellion and sadly multitudes of ignorant
believers unwittingly submit to this error and remain under a veil of religion
that obscures the face of their true Master, Jesus Christ.
Tuesday, 26 August 2014
GENADE VIR DIE GEKNAKTE RIET
"'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit
wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie..." Jes. 42:3 (NAV)
Jesus se bediening is by uitstek gerig op mense wat verslae
is en nie meer weet watter kant toe nie. Daar is barmhartigheid en genade in
oorvloed beskikbaar vir sulkes. Ons Verlosser spesialiseer in die verbryselde
hart (Lukas 4v18). Hy is baie naby aan die gebroke mens. Sy belofte staan vas
en seker tot vandag toe: 'Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie' (Jos.
1:5). Hy is 'n "held wat verlossing skenk" (Sef. 3:17). Hy is die
muur van vuur rondom jou en die heerlikheid daarbinne (Sag. 2:5). Roep Hom net
aan en plaas alles in Sy hande.
"Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die
grond in trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig
nie..." Jes. 42:3 (DB)
Thursday, 21 August 2014
DIE GEHEIME VAN GOD VIR KINDERTJIES
"In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof
U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir
wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het." Mt.
11:25
Die slim en geleerde mense in Israel kon nie verstaan wie
Jesus was of wat Sy missie was nie. Hulle
het nie besef dat al die 'verborge skatte van wysheid en kennis' net in
Hom te vinde was nie (Kol. 3:3). Hulle het 'die Skrifte ondersoek' sonder om
Jesus, die sleutel tot die Skrifte, raak te sien (Jn. 5;39). Die verborge
skatte van die koninkryk word net openbaar aan die wat 'weet hoe afhanklik
hulle van God is' (Mt. 5:3) en aan die wat 'rein van hart is' (Mt. 5:8), m.a.w.
aan 'kindertjies'. Maar let wel, net aan 'kindertjies' wat honger en dors na die
openbaring van God en Sy koninkryk in Christus; aan dissipels wat 'bly in Sy
Woord' (Jn. 8:31).
"Sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou
bestaan nie, maar in die krag van God." 1 Kor. 2:5
Tuesday, 19 August 2014
DIE GROOT SKEIDINGSLYN
Die groot skeidingslyn in elke dissipel van Jesus se lewe kom die dag
wanneer hy die finaliteit van die kruis sien.
Die hele Christenlewe kan vanuit twee perspektiewe bekyk word. Van die buitekant mag twee gelowiges presies
dieselfde dinge doen, maar as ons na hulle innerlike motivering sou kyk, mag
daar ‘n reuse verskil wees. Die een
verstaan die finaliteit van die kruis en derhalwe lewe hy op opstandingsgrond
en in opstandingskrag vanuit die lewe van Jesus in hom. Die ander een ken slegs die vergifnis van die
kruis en dus lewe hy primêr in die krag van sy eie besluite. Toe Jesus
aan daardie kruis gesterf het, het Hy nie slegs vir jou gesterf nie, maar jy het saam met Hom gesterf (Gal. 2:20). Jy het gesterf vir die ou, onafhanklike
Adamiese lewe. Dit is nie ‘n wens of ‘n
belofte nie, maar ‘n feit. Glo dit en
leef daaruit. Dit is jou erfdeel in
Christus.
“Ons is dus saam met
Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode
opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan
wandel.” Romeine 6:4
Friday, 15 August 2014
GESOEK: GEESTELIKE VADERS EN MOEDERS
As die hemel ‘n advertensie kon plaas in ons
koerante sou dit waarskynlik so iets gewees het soos die titel van vandag se
stukkie. Ons hemelse Vader soek mense
wat Sy Vaderhart kan verteenwoordig op aarde.
Ons is nie net gered deur die bloed van Jesus om hemel toe te gaan nie,
maar om te groei en geestelik sterk te word sodat ons groot harte kan hê wat
die evangelie bring aan ander, hulle liefhet, omgee, sorg dra, genesing bring,
vrede bewerkstellig, versoening en verhoudingherstel bring, ensovoorts. Wie kwalifiseer vir dit? Almal wat die Gees van God in hulle het deur
die wedergeboorte. Ons rolle mag verskil
in die kerk en die koninkryk, maar ons kan almal geestelike vaders of moeders
wees as ons toelaat dat die Vader verruiming in ons binneste bring. Geestelike vaderskap is nie net bedoel vir
pastore, dominees, evangeliste, en ouderlinge terwyl die res maar vir dekades
lank geestelike babas bly nie. In die
lewenssfeer waarin jy beweeg kan jy of een van hulle wees wat maar altyd hulp
nodig het, of maar net water trap en neutraal staan teenoor alles, of jy kan
vir ander ‘n trooster, bemoediger, waarheidspreker wees wat die Vader se hart
verteenwoordig. Ja dis waar, soms is ons
so oorweldig deur omstandighede dat ons liefde en troos van ander nodig het,
maar dit beteken nie jy kan nie opstaan in die krag van die Here en dan ander
begin help nie. Wat weerhou jou daarvan
om ‘n geestelike vader of moeder te wees?
Miskien is dit net die manier wat jy dink oor jouself. Die Vader sê jy kán in Christus!
“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na
julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe
dit met julle gaan. Ek het trouens
niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal
behartig nie. Al die ander soek net
hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.” Filippense 2:19-21
Tuesday, 12 August 2014
VAN DROOM TOT REALITEIT
God het vir Josef drome gegee oor sy toekoms en oor sy
roeping. Tog het dit baie jare en baie
toetse geneem voordat dit wat God vir hom gewys het, gerealiseer is. Net so is daar in ons lewens toetse wat ons
moet deurkom om in die volle krag, seën en vrugbaarheid van God se lewensplan
vir ons te begin leef. Die meeste mense
slaag nooit hierdie lewenstoetse om deur te breek in die volheid van hulle
roeping in Christus nie. Die Vader het
alles in Sy Seun voorsien vir ons om wel die toetse te slaag. Die beloning is groot as ons slaag! Dink bietjie oor Josef se lewe en die seën wat
God vir die wêreld kon bring deur een mens wat oorgegee was aan Hom en enduit
die pad gestap het totdat die volle heerlikheid deurgebreek het.
Tuesday, 5 August 2014
STAAN OP EN BEGIN BEWEEG NA DIE LIG!
Die magte en kragte van duisternis oorweldig selfs ware
dissipels van Jesus soms tot so 'n mate dat hulle gaan sit langs die
lewenspad. Sonder motivering en sonder
doel vloei die een dag in die ander en liggaam en siel word kwalik bymekaar
gehou. Die boodskap van God in Christus in
so 'n situasie is duidelik en ondubbelsinnig; 'Staan op en begin beweeg na die
lig'! Treetjie vir treetjie sal Hy jou
lei uit stikke duisternis na 'n altyd-helderder toekoms in Christus. Moet net nie ophou beweeg nie, en as jy val
staan weer op in geloof en hoop en maak net seker jy beweeg vórentoe met albei jou oë op Jesus
gevestig!
"En ons het die profetiese woord wat baie vas is,
waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat
die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte." 2 Pet. 1:19 (OAV)
"Hierdie gebeure daar op die berg [van verheerliking]
het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig.
Hierdie boodskap is soos 'n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan
hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die
môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit
julle binneste." 2 Pet. 1:19 (DB)
Thursday, 31 July 2014
KOMMUNIKASIE OF FRUSTRASIE?!
Baie praat, baie woorde, baie verduidelikings en slim
stellings is nie noodwendig kommunikasie nie. Slegs die goeie nuus van God se liefde vir ons in
Christus bring ons by 'n plek van sekuriteit waar ons werklik ons ware gevoelens
met mekaar kan begin deel. Eerlikheid
(waarheid) sonder liefde is egter steeds nie kommunikasie nie, maar toon
dikwels ernstige disrespek teenoor ander mense wat na God se beeld geskape is. Liefde sonder waarheid is ook nie kommunikasie
nie, maar eerder 'n droomwêreld van fantasie wat weier om die bestaande
probleme aan te spreek. Christus alleen
kan ons in staat stel om die balans tussen waarheid en liefde reg te kry. Sonder Sy wysheid en krag maak ons altyd 'n
gemors daarvan en dit lei net tot meer pyn en misverstande, of frustrasie en
onopgeloste probleme. A.g.v. die
sondeval is menslike kommunikasie vir die meeste van ons eerder ‘menslike frustrasie’! Plaas die probleem in Christus se hande en
vertrou die Heilige Gees om jou te lei na die plek van wyse en volwasse
kommunikasie.
Tuesday, 29 July 2014
VERGIFNIS: DIE DEUR TOT VOLKOME GENESING
Genade is 'n kosbare woord vir gebroke mense. Vir mense wat werklik by die einde van
hulleself en al hulle slim planne en projekte vir self-verbetering gekom het. Vir mense wat geleer het dat niks op hierdie
aarde werklik herstel kan word sonder die ontvang van die gawe van vergifnis
uit die hart en hand van 'n barmhartige Vader wat Sy Seun in ons plek gestraf
het nie. Dit is eers in die oomblik van
'n totaal afhanklike geloof in vergifnis op grond van die bloed van Jesus
alleen wat jou voete stewig geplaas word op die pad na volkome genesing vir jou
siel. Nie voor dan nie, en op geen ander
manier nie.
Monday, 21 July 2014
WATTER DAG WAG JÝ VOOR?
“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is,
en julle in My, en Ek in julle.” Joh.
14:20
‘Dié dag’ wat Jesus hier
van praat het reeds aangebreek amper 2 000 jaar gelede met Sy opstanding
en meer spesifiek op die dag van Pinkster (Hand. 2:1-2), maar het hierdie dag
al ten volle in jou bewussyn aangebreek?
Weet jy dat jy weet dat jy in Christus is (1 Kor. 1:30) en dat Hy in jou
is (Gal. 2:20) en dat jou ware lewe daarom saam met Hom verborge is in die
Vader (Kol. 3:3)? Leef jy VANUIT
vereniging met en volheid in Jesus of wag jy steeds vir een of ander dag
vorentoe wat hierdie dinge vir jou ‘n werklikheid gaan maak?
Tuesday, 15 July 2014
TOTALE VERLOSSING: VERGIFNIS ÉN BEVRYDING
Ons hemelse Vader het nie net voorsiening gemaak vir
die skuldlas van ons sondedade nie, maar ook vir bevryding van die mag van
sonde. Soos met elke aspek van ons
verlossing is God se antwoord altyd om vir ons meer van Sy Seun te
openbaar. Ons het in die evangelie alles
ontvang “wat tot die lewe en godsvrug dien” (2 Pet. 1:3). Jesus het as plaasvervanger die straf vir ons
sondes op Hom geneem toe Hy gesterf het aan die kruis. Ons moet egter nie dink dat dit die somtotaal
van die evangelie is en dat die res nou maar net ons verantwoordelikheid is om
uit dankbaarheid te streef om ‘n heilige lewe te lei nie. Allermins!
Die ander kant van die evangelie is dat God Sy Seun in ons geplaas het
met die wedergeboorte en dat Hy nou in en deur ons die enigste lewe leef wat
God kan behaag, naamlik die lewe van Jesus self (Gal. 2:20). Watchman Nee het gesê “The Son of God died instead of us
for our forgiveness: [now] He lives instead of us for our deliverance.”
Tuesday, 8 July 2014
SO NABY SOOS SUURSTOF
"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken..."
Joh. 17:3
Jesus Christus het nie na hierdie aarde gekom om van ons
godsdienstige mense te maak wat net op sekere tye en plekke en slegs deur middel
van ons onderskeie unieke kerktradisies se rites en rituele tot God nader nie.
Jesus het vlees geword, gesterf, en opgestaan om ons in 'n lewende,
oomblik-vir-oomblik, egte, spontane en intieme liefdesverhouding te stel met
ons hemelse Vader. Hy is nie ver van ons nie. Hy is nie iewers toegesluit in 'n
'heilige gebou' nie. Hy is so naby soos die suurstof wat ons inasem en waarvan
ons elke oomblik leef. Hy praat gedurig met ons harte. Al wat Hy vra is dat ons
in geloof die deur oophou vir die werking van Sy Gees in ons binneste.
Tuesday, 1 July 2014
MOET HOM NIE VERVANG NIE!
"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly
in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie..." 1 Joh. 2:27
"En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete,
ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus
vir hulle dienswerk..." Efes. 4:11-12
Elke ware dissipel van Jesus het met wedergeboorte 'n
inwonende Leraar, die Heilige Gees, ontvang. Geen mens op aarde kan, of mag,
die intens persoonlike lering van die Heilige Gees vervang nie. Aan die ander
kant het God tog ook menslike leraars gegee wat saamwerk met die Heilige Gees
om die gemeente van Jesus tot volwassenheid te bring. Daarom moet ons aan die
een kant waak dat ons nie die heerlike, persoonlike bediening van die Gees
vervang deur te swaar te leun op menslike leraars nie, en aan die ander kant
dat ons leerbaar bly en nie die gawes wat God vir Sy gemeente gegee het minag
nie. En leraars/bedienaars moet waak dat hulle nie begin dink dat alles in die
gemeente staan en val by hulle persoonlike salwing en bediening nie. Daardie
plek behoort aan die Heilige Gees alleen!
Tuesday, 24 June 2014
OP GODDELIKE BANE VAN VREDE
"..die wysheid wat van Bo kom...is inskiklik.."
Jak. 3:17
Twee van die Engelse vertalings vertaal inskiklik onderskeidelik
as 'open to reason' en 'ready to yield'. Wysheid van Bo is iets wat God vir ons
deur Sy Gees gee. Dit is nie 'n natuurlike kenmerk of bloot 'n ingesteldheid
van sekere temperamente nie. Geen mens se 'vlees' is byvoorbeeld werklik
inskiklik nie. Die Heilige Gees bring egter 'n sagtheid wat bereid is om na
ander mense te luister en na 'n situasie te kyk vanuit hulle perspektief met
die oog op ware begrip, versoening, genesing, seën, en vrede. Soms verg 'n moeilike verhoudingsituasie net
hierdie hemelse inskiklikheid om te ontknoop en op Goddelike bane van vrede te
begin hardloop. Sonder die unieke werking
van die Gees sal dit egter nooit gebeur nie.
Sunday, 22 June 2014
DIE LEWENDE BEDIENING VAN DIE NUWE TESTAMENT
“…dienaars
van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die
letter maak dood, maar die gees maak lewend.” 2 Kor. 3:6
Bediening
onder 'n Nuwe Testament is wederkerig, lewend, en ten diepste hartsgerig. Dit bring 'n wonderlike vertroue wat gebaseer
is op die afgehandelde werk van Christus en 'n bekwaamheid wat niks te doen het
met ons eie beperkte vermoëns nie. Dit is by uitstek 'n bediening “van die gees”
wat van binne af buite toe werk. Dit
staan radikaal teenoor 'n “letter-bediening” wat slegs gefokus is op uiterlike verandering.
Hierdie soort verandering is gewoonlik
geskoei op die spesifieke godsdiensgroep se gedragskodes en ongeskrewe reëls. Dit
probeer mense met ‘n wettiese inslag almal in dieselfde vorm (eenvormigheid in
plaas van eenheid) indwing.
Monday, 16 June 2014
OP REIS MET GOD
As ‘n dissipel of gemeente van Jesus te gemaklik
raak hier op aarde en nie aanhou vorentoe beweeg om al die beloftes van God in
besit te neem nie, stagneer ons baie vinnig en word onvrugbaar. Ons is ‘vreemdelinge en bywoners’ hier op
aarde (Heb. 11:13); tentbewoners wat nie ons tentpenne te diep moet inslaan
nie. Die geskiedenis van die Ou
Testament leer ons dat God se plan vir Sy mense nog altyd was om die beloofde
land in besit te neem en gedurig meer grond in Sy naam en vir Sy eer te eien. Hierdie “land” verteenwoordig ons geestelike
rykdom in Christus. Ons weet wat met Israel gebeur het toe hulle gaan stilstaan
het. Laat ons verder gaan en die Heilige
Gees toelaat om ons na groter oorwinnings te lei. Lees Hebreërs 11 vir meer insig oor hierdie
saak.
“Nie
dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit
ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” Fil. 3:12
Sunday, 15 June 2014
LIEFDEVOLLE TEREGWYSING IS IETS KOSBAAR
“Laat
die regverdige my met liefde slaan en my tugtig—hoofsalf sal my hoof nie weier
nie…” Psalm 141:5 (OAV).
As dissipels van Jesus is ons altyd in die leerskool waar God ons karakter
vorm na die beeld van Christus wat in ons woon.
Hierdie skool is nie ‘n eenmanpad nie, maar ‘n groepsprojek. Om mense
rondom jou te hê wat jy vertrou in Christus en wat met liefde en wysheid en sonder
veroordeling reguit met jou kan praat oor gesindhede en gedrag wat nog nie Christus
ten volle reflekteer nie, is ‘n groot seën. Robert Murray M’Cheyne het gesê: "A
man who loves you the most is the man who tells you the most truth about
yourself."
Tuesday, 10 June 2014
JESUS SELF IS DIE WAARHEID!
Die gemeente van die Here word in 1 Tim. 3:15 "'n
pilaar en grondslag van die waarheid" genoem. In 'n wêreld van leuens,
verwarring, verdraaide boodskappe, en 'n massiewe verskeidenheid van
uiteenlopende leringe is dit van kardinale belang dat ons styf vashou aan die
suiwer waarheid van die evangelie. Die belangrikste van alles is dat ons moet
verstaan dat Jesus self 'die Waarheid' is (Jn. 14:6). Daarom moet ons alles oor
Sy Persoon, Sy verlossingswerk, en Sy koninkryk verslind en koester. Maar ons moet ook seker maak dat Hy alleen
die middelpunt bly van ons gemeentelewe, en al ons leringe, besluite en
aktiwiteite. Kinderlike gehoorsaamheid aan Hom bo alles, selfs al is dit
onpopulêr, is die sentrale vereiste van ons Vader. Sodoende sal ons nie net in
ons leer nie, maar ook in ons lewe, gesindhede en verhoudings die kosbare vrug
van Sy Heerskappy sien.
Thursday, 5 June 2014
ENGELE WIL GRAAG WEET, MENSE TOON MIN BELANGSTELLING
“Maar
julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete
en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie,
en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.“ Matt. 13:16-17
“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir
hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is
deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van
die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.” 1 Pet. 1:12
Ons het die onuitspreeklike voorreg om in die ‘aangename
jaar van die Here’ (Luk. 4:19) te leef. Vanuit God se perspektief is ons in die
era wat die ‘volheid van die tyd’ (Gal. 4:4) genoem word. God het sy Seun uit die hemel gestuur om ons
oë oop te maak. Die Vader het finaal en
volledig gespreek deur sy Seun (Heb. 1:1).
Ons het die Bybel in ons eie taal.
Ons kan vryelik lees en delf in die Woord en ons het ‘n inwonende Leraar
wat begeer om die dieptes van God vir ons te openbaar. “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en
in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom
liefhet. Maar God het dit aan ons deur
sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van
God.” (1 Kor. 2:9-10). Wedergebore mense het ‘n verstommende
geeskapasiteit om die dinge van God te verstaan en om onbeperk te groei in
begrip en insig m.b.t. die koninkryk van God.
Hoekom is dit dan dat gelowiges vandag so traak-my-nie-agtig is oor dit
wat in die hart van God leef oor Sy koninkryk en ons deel daaraan? Hoekom maak mense stellings soos: “nog ‘n
preek, lering of Bybelstudie, ai ek het al duisende gehoor en gedoen!” Hoekom stel baie gelowiges dikwels min belang
in enige lering wat nie hulle “eie lewe” prakties raak en dan sogenaamde “praktiese
hulp” vir hulle kan bied nie? (Let wel
die Bybel gee wel baie praktiese lering oor die toepassing van ons rykdom in
Christus en praktiese voorbeelde help ons dikwels om beter te verstaan. Daar is dus geldige vrae oor die
praktyk. Dis nie waarna ek hier verwys
nie.). Is dit omdat ons so baie dinge
het wat ons vermaak en ons aandag aflei dat ons nie ‘n honger het vir
geestelike insig nie? Is dit omdat daar dalk baie “gelowiges” is vandag wat nie
werklik wederbaar is nie, en daarom nie ‘n aptyt vir die dinge aangaande die
Koning en Sy koninkryk het nie? Is dit
omdat ons geestelike peil so geweldig laag is vandag? Miskien soek ons net wonderlike geestelike “ervarings”
of dink ons dat lering en dieper insig grotendeels ‘n mors van tyd is en dat
ons liewer moet uitgaan en ‘n verlore wêreld gaan bedien? Is dit dalk omdat ons met baie van ons
onskriftuurlike kerktradisies die Bybel die domein gemaak het van predikers,
teoloë en die sogenaamde “slimkoppe” onder ons? Is dit omdat ons te trots of bang is om te sê ‘ek weet nie, leer my asseblief’? Of
dalk te lui en “unteachable” om te leer en nou vaar ons maar uit teen ander wat
delf in die Woord, want dis makliker as om te erken ons wil nie die moeite doen
om self die Woord te begin ondersoek nie?
Dalk het ons ‘n heel verkeerde idee oor die doel van Bybelse kennis en insig
en sien ons dit as ‘n middel tot die wen van debatte teen gelowiges wat anders
dink as ons? Of is dit omdat ons nie verstaan dat Bybelse kennis nie in die eerste
plek ‘n kopkennis is nie, maar ‘n verhoudingskennis wat die Heilige Gees deur
openbaring skenk aan die wat ‘n honger het vir die dieptes van God? Die saak onder bespreking is nie een of ander
teoretiese “pie in the sky” nie, maar is krities belangrik vir die mense van
God. Wat sou die rede(s) wees vir die huidige
stand van sake? Wat dink julle?
Tuesday, 3 June 2014
‘N OMGEDOPTE GENADEBOODSKAP
Daar is ‘n boodskap oor genade en geregtigheid wat vandag
verkondig word, wat net mooi die teenoorgestelde is van Bybelse genade. Hierdie boodskap leer dat God deur die
evangelie mense in hulleself sterk maak om te kan heers, oorwin, en wen in
hierdie lewe. Dit leer dat ons as’t ware
onafhanklike bemagtigdes in Christus is en dat ons vanuit hierdie identiteit en
posisie beheer kan neem oor negatiewe omstandighede. Dit leer dat ons hierdie ‘vryheid’ ontvang het
om nou met outoriteit situasies en omstandighede aan te spreek en kan beveel om
te buig voor ons woorde en uitsprake. Dit
is net naby genoeg aan die waarheid om menigtes baie subtiel te mislei. Bybelse genade is egter altyd iets wat uitgestort
word vir die wat in totale swakheid en afhanklikheid in Christus voor God staan
en in geloof alles ontvang wat Hy in sy Seun goedgunstiglik vir ons skenk. Die deurbrake wat God gee in omstandighede is
altyd “uit Hom, deur Hom, en tot Hom” (Rom. 11:36) en dit word gegee aan
gebrokenes wat uit swakheid krag ontvang.
Dit is ook nie ‘n verskoning vir mislukking en mismoedigheid nie, maar juis
die sleutel tot ware oorwinning. Dit is
in lewe, woord, daad, en werklikheid “nie ek nie, maar Christus” (Gal. 2:20). Pasop vir “nagemaakte genade”! Dit is ‘n baie algemene produk op die
godsdiensmark vandag en dit word ‘verkoop’ teen afslagpryse. Ware genade is verniet, maar dit kan net
ontvang word deur mense wat niks in hulle hande het nie en as leë houers vanuit volheid in Christus
leef. Laat ons ook diegene wat afgedwaal
het met liefde, dog met erns, teruglei na die paaie van ware genade. Daar is baie wat met alle opregtheid onder
die invloed van hierdie verdraaide boodskap beland het, maar wat met liefde en
gebed dringend gehelp moet word om weer “gesond in die geloof” te wees.
Tuesday, 27 May 2014
KRAG IN SWAKHEID EN GEBROKENHEID
Ons probleem as dissipels van Jesus is nooit dat ons te swak is nie, maar dat ons te sterk is in onsself. Daarom kry ons die opdrag in Efes. 6:10 "word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY Sterkte”.
Pasop vir boodskappe wat subtiel die idee skep dat God dissipels as’t ware meer
en meer self-vertroue wil gee sodat hulle kan oorwin en wenners kan wees in
hierdie lewe. Ons sien ‘n heel ander prentjie in die Bybel. Ons
hemelse Vader se skool van genade werk andersom. Hy wil ons al hoe meer
vry maak van enige vertroue in onsself sodat ons toenemend kan leef uit die
algenoegsaamheid van Jesus Christus ons Here.
“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou
genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my
swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” 2 Kor. 12:9. Lees gerus die hele gedeelte in 2 Kor.
12:1-10.
Saturday, 24 May 2014
DIE LIEFDE DIEN VOOR DIT LEER
Voordat Jesus sy diepste lering oor genade gegee het (Joh.
14-17), het Hy Homself omgord en Sy dissipels se voete gewas. Hier is 'n
ontsaglike belangrike les. Die ouer boetie wat sy jonger boetie wil leer, maar
nie wil dien nie is besig met 'n 'projek' wat nooit sal werk nie. Die liefde
dien voor dit leer. Groter volwassenheid in Christus plaas die onus op die
volwasse dissipel om te dien en selfs te ly ter wille van groter begrip by die
'jonger boetie'.
Tuesday, 20 May 2014
DIE AANBIDDING VAN SUKSES
Een van die mees subtiele dinge wat dissipels van Jesus dikwels
ongemerk laat afwyk van God se koninkryksplan is die manier wat ons dink oor
sukses. Ons waardesisteem is in baie
gevalle eintlik maar dieselfde as die wêreld s’n. Roem, prestasie, finansiële voorspoed, groter
en beter is die doel en die maatstaf. Ons sukkel om uit te styg bo ons tydgees, en
in baie gevalle besef ons nie eers dat ons net soos die wêreld ‘n afgod van “sukses”
gemaak het nie! Ware sukses het volgens
Jesus baie meer te doen met nederigheid, gebrokenheid, en die oorwinning van
die liefde. Dikwels ongemerk en weg van
die oë van die skares speel die drama en die stryd vir ware sukses in families,
huwelike, gemeentes, en werksituasies af.
Hoe dink jy oor sukses? Het jy al
vrede gemaak daarmee dat dit dikwels diegene is wat “verloor” in die wêreld se
oë wat werklik wen in God se boek, die wat gee wat werklik ontvang en die wat
dien wat ryklik deur God beloon word?
Tuesday, 13 May 2014
DIE BESTE PRAKTIESE RAAD VIR DISSIPELS VAN JESUS
"Voor alles was
Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand." Kolossense 1:17 (NAV)
Die Vader het bepaal dat Sy Seun sentraal moet staan in
alles in die heelal. As 'alles deur Hom in stand bly', dan beteken dit ook dat
alles buite Hom uitmekaar val.
Daarom kan ons as dissipels van Jesus in elke omstandigheid
en by elke geleentheid nie genoeg vir mekaar herinner nie, 'maak seker dat jy
onderworpe is aan Jesus se Koningsheerskappy in elke area van jou lewe’. Ons
durf dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. As Jesus werklik sentraal is in
jou lewe, sal jy deur die Gees van Sy eie wysheid, insig en krag voorsien word om
as oorwinnaar uit elke moontlike situasie te stap (Rom. 8:37). Hou net in gedagte dat oorwinning vir
dissipels nie altyd dieselfde lyk as wat oorwinning vir die wêreld lyk nie
(sien 2 Kor. 4:7-11). Vir die wêreld mag jy dan dalk nie noodwendig lyk soos 'n
oorwinnaar nie, maar volgens God se standaarde wel en al wat saak maak is Sý
standaarde!
As jy voel dit is nie vir jou werklik praktiese raad nie, moet jy dalk gaan dink daaroor of jy nie
gefokus is op die verkeerde koninkryk nie. Die koninkryk van God het te
doen met geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees in elke omstandigheid
van jou lewe nou en vir ewig (Rom. 14:17). Hierdie koninkryksrealiteite
manifesteer egter slegs op die plek waar ons, ons eksklusief onderwerp aan
Jesus as absolute Alleenheerser en Koning.
Monday, 5 May 2014
TWYFEL ANDER OOK SOMS?
Die twyfel wat ware dissipels van Jesus soms kan beleef
m.b.t. die bestaan van God en die hiernamaals, is een van die 'vurige pyle van
die Bose' wat Efesiërs 6 vers 16 van praat. Hoe vreemd dit ookal vir ons mag klink dat
selfs andersins sterk gelowiges soms kan twyfel aan die bestaan van God, dit is
'n werklikheid van die geloofstryd in hierdie gevalle wêreld waarin ons leef en
nie iets waaroor ‘n mens jou onnodig hoef te bekommer nie. Jy weet tog in jou hart wat die waarheid is
en bely dit met jou mond (Rom. 10:9-10). Hou vas aan die wonderlike belofte in Efes.
6:16 dat die skild van geloof al die vurige pyle van die Bose kan uitblus. Hierdie geloof is 'n produk van ons
voortdurende blootstelling aan die kosbare evangelie van ons Here Jesus
Christus (Rom. 10:17; 2 Kor. 3:18) wat vlees geword het om 'die onverganklike
lewe aan die lig' te bring (2 Tim. 1:10).
Thursday, 1 May 2014
JESUS SIGBAAR IN ONS GENERASIE
Jesus stap deur die eeue in verskillende lande,
kulture en tale, deur die voete en hande van Sy dissipels. Stap Hy 'in en deur' jou en my ook, of is Sy
invloed deur ons soos die van 'n skim, onsigbaar vir die mense wat leef in
dieselfde tyd en ruimte as ons in die geskiedenis? Ons tyd en geskiedenis is baie belangriker as
wat ons soms dink. Ons lewens tel. Daarom is daar soveel geslagsregisters in die
Bybel. Dit wys dat ons God en Vader met
Sy deurtastende oë baie noukeurig boekhou van die dinge wat op hierdie planeet
gebeur. Kom laat ons Jesus ruimte gee in
ons harte sodat Hy sigbaar kan word in ons lewens en vir ons generasie.
Tuesday, 29 April 2014
BOU JOU VERHOUDINGS OP DIE ROTS
Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net
kan aanhou floreer wanneer dit op die vaste rots van God se genade staan. As ons verwysingspunt in ons verhoudings nie die
Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak van ons liefde
vir ander en ook hulle liefde vir ons.
Jonathan Edwards het gesê ‘when we idolize we will also demonize’. As my liefde vir iemand dus slegs in my eie
gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde) gewortel is,
het ek geen waarborg dat dit nie onder sekere omstandighede ‘n 180 grade draai
kan maak en in ‘haat’ verander nie. Die hoë persentasie egskeidings en gebroke
verhoudings in families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig baie
beter as wat ek dit hier kan doen. Tullian
Tchividjian het gesê ‘the heart of the human problem is the problem of the
human heart’. Daarom is dit só
noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word deur die liefde
van God wat vir ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9). Dit alleen is vaste grond onder ons voete in
al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en
steeds lief te hê wanneer hulle liefde teenoor ons ‘in haat’ verander het.
Monday, 21 April 2014
ONS WARE RYKDOM IS IN CHRISTUS
Al het Paulus in die natuurlike baie gehad om op te
roem (Fil. 3:4-6), verklaar hy onbeskaamd in sy briewe dat hy “niks het nie” (2 Kor. 6:10) en “niks is nie” (2 Kor.
12:11). Hy het werklik geleef soos iemand wat weet hy
kan niks behalwe sy geestelike erfenis saamvat die ewigheid in nie (Fil. 1:21). Paulus was ryk in Christus. Het ons al by die plek gekom waar ons aanvaar
dat God begeer om ons geestelik ryk te sien in Sy Seun of klou ons nog
krampagtig vas aan die roem, rykdom, en sekuriteit van die gevalle wêreld? Het jy al vrede gemaak met die feit dat die
Vader dikwels omstandighede gebruik om jou te bring by die plek waar jy niks in
jouself is of het nie, sodat jy alles in Christus kan besit?
Sunday, 13 April 2014
MOENIE OORDEEL NIE?
Jesus het nie gesê ‘jy mag nie onderskei tussen reg en verkeerd of sonde en
gehoorsaamheid, ens.” nie. In dieselfde
gedeelte waar Jesus sê “moenie oordeel nie” (Mt. 7:1) sê Hy net bietjie verder
aan “Moenie wat heilig is,
aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie …” (v.6a).
Hoe gaan ek weet wie dit is sonder om te onderskei? Die “oordeel” wat Jesus van praat in vers 1 het
te doen met die opstel van myself as ‘n regter oor ander mense i.p.v. om eers myself
onder die oordeel van die evangelie te plaas (v.5a) en dan ander te help om
dieselfde te doen (v.5b). Ons moet
natuurlik mense liefhê, maar ware liefde poog om mense te help om onder die
Woord van Christus te kom staan sonder om jou eie posisie op te gee of te
kompromitteer.
Monday, 7 April 2014
IS VREES ALTYD GELYK AAN ONGELOOF?
In 'n sin staan geloof reëlreg teenoor vrees, maar ons moet versigtig wees om nie die afleiding te maak dat vrees in my hart noodwendig gelyk is aan 'n sondige ongeloof nie. Die perfeksionisme wat leer dat die emosie van vrees nooit weer mag voorkom in dissipels nie doen meer skade as goed. Dit pak skuldgevoelens bo-op die vrees. Die probleem is nie die vrees in my hart nie, maar wat ek daarmee maak. Gee dit vir God (Heb. 4:14-16). Hy sê oor en oor vir ons in die Bybel "moenie vrees nie", juis omdat Hy weet dat ons broos is in hierdie gevalle wêreld. Hy wil hê ons moet ten volle steun op Sy onveranderlike liefde in Christus (1 Joh. 4:18; Rom. 8:31-39).
VREDE EN BLYDSKAP IN SWAARKRY
Hierdie is een van die groot temas in die Bybel. Gaan lees bietjie Heb. 11 aandagtig en
biddend deur. Maak seker dat jy die
werklikheid aanvaar dat dit die normale is vir dissipels van Jesus om moeilike
omstandighede te beleef in hierdie wêreld (Joh. 16:33). Glo absoluut dat dit God se wil is vir jou om
binne die omstandighede steeds vrede en blydskap te beleef (Rom. 14:17). Rus in die afgehandelde werk van Jesus deur
die “in Christus” verse in die NT jou eie te maak. Hou styf vas aan die kosbare beloftes van God
vir jou toekoms en die ewigheid saam met Christus (bv. Mt. 28:20). Laastens,
onthou dat moeilike omstandighede in ‘n dissipel se lewe altyd ‘n doel
het. Gewoonlik om ons harte te verruim
en ons te laat fokus op God se koninkryk en belange in hierdie gevalle wêreld
(bv. Mt. 28:19).
Wednesday, 2 April 2014
DIE STEM VAN DIE GOEIE HERDER
Sukkel jy om die stem van die Herder te hoor? Ondersoek jou hart en bring dit in lyn met
die volgende kenmerke van Sy Stem:
1. Dit is uit die
groot en liefdevolle hart van ‘n Vader.
2. Dit is in die Aangesig
van ‘n Seun (2 Kor. 4:6).
3. Dit is in die
kosbare en ononderbroke ademings van die Gees.
4. Dit is op die nou pad
van die Kruis, Nederigheid en Onderdanigheid.
5. Dit is in die
onskuldige kamers van ‘n rein en kinderlike Hart.
6. Dit is in die
Bybel; ondersoek, luister en bewe (Jes. 66:2)!
7. Dit is in die
moedige gange van Geloof.
8. Dit is in die
veilige plekke van die Liefde.
9. Dit is in die
helder gange van Hoop.
10. Dit is in die lieflike
Ryk van Barmhartigheid en Genade.
11. Dit is in die onversteurde grotte van Stilte.
12. Dit is in die tuine van volhardende Intersessie.
13. Dit is in die vriendelike oë, woorde en dade van nederige en gebroke mense.
14. Dit is in die Samekoms van gelowiges in Sy Naam, nie
hulle eie nie.
15. Dit is in die Manier wat Sy mense mekaar liefhet en
vergewe.
16. Dit is langs die lyne van wedersydse Onderdanigheid aan mekaar uit respek vir Christus.
16. Dit is langs die lyne van wedersydse Onderdanigheid aan mekaar uit respek vir Christus.
Sunday, 30 March 2014
VIR ‘N HART WAT KWYN
My hart het
diep gaan wegkruip
in 'n
winterbos,
maar soms so
ongemerk
kom skyn 'n
straaltjie van Gods liefde
weer die
woorde in my los.
Dis net die
Vaderliefde
wat kan skyn
en dieper
deurdring tot die pyn.
Dis net die
Seun se wonde wat so fyn
die salf kan wees vir 'n
hart wat kwyn.
Wednesday, 26 March 2014
DIE HEILIGE GEES SÊ "KOM KYK WEER"
As dit waar is dat die satan se grootste
strategie is om mense se oë te verblind sodat hulle tog net nie die heerlikheid
van Christus moet sien nie (2 Kor. 4:4), dan volg dit logies dat die 'stryd van
geloof' (1 Tim. 6:12) vir die dissipels van Jesus alles te make het met ons
heilige vasberadenheid om aan te hou om hierdie heerlikheid te aanskou (2 Kor.
3:18). Die eerste keer wat jy in die krag van die Gees die heerlikheid van
Jesus in die evangelie gesien het, het dit reddende geloof in jou hart wakker
gemaak en jou onomkeerbaar oorrompel. Nou wat jy 'n dissipel is, moet jy
presies net soos daardie eerste keer jou vreugde aanwakker en behou (Kol.
2:6). Jy moet bly by hierdie eenvoudige benadering tot die Christelike
lewe (2 Kor. 11v2-3). Die satan gebruik sorge, verleiding vd rykdom en
begeertes na ander dinge (Markus 4:19) om jou fokus skuif en jou te laat
wegsink in ongeloof of 'n sieldodende wettisisme met die doel om die lig van
die evangelie in jou lewe te verdoof en jou vreugde en liefde in Christus te
steel. Net so ook gebruik hy teleurstellings in jou verhoudinge in
jou gesin, familie, vriendekring, en gemeente om jou af te takel en moedeloos
te maak. Sodoende bring hy jou stelselmatig by 'n plek waar jy nie meer
'n vaste vertroue het dat die krag van die heerlikheid van Christus groter is
as al die teleurstellings en kragte en magte van satan nie. Hy wil hê jy
moet heeltemal ophou glo dat God se liefde in Christus oor al die negatiewe dinge
in die gevalle skepping kan triomfeer. Daarom is dit krities
belangrik dat jy sal luister na die Heilige Gees wat jou oor en oor, weer en
weer, en nog 'n duisend keer roep met 'n dringende appél "kom kyk
weer"! "Aanskou weer die heerlikheid van Christus."
Laat die Gees toe om Jesus weer en weer voor jou af te skilder (Gal. 3v1) op
tientalle maniere in die Woord totdat jou hart weer brand met die
vreugde van die evangelie en jy jou eie ongeloof en/of wettisisme oorwin het en
die liefde van Christus in jou kan deurbreek en begin om al die liefdeloosheid
rondom en binne jou te verslind. En terwyl jy lees, bid, bid en hou aan
bid vir openbaring (Efes. 1:15-17).
Thursday, 20 March 2014
ONUITSPREEKLIKE BLYDSKAP VIR EWIG
Omdat
die heerlikheid van Christus oneindig is, is die potensiaal vir menslike
vreugde oneindig. Dit is die hoofrede waarom
ons nie verveeld gaan raak in die hemel nie.
God het ons geskep om die heerlikheid van Christus ononderbroke te
aanskou en sodoende reflekteerders te wees van Sy heerlikheid (2 Kor.
3:18). Hierdie heerlikheid kan egter net
gereflekteer word deur ‘n blymoedige hart wat versadig is en dan oorloop van
die vreugde van die Here. Hoe lyk dit
met jóu hart?
“U sal my die pad van die
lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u
regterhand, vir ewig.” Ps. 16:11
“Vir
wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien
julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike
blydskap.” 1 Pet. 1:8
Sunday, 16 March 2014
WAT IS HEMEL VIR JOU?
In
sy boek “God is the Gospel” vra John Piper die vraag: “If you could have
heaven, with no sickness, and with all the friends you ever had on earth, and
all the food you ever liked, and all the leisure activities you ever enjoyed,
and all the natural beauties you ever saw, all the physical pleasures you ever
tasted, and no human conflict or any natural disasters, could you be satisfied
with heaven, if Christ were not there?” Sal jy tevrede wees met so ‘n volmaakte plek
vir ewig, maar sonder Christus? Wat is hemel
vir jou?
Thursday, 13 March 2014
JESUS EERSTE IN ALLES
Die
Bybel leer nie dat Jesus my eerste prioriteit moet wees, en dan volg my gesin,
die gemeente, my beroep, ens. nie. So
asof ek eerste aandag aan Jesus gee en dan het ek die vryheid om in ander domeins
van my lewe my eie ding te doen. Eerder
dat Jesus eerste in álles in my lewe moet wees.
Dit beteken dus Jesus is eerste en ten volle betrokke in my gesin, my
gemeentelewe, my beroepslewe, ens. Ek
het nie ‘n aparte godsdienstige lewe waar Jesus in beheer is en dan ander
lewens waar ek eintlik onafhanklik leef en maar net vir Hom vra om dit
asseblief te seën nie. Ek het net een
lewe, en dit is Christus (Kol. 3:4).
Sunday, 9 March 2014
THE HEART OF IDOLATRY
Man was created to find his joy in God in a uniquely intimate-personal
way and to thus reflect the glory of God throughout the universe for all
eternity. Therefore God commands us to “Delight
yourself in the Lord” (Ps. 37:4) and to “Rejoice in the Lord always” (Phil.
4:4). Anything less than ultimate joy in God, above all other enjoyments in your
life, is idolatry! The heart of idolatry is not that we fail to serve and obey
God, but that we do not find our ultimate joy in Him. Obedience is a fruit of joy in God. It is only as I behold the glory of Christ in
the gospel (2 Kor. 3:18) that joy in God increasingly becomes the heartbeat of
my entire life. Man was made to be a container and reflector of the infinite
beauty of God. But to do so without passion and joy would be the ultimate
insult to the glory of God, and would utterly defeat the purpose.
Wednesday, 5 March 2014
DIE HOË RISIKO VAN HAASTIGE OORDEEL
Konings, priesters,
skrifgeleerdes, geestelike leiers, politici, en selfs Sy eie familie het almal
vir Jesus van Nasaret verkeerd gelees. Vandag nog mis ons maklik Sy voetspore
en oordeel ons dikwels veels te vinnig in situasies. Uit tien haastige gevolgtrekkings oor mense
se motiewe en die waarheid van ‘n situasie is nege gewoonlik verkeerd. Pasop vir aannames! Jesus gee vir ons Goddelike insig hieroor en ‘n
opdrag om te gehoorsaam in Johannes 7 vers 24 “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar
oordeel ‘n regverdige oordeel.” “Do not form superficial judgements, but form the
judgements that are just." (Weymouth)
Subscribe to:
Posts (Atom)