Monday, 8 September 2014

DIE GEMEENTE WAT JESUS BOU

In Mattheus 16 vers 18 verklaar Jesus onomwonde dat Hy sélf sy gemeente sal bou.  Al maak Jesus gebruik van mense bou Hy sy gemeente só dat Hy en sy Vader die eer kry en verheerlik word.  Daarteenoor is die gemeentes wat mense bou gebaseer op die beginsel wat ons in Genesis 11 vers 4 sien, “kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak…”  Die 'church growth' beweging wat dikwels ‘n kwalik verskanste self-gesentreerde projek is om ons eie koninkryk te bou en ons eie naam populêr te maak, is 'n gruwel in die oë van die Here.  Een van die duidelikste toetse wat wys of dit Jesus of mense is wat 'n gemeente bou,  is die lojaliteit wat ons toon aan die denominasie of gemeentegroep teenoor lojaliteit aan Jesus en sy ware dissipels.  Die manier wat mense behandel word wanneer hulle gelei voel om na 'n ander groep te beweeg, is ‘n duidelike teken of dit ‘n gemeente is wat Jesus bou of ‘n gemeente wat mense bou.  Dit is maklik om lojaal teenoor mense te wees wat in jou eie groep is terwýl hulle 'in jou groep' is.  Die wêreld gee ook daardie soort erkenning en lojaliteit vir mekaar.    Die toets kom egter wanneer mense nie meer 'in jou groep' is nie.  In werklikheid is alle wedergebore mense tog wél deel van dieselfde Liggaam en dus van die gééstelike gemeente wat Jesus bou.  Juis daarom durf ons lojaliteit aan en liefde vir mekaar nooit beperk te wees tot 'n denominasie of kerkgenootskap nie.  Let wel, leiers wat in Jesus se voetspore volg, sal in hierdie verband die regte gesindheid by dissipels kweek.  Die wat dit nie doen nie wys sodoende hulle ware kleure.  Maak seker dat jy jou krag, energie en gawes belê in die soort gemeente wat Jesus bou. 

No comments:

Post a Comment