Tuesday 2 September 2014

REINHEID VAN HART EN RESPEK VIR ANDER

Dissipels met 'n rein hart in Christus vind dit nie moeilik om ander mense te dien en in die algemeen welwillend teenoor hulle op te tree nie.  Respek vir ander mense wat na God se beeld geskape is, vloei spontaan uit 'n rein hart.  Daarteenoor is 'n onrein hart 'n fabriek van disrespek teenoor ander. Iemand wat nie respek vir ander mense het nie bewys sonder twyfel dat hy dink hy is beter as ander. So 'n persoon verwag respek van ander mense, maar self wil hy dit nie gee vir ander nie.  Ons samelewing raak toenemend 'n plek waar mense net nie meer respek het vir mekaar nie.  Dinge soos vriendelikheid, gasvryheid, beleefdheid, goeie diens in die werksplek, bereidheid om werklik te luister na ander, om nie te gou te oordeel nie, jou woord te hou, nie ander mense lank te laat wag as julle 'n afspraak het nie, is alles tekens dat jy hulle respekteer.  Ons Vader verwag van ons om ander mense suiwer op grond van hulle skepping na Sy beeld en gelykenis te respekteer (Jak. 3:9).  As mense disrespekvol teenoor jóu optree, moenie die hoë grond in Christus en jou reinheid van hart in Hom opgee nie.  Neem die saak liewer na die Vader en kry wysheid by Hom.  

No comments:

Post a Comment