“Maar
julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete
en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie,
en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.“ Matt. 13:16-17
“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir
hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is
deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van
die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.” 1 Pet. 1:12
Ons het die onuitspreeklike voorreg om in die ‘aangename
jaar van die Here’ (Luk. 4:19) te leef. Vanuit God se perspektief is ons in die
era wat die ‘volheid van die tyd’ (Gal. 4:4) genoem word. God het sy Seun uit die hemel gestuur om ons
oë oop te maak. Die Vader het finaal en
volledig gespreek deur sy Seun (Heb. 1:1).
Ons het die Bybel in ons eie taal.
Ons kan vryelik lees en delf in die Woord en ons het ‘n inwonende Leraar
wat begeer om die dieptes van God vir ons te openbaar. “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en
in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom
liefhet. Maar God het dit aan ons deur
sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van
God.” (1 Kor. 2:9-10). Wedergebore mense het ‘n verstommende
geeskapasiteit om die dinge van God te verstaan en om onbeperk te groei in
begrip en insig m.b.t. die koninkryk van God.
Hoekom is dit dan dat gelowiges vandag so traak-my-nie-agtig is oor dit
wat in die hart van God leef oor Sy koninkryk en ons deel daaraan? Hoekom maak mense stellings soos: “nog ‘n
preek, lering of Bybelstudie, ai ek het al duisende gehoor en gedoen!” Hoekom stel baie gelowiges dikwels min belang
in enige lering wat nie hulle “eie lewe” prakties raak en dan sogenaamde “praktiese
hulp” vir hulle kan bied nie? (Let wel
die Bybel gee wel baie praktiese lering oor die toepassing van ons rykdom in
Christus en praktiese voorbeelde help ons dikwels om beter te verstaan. Daar is dus geldige vrae oor die
praktyk. Dis nie waarna ek hier verwys
nie.). Is dit omdat ons so baie dinge
het wat ons vermaak en ons aandag aflei dat ons nie ‘n honger het vir
geestelike insig nie? Is dit omdat daar dalk baie “gelowiges” is vandag wat nie
werklik wederbaar is nie, en daarom nie ‘n aptyt vir die dinge aangaande die
Koning en Sy koninkryk het nie? Is dit
omdat ons geestelike peil so geweldig laag is vandag? Miskien soek ons net wonderlike geestelike “ervarings”
of dink ons dat lering en dieper insig grotendeels ‘n mors van tyd is en dat
ons liewer moet uitgaan en ‘n verlore wêreld gaan bedien? Is dit dalk omdat ons met baie van ons
onskriftuurlike kerktradisies die Bybel die domein gemaak het van predikers,
teoloë en die sogenaamde “slimkoppe” onder ons? Is dit omdat ons te trots of bang is om te sê ‘ek weet nie, leer my asseblief’? Of
dalk te lui en “unteachable” om te leer en nou vaar ons maar uit teen ander wat
delf in die Woord, want dis makliker as om te erken ons wil nie die moeite doen
om self die Woord te begin ondersoek nie?
Dalk het ons ‘n heel verkeerde idee oor die doel van Bybelse kennis en insig
en sien ons dit as ‘n middel tot die wen van debatte teen gelowiges wat anders
dink as ons? Of is dit omdat ons nie verstaan dat Bybelse kennis nie in die eerste
plek ‘n kopkennis is nie, maar ‘n verhoudingskennis wat die Heilige Gees deur
openbaring skenk aan die wat ‘n honger het vir die dieptes van God? Die saak onder bespreking is nie een of ander
teoretiese “pie in the sky” nie, maar is krities belangrik vir die mense van
God. Wat sou die rede(s) wees vir die huidige
stand van sake? Wat dink julle?