Tuesday, 3 June 2014

‘N OMGEDOPTE GENADEBOODSKAP

Daar is ‘n boodskap oor genade en geregtigheid wat vandag verkondig word, wat net mooi die teenoorgestelde is van Bybelse genade.  Hierdie boodskap leer dat God deur die evangelie mense in hulleself sterk maak om te kan heers, oorwin, en wen in hierdie lewe.  Dit leer dat ons as’t ware onafhanklike bemagtigdes in Christus is en dat ons vanuit hierdie identiteit en posisie beheer kan neem oor negatiewe omstandighede.  Dit leer dat ons hierdie ‘vryheid’ ontvang het om nou met outoriteit situasies en omstandighede aan te spreek en kan beveel om te buig voor ons woorde en uitsprake.  Dit is net naby genoeg aan die waarheid om menigtes baie subtiel te mislei.  Bybelse genade is egter altyd iets wat uitgestort word vir die wat in totale swakheid en afhanklikheid in Christus voor God staan en in geloof alles ontvang wat Hy in sy Seun goedgunstiglik vir ons skenk.  Die deurbrake wat God gee in omstandighede is altyd “uit Hom, deur Hom, en tot Hom” (Rom. 11:36) en dit word gegee aan gebrokenes wat uit swakheid krag ontvang.  Dit is ook nie ‘n verskoning vir mislukking en mismoedigheid nie, maar juis die sleutel tot ware oorwinning.  Dit is in lewe, woord, daad, en werklikheid “nie ek nie, maar Christus” (Gal. 2:20).  Pasop vir “nagemaakte genade”!   Dit is ‘n baie algemene produk op die godsdiensmark vandag en dit word ‘verkoop’ teen afslagpryse.  Ware genade is verniet, maar dit kan net ontvang word deur mense wat niks in hulle hande het nie en as leë houers vanuit volheid in Christus leef.  Laat ons ook diegene wat afgedwaal het met liefde, dog met erns, teruglei na die paaie van ware genade.  Daar is baie wat met alle opregtheid onder die invloed van hierdie verdraaide boodskap beland het, maar wat met liefde en gebed dringend gehelp moet word om weer “gesond in die geloof” te wees.  

1 comment: