Thursday, 5 June 2014

ENGELE WIL GRAAG WEET, MENSE TOON MIN BELANGSTELLING

“Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.  Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.“ Matt. 13:16-17 

“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”   1 Pet. 1:12 

Ons het die onuitspreeklike voorreg om in die ‘aangename jaar van die Here’ (Luk. 4:19) te leef. Vanuit God se perspektief is ons in die era wat die ‘volheid van die tyd’ (Gal. 4:4) genoem word.  God het sy Seun uit die hemel gestuur om ons oë oop te maak.  Die Vader het finaal en volledig gespreek deur sy Seun (Heb. 1:1).  Ons het die Bybel in ons eie taal.  Ons kan vryelik lees en delf in die Woord en ons het ‘n inwonende Leraar wat begeer om die dieptes van God vir ons te openbaar. “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” (1 Kor. 2:9-10).  Wedergebore mense het ‘n verstommende geeskapasiteit om die dinge van God te verstaan en om onbeperk te groei in begrip en insig m.b.t. die koninkryk van God.  Hoekom is dit dan dat gelowiges vandag so traak-my-nie-agtig is oor dit wat in die hart van God leef oor Sy koninkryk en ons deel daaraan?  Hoekom maak mense stellings soos: “nog ‘n preek, lering of Bybelstudie, ai ek het al duisende gehoor en gedoen!”  Hoekom stel baie gelowiges dikwels min belang in enige lering wat nie hulle “eie lewe” prakties raak en dan sogenaamde “praktiese hulp” vir hulle kan bied nie?  (Let wel die Bybel gee wel baie praktiese lering oor die toepassing van ons rykdom in Christus en praktiese voorbeelde help ons dikwels om beter te verstaan.  Daar is dus geldige vrae oor die praktyk.  Dis nie waarna ek hier verwys nie.).  Is dit omdat ons so baie dinge het wat ons vermaak en ons aandag aflei dat ons nie ‘n honger het vir geestelike insig nie? Is dit omdat daar dalk baie “gelowiges” is vandag wat nie werklik wederbaar is nie, en daarom nie ‘n aptyt vir die dinge aangaande die Koning en Sy koninkryk het nie?  Is dit omdat ons geestelike peil so geweldig laag is vandag?  Miskien soek ons net wonderlike geestelike “ervarings” of dink ons dat lering en dieper insig grotendeels ‘n mors van tyd is en dat ons liewer moet uitgaan en ‘n verlore wêreld gaan bedien?  Is dit dalk omdat ons met baie van ons onskriftuurlike kerktradisies die Bybel die domein gemaak het van predikers, teoloë en die sogenaamde “slimkoppe” onder ons?  Is dit omdat ons te trots of bang is om te sê ‘ek weet nie, leer my asseblief’?  Of dalk te lui en “unteachable” om te leer en nou vaar ons maar uit teen ander wat delf in die Woord, want dis makliker as om te erken ons wil nie die moeite doen om self die Woord te begin ondersoek nie?  Dalk het ons ‘n heel verkeerde idee oor die doel van Bybelse kennis en insig en sien ons dit as ‘n middel tot die wen van debatte teen gelowiges wat anders dink as ons?  Of is dit omdat ons nie verstaan dat Bybelse kennis nie in die eerste plek ‘n kopkennis is nie, maar ‘n verhoudingskennis wat die Heilige Gees deur openbaring skenk aan die wat ‘n honger het vir die dieptes van God?  Die saak onder bespreking is nie een of ander teoretiese “pie in the sky” nie, maar is krities belangrik vir die mense van God.  Wat sou die rede(s) wees vir die huidige stand van sake?  Wat dink julle?


No comments:

Post a Comment