"Want by U is die
fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Ps. 36:10
"In Hom was lewe, en die
lewe was die lig van die mense." Joh. 1:4
"En Jesus het weer met
hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik
nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê." Joh.
8:12
Ons is almal met dubbele
blindheid gebore. Nie net het ons blindekolle wat hardnekkig saam met ons loop
op die lewenspad nie, maar ons is ook sonder uitsondering blind vir ons eie
blindekolle. Ja sekerlik kan ons in oomblikke van ongewone eerlikheid en
deursigtigheid met 'n kwalik verskanste self-bewustheid 'n mate van erkenning
gee aan die areas van ons karakter wat so onverklaarbaar ons 'perfekte self-oordeel'
onstnap het. Maar wanneer die lig van Christus deur die krag van die Gees 'n
slag ons binnewêreld ordentlik verlig, moet ons erken dat ons eintlik maar
amper totaal blind is vir ons eie blindekolle. Op die grond en sterkte van die
nuwe geboorte in Christus bring ons hemelse Vader stadig maar seker deur die
Gees van Christus vir ons 'n ware visie van ons inherente blindheid vir ons eie
blindekolle? Hoekom is dit nodig? Kan ons nie maar net leer van ons nuwe
identiteit in Christus nie? Nee. Ons Vader is te lief vir ons om ons te laat
leef in die waan van self-misleiding wat kleef aan alle vlees op hierdie
gevalle planeet. Hy wil ons speen van álle self-vertroue sodat ons in
wérklikheid kan leef uit ons nuwe identiteit in Christus, sonder 'n vermenging
van die ou en die nuwe. Slegs dan breek die krag van die nuwe skepping volledig
deur in die helder lig van God se heerlikheid en kan ons al die kosbare
beloftes van God in Sy Seun waarlik in besit neem. As ons hierdie waarheid glo en
onvoorwaardelik omhels, sal dit nie net in ons eie lewe en verhoudings radikale
veranderings inlui nie, maar dit sal ook 'n rewolusie in ons gemeentes teweeg
bring.
No comments:
Post a Comment