Petrus die ingenieur-dissipel is die lig by sy werk. Martha die huisvrou-dissipel is die lig in
haar huis en buurt. Jannie die
skolier-dissipel is die lig by sy skool.
Die lig is nie iets daar buite iewers of iets wat deur een of ander
kerklike institusie aangeskakel kan word nie.
"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n
berg lê, kan nie weggesteek word nie." Mattheüs 5:14
Die lig van God op hierdie aarde is die lewe van Christus in
elke ware dissipel. Die dominee, pastoor of apostel ís nie die lig nie. Hulle hét ook net die lig as hulle werklik
wedergebore is. Die kerkgebou is nie die
lig nie. Die kerkraad is nie die lig
nie. Die byeenkoms van gelowiges gee lig
vir die wat dit bywoon, maar dit ís nie die enigste lig nie. Die Bybel bevat
die lig, maar daardie lig moet in ons lewens neerslag vind.
Jesus was die lig op hierdie aarde tydens sy lewe hier twee
duisend jaar gelede, maar nou is die lig in die gemeente omdat ons Jesus in ons
het. Nou bring God lig op aarde deur
miljoene lede van die liggaam van Jesus.
"En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom
as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid
van Hom wat alles in almal vervul." Efes. 1:22
Die Lig het in jou kom woon die dag wat jy wederbaar is deur
die Gees van God. Die Lig skyn deur jou
soos wat jy in geloof oorgee aan die Lewe van Jesus in jou sodat Hy gevorm kan
word in jou (Gal. 4:19).