"En mag die God van die hoop julle vervul met alle
blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop
deur die krag van die Heilige Gees!" Romeine 15:13
Hierdie vers in Romeine gee vir ons die sleutel tot 'n
oorwinnende lewe in Christus. Hoop is nie iets wat ek in myself kan opwek of
wat ek deur positiewe denke uit dun lig kan produseer nie. Hoop is iets wat ek
ontvang van Hom wat genoem word "die God van die hoop" wanneer my
geloof in Jesus groei en sterker word. En op sy beurt kan geloof net sterker
word wanneer ek die Woord ruimte gee in my binneste deur dit te lees en bepeins
(Rom. 10:17).
Dit is net op hierdie punt in my lewe as 'n dissipel wat die
wonderlike siklus van heerlikheid as't ware geaktiveer word deur die Vader
self. Deur geloof vul die Vader my innerlike mens met blydskap en vrede en dit
lei altyd tot 'n oorvloedige en groeiende hoop deur "die krag van die
Heilige Gees". Hierdie heerlike hoop lei dan weer onvermydelik tot groter
geloof en die hele proses begin van voor af. Ons eenheid met Christus is
"die hoop van die heerlikheid" (Kol. 1:27) en hierdie heerlikheid
neem toe soos wat ons geloof in ons identifikasie met Christus toeneem (2 Kor.
3:18b) en ons sien dat ons toekoms onlosmaaklik verbind is aan Syne! Om op te
som: die openbaring van Christus lei tot geloof wat vrede en blydskap soos 'n
fontein in my binneste oopmaak en hierdie fontein se vars waters bring 'n
immer-groeiende hoop. G'n wonder dan dat die Bybel leer dat die regverdige se
hele lewe op hierdie aarde gebaseer is op geloof nie (Rom. 1:17b)!
No comments:
Post a Comment