Ons moet versigtig wees om nie gehoorsaamheid en kennis
teenoor mekaar te stel nie, want ons kennis van die Woord is bedoel om groter
gehoorsaamheid te bring en onwilligheid om te groei in kennis is op sigself
ongehoorsaamheid. Maar dit is tog ook so
dat ons soms so 'n soeke het na kopkennis, of 'n nuuskierigheid oor wat ons nie
verstaan in die Bybel nie, dat ons nalaat om dit wat reeds vir ons duidelik is
te gehoorsaam. In ons daaglikse lewe in
die gesin en by die werk is daar baie situasies wat net kinderlike
gehoorsaamheid in die krag van die Gees verg om groot deurbrake van God te
bring. Moenie dat jou frustrasie oor dinge
wat jy nog nie verstaan nie jou beroof van die oorvloedige geestelike lewe wat hier
en nou in Christus beskikbaar is nie. Romeine
10 vers 8 sĂȘ die Woord is naby jou "in jou mond en in jou hart". Christus leef in die ware dissipel. Hy is teenwoordig in elke situasie!
Gehoorsaam dit wat jy klaar verstaan in terme van God se wil
vir 'n situasie en vertrou die Here om jou met verloop van tyd insig te gee oor
die res, soos wat jy geestelik groei.
Kennis, insig en begrip is iets wat die Here bonatuurlik vir ons skenk
soos wat ons getrou die Bybel lees en bestudeer en dit gehoorsaam wat ons reeds
verstaan.
"Want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en
verstand." Spreuke 2:6
No comments:
Post a Comment