"En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar
word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat
die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is." Romeine 12:2
As 'n dissipel van Jesus is jy reeds vergewe en gereinig
deur die eenmalige offer van Jesus se liggaam aan die kruis (Heb. 10:10), maar
Paulus sê hier in Romeine 12 dat ons almal nodig het om gedurige verandering te
ondergaan as ons geestelik wil groei. Hierdie verandering kan net op een
manier plaasvind en dit is deur die vernuwing van ons denke.
Die
vernuwing van ons denke is nie net formele of geroetineerde Bybelstudies of 'n
teoretiese kennis van teologie wat mooi verpak en verseël is in 'n sistematiese
kursus nie. Dit is nie net die Bybel in jou hand nie, maar die Woord in jou
hart. Dit is die dinamiese lering van die Heilige Gees in jou daaglikse wandel
soos wat jy jou denke absoluut onderwerp aan die Woord van God. Die evangelie
is rewolusionêr, radikaal en heeltemal anders as enigiets wat ons ooit sou kon
uitdink. Daarom moet ons gedurig toelaat dat die Heilige Gees ons leer en ons
help om ons eie idees oor dinge te laat vaar sodat ons God se bevrydende
siening kan omhels. Dit is 'n daaglikse "oefening" vir die dissipel
en dit is onuitspreeklik kosbaar en waarlik lewensveranderend.
No comments:
Post a Comment