"En wandel in liefde,
soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur." Efesiërs 5:2
Wandel in liefde. Hoe?
Soos Christus.... Ons behoort
nooit die woord "liefde" in die Bybel te lees sonder om aan die kruis
van Jesus Christus te dink nie. Dit is een van die grootste dwalinge van ons
tyd. Ons het 'n sentimentele idee van
liefde en ons eie sieninge, gevoelens en opinies oor liefde tas dikwels die Bybelse
gebruik van die woord aan en verdraai dit tot op die punt waar dit onherkenbaar
is in vergelyking met die Bybel.
Die kruis is die verskriklike
plek waar God se siening van liefde gedemonstreer is. Dit is die plek waar Jesus sterf vir verlore
rebelle, maar dit is ook die plek waar verlore rebelle sterf saam met Christus
en sodoende leer wat liefde werklik is.
Daar is nie liefde sonder dood in die Bybel nie. Jesus sterf en wys so vir ons wat God se
liefde behels. Ek en jy sterf saam met
Hom om vir ander te wys wat liefde is.
"Ons het
lief omdat God ons eerste liefgehad het."
1 Johannes 4:19 (NAV)
" ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle
liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." Johannes 13:34 (OAV)
Liefde is 'n groot woord in
die Bybel. Dit is nie goedkoop nie. Mense wat nie hulle sterwe saam met Christus
(Gal. 2:20) wil omhels nie moet eerder nie die woord gebruik nie. Regtig nie.
Ek is dodelik ernstig.
Ek wil jou vandag nederig vra
om nie die woord "liefde" goedkoop te maak in jou gesprekke oor en
omgang met die Bybel nie. Dink oor die
implikasies. Dit het Jesus se dood gekos
en vra ook joune saam met Hom as jy wil liefhê soos wat God liefhet. 'n
Generasie wat die liefde van die kruis wil opeis, maar nie die liefde deur 'n
gekruisigde lewe wil uitwys nie staan op baie dun ys. Ons is waarskynlik almal tot een of ander
mate beïnvloed deur die populêre idee van liefde vandag en het 'n goeie wassing
van die Woord nodig in hierdie area.
No comments:
Post a Comment