"Nie dat ons heers
oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die
geloof staan julle vas." 2 Korinthiërs 1:24
Dit is werklik verstommend om te sien dat selfs die apostels wat die
Nuwe Testament geskryf het nie probeer het om in te dring in die heiligdom van
die dissipel se persoonlike geloof in Jesus nie. Ons leef in 'n dag waar hedendaagse apostels
en baie predikers en leraars sonder om te skroom instorm in daardie heilige
plek van die individu se hart en dissipels dan met groot bravade meesleur in
die illusie dat die apostel of leraar se geloof hulle kan dra en vrymaak. Dit
is 'n reuse mistasting en ongelukkig so algemeen vandag dat die meeste mense nie
eers dink daaraan om dit te bevraagteken nie.
Die waarheid is dat ander se geloof jou nooit werklik kan vry maak en vir
jou volkome vreugde in Christus kan bring nie.
Ander dissipels en bedienaars se geloof kan jou stimuleer en kragtig
inspireer om self die heilige grond van jou hart met geloof te bearbei, maar
niemand op hierdie aarde kan ooit vír jou glo of 'n substituut wees vir jou eie
intimiteit met God nie. Vir hierdie rede
leer Paulus dat die essensie van ons dissipelskap juis ons eie omgang met die
Woord en ons eie geloofsoortuiging is, en dit des te meer wanneer daar nie
ander dissipels of bedienaars by ons is nie.
"Daarom, my
geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid
alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met
vrees en bewing." Filippense 2:12
Dit is juis wanneer ons met ons eie hart en hande die heilige waarhede
van die evangelie hanteer dat ons groei en sterk word in Christus. Anders bly ons afhanklik van ander se geloof
en is ons ervaring van God ook tweedehands.
God nooi jou vandag uit om op te staan in jou eie geloof sonder vrees of
twyfel, want dit is Hý wat persoonlik en intiem werk in elke dissipel se hart. Dieselfde God wat vir Paulus, Petrus en
hedendaagse geloofshelde stap vir stap gelei het, leef ook in jou as jy
wederbaar is deur die Gees van God.
Staan op en glo! Hy leef in my,
Hy werk in my, Hy wag vir my persoonlike respons op Sy Goddelike aktiwiteit in
my binneste (Fil. 2:13).
No comments:
Post a Comment