Monday, 21 November 2016

WEES 'N STEM VIR DIE WAT NIE EEN HET NIE

"Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek..." Jakobus 1:27 

'n Skrywer wat self 'n weeskind was sê in een van sy boeke dat alle kinders soos dryfhout is wat rondgeslinger word deur die eb en vloei van volwassenes se lewens.  Dit is ongelukkig so en in die geval van 'n mens se eie kinders word jy hopelik deur die Woord en Gees van God gelei om met groot vrees en bewing daardie kosbare lewe, of lewens, te rig wat aan jou toevertrou is.  Baie weeskinders het egter nie die voorreg om sulke ouers te hê nie en is dikwels oorgelaat aan 'n maatskaplike sisteem wat nie deeglike wigte en teenwigte ("checks and balances") het of neutrale oorsig oor wat daar gebeur nie en wat soms skreiend teen die sogenaamde "beste belang van die kind" optree.  Die geskiedenis vertel vir ons baie welsprekend uit duisende monde van sulke kinders wat nou volwassenes is, wat die "sisteem" met hulle gemaak het.

Jou eie kinders het stemme omdat jy hulle toelaat om te praat en vertel wat in hulle harte aangaan.  Hulle kan sonder vrees sê wat hulle bly en hartseer maak en hulle kan hulle lewensvrae vra.   So leer jy hulle om die lewe reg te hanteer.  Weeskinders kom egter baie gou agter dat hulle nie stemme het nie en maar vinnig moet leer om saam met die stroom van grootmens-besluite te swem ongeag hoe onregverdig, en in baie gevalle wreed, daardie besluite mag wees.  Vergete, onsigbaar en stemloos beweeg baie van hulle deur die kinderjare en leer maar om te oorleef.

Maar God gee om en Hy verwag van ons om ons oë oop te maak en waar ons kan in ons invloedsfeer vir daardie kinders 'n stem te wees wat hulle nie self het nie.  Of dan ten minste die nood raak te sien en te begin bid daarvoor.  Anders wat beteken hierdie vers in Jakobus dan?  Is dit vir ons maar net 'n mooi godsdienstige versie wat ons op 'n Sondag vroom aanhoor?  Ons Almagtige God se onomstootlike uitspraak is dat "reine godsdiens" beteken dat ek weeskinders begin raaksien en iets prakties doen om te help.  Daar is na beraming 3.7 miljoen weeskinders in Suid Afrika en ongeveer 150 000 kinders wat in huishoudings is waar hulle ouer boeties of sussies die rol van pa of ma moet vervul, want daar is nie 'n volwassene in die huis nie.


Dit mag selfs beteken dat God my gesin lei om 'n kind aan te neem en vir daardie kind met tasbare liefde te demonstreer dat daar 'n Skepper en Vader is wat omgee vir wese.  'n Vader wat vir hulle 'n stem wil gee sodat hulle geestelik, emosioneel en verhoudingsgewys reg kan ontwikkel en by gesonde en volwasse menswees kan uitkom.  Wat sê die Heilige Gees vir jou oor hierdie saak?  

No comments:

Post a Comment