Alles wat ons nodig het,
is in Jesus. Ons is in Hom en Hy is in
ons. In Hom het ons volle toegang tot al
die bedieninge van die Heilige Gees. Deur
Sy bloed en geregtigheid het ons vrye gemeenskap met die Vader. In Hom is ons ook een met alle ander mense
wat deur die wedergeboorte in Hom is (1 Kor. 1:30).
Terwyl ons Sy heerlikheid
aanskou groei ons geestelik en word ons meer en meer soos Hy, soos wat Hy in
ons gevorm word (2 Kor. 3:18; Gal. 4:19).
Christus is ons fokus en Sy karakter in ons gevorm is die doel. Ons lees ons Bybel en vertrou die Heilige
Gees om Jesus daarin te openbaar. So volg ons Jesus in gehoorsaamheid aan Sy
wonderlike werkinge in ons deur Woord en Gees.
Dit is die eenvoud van die lewe van 'n dissipel en ook die eenvoud van
gemeentelewe. Tensy ons natuurlik ons fokus en doel uit die oog verloor en op
sypaadjies begin stap. Dan raak
gemeentelewe gekompliseerd en beland ons in die doolhof van die self-lewe,
dogmatisme, geestelike hoogmoed, kerkisme, dooie tradisie, ritualisme, wettisisme,
ensovoorts.
Satan weet baie goed dat
ons oorwinning slegs in 'n radikale Christus-fokus is en daarom doen hy alles
in sy vermoë om ons te beroof van die eenvoud van 'n totale fokus op Hom en volle
vergenoegdheid in Hom (2 Kor. 11:2-3). Hy
pas sy misleidings aan vir maksimum effektiwiteit ooreenkomstig die spesifieke individu,
groep of gemeente wat hy wil mislei. Sy doel bly egter altyd dieselfde en dit
is om ons subtiel weg te lei van vervulling in Christus en dan vanuit ons onvergenoegdheid
aan ons allerhande alternatiewe vervullings te verkoop.
"Totdat ons almal
kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man,
tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en
heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die
mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons
in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is,
naamlik Christus." Efesiërs 4:13-15