In 'n breë sin kan 'n mens sê God het ons verlos sodat Hy
ons kan bevry om ons dan oorwinning te gee in verskillende situasies en omstandighede
"tot lof van die heerlikheid van sy genade" (Efes. 1:6a).
Streng gesproke vind verlossing en bevryding terselfdertyd
plaas, met ons wedergeboorte, maar ek wil graag die term bevryding spesifiek
gebruik om ons aandag te fokus op ons bevryding van die wêreld (Egipte) en die
vlees. As ons kyk na Israel se reis van Egipte tot in Kanaän as 'n voorbeeld
van God se verlossingsplan vir al sy mense (1 Kor. 10:1-13; Heb. 3:5-4:13) sien
ons dat die eerste fase van God se plan was om Israel te verlos uit
Egipte. Die tweede fase van Sy plan was
om Egipte uit die Israeliete se harte te kry, m.a.w. bevryding ván Egipte. En die derde fase van Sy plan was om die
Israeliete in te neem in Kanaän sodat hulle daar die ander nasies kon oorwin om
sodoende hulle erfenis in besit te neem.
In die eerste fase, die trek uit Egipte, deur die Rooi
See en tot in die woestyn, is ons veronderstel om ons identifikasie en eenheid
met Christus te verstaan. Ons verlossing en geregtigheid is net in Hom. In die tweede fase, ín die woestyn, word ons
getoets en as ons in geloof volhard word ons proefondervindelik bevry van die wêreld
en die vlees. In hierdie fase word
Christus in ons gevorm (Gal. 4:19). In
die derde fase, oor die Jordaan en die inneem van Kanaän, wil Christus deur ons
oorwinning op oorwinning vir ons skenk oor allerhande praktiese situasies in
ons daaglikse lewens. Hierdie oorwinnings het primêr te doen met ons missie in
die wêreld, dw.s. om dissipels te maak van die nasies (Matt. 28:18-20).
Van
die hele generasie wat uitgetrek het uit Egipte het net Josua en Kaleb die
beloofde land binnegegaan. Dit is veronderstel om ons aandag te gryp en te hou
sodat ons wakker kan skrik en kan besef dat presies dieselfde met ons kan
gebeur as ons nie volhardende geloof het soos Josua en Kaleb gehad het
nie. Laat my asseblief toe om weer jou
aandag te vestig op die twee gedeeltes in die Nuwe Testament (1 Kor. 10:1-13; Heb. 3:5-4:13) waar
ons gewaarsku word om nie in ons geloof en volharding te faal soos daardie
generasie gefaal het nie.
Waar
staan ons met gemeentelewe vandag in ons generasie? Verstaan ons werklik ons identifikasie en eenheid
met Christus? Word ons addisioneel deur
predikante en leraars opgeroep om die toetse van heiligmaking in die woestyn in
geloof deur te kom sodat ons voorberei kan wees vir oorwinning in Kanaän. En laastens, probeer ons net oorleef vir
"ons vier en ons dier" in die woestyn van hierdie wêreld of het ons
aandag al geskuif buite onsself na die verlore mensdom en die werk van die
koninkryk van God in en vir ons generasie?
Oordeel
self. Waar staan ek en jy en waar staan
ons gemeentes? Hierdie is nie ligtelike
sake nie, maar die dodelike erns van die Bybelse boodskap oor die verlossing of
ondergang van hele generasies van mense op ons planeet.
No comments:
Post a Comment